|
|
 |
Letters - Briewe |
 |
 |
|
Is raadslede bevoeg om Paarl te bestuur? |
|
|
 |
|
 |
EK is betrokke by 'n private praktyk in die Paarlse middedorp. Dit raak vir ons al meer problematies om eerstewêreldstandaarde te handhaaf te midde van 'n vuil, vervalle derde wêreld.
Die agteruitgang van ons middedorp plaas 'n vraagteken oor die bevoegdheid en toewyding van die raadslede om Drakenstein Munisipaliteit in belang van sy mense te bestuur.
* Ons en ons kliënte se veiligheid, menswaardigheid en privaatheid word bedreig.
* Terwyl ons laat middae ons professionele dienste probeer lewer, veg en skel die straatmense al wie die aand op die stoep gaan deurbring.
* In die oggend moet ons natuurlik hul rommel soos sigaretstompies, wynbottels en ontlasting opruim. Die vieslike, vuil toestande is baie onaangenaam en 'n groot gesondheidsrisiko.
* As belastingbetaler swig ons voor die eskalerende onkoste vir water (die wyer gemeenskap tap na hartelus water op ons onkoste).
* Die waarde van ons eertydse primageleë besigheidsperseel se waarde devalueer by die dag. Munisipale vullisverwydering kry nie die terrein naastenby opgeruim nie.
* Riolering is 'n klug, want die straat is ons woning en enige plek ons toilet.
* Nogtans word ons as werkgewers swaar belas, ook deur die Boland Streeksdiensteraad, om daagliks gekonfronteer te word met besope werkloses vol dagga, wat verhewe beweeg bo die wet.
Ja, ons kan die eiendom omhein, maar is dit op die lang duur 'n bevredigende oplossing vir 'n groter wordende maatskaplike probleem?
Een van die probleme is Wamakersplein (agter Pick 'n Pay), wat toegangsbeheer benodig. Die transformator dien as sorteerplek vir kartonne en daar word selfs daar vuur gemaak.
Die sentrale sakesektor kan groot baat vind by die opgradering van die infrastruktuur, formele werkskepping, beter beheer en deeglike bestuur van die middedorp.
Die Paarl het veel te bied vir sy plaaslike mense, sowel as toeriste.
Maar as hierdie probleme nie daadwerklik aangespreek word nie, loop ons die risiko om die ekonomie dood te bloei, wat die probleem van werkloosheid net sal vererger. Gee ons raadslede om?
Paarliet |
 |
|
 |
 |
|
Insleepdiens se optrede was baie vreemd |
|
|
 |
 |
|
EK verwys na die onlangse brief oor insleepdienste waarin gekla is dat Boland Towing vir 'n kliënt R1500 gevra het om sy motor in te sleep oor 'n afstand van 4 km.
Hoewel die eienaar van Boland Towing in sy reaksie verklaar dat sy tariewe nie buitensporig is nie, en binne die bestaande riglyne is, verskil ek van hom.
Die bedrag van R1500 word deur die versekering uitbetaal indien die motor by 'n ongeluk betrokke was, maar in die betrokke geval het die motoris slegs probleme met sy wiel gehad.
Ek hoop vir die motoris se ontwil dat sy versekering bereid was om dié bedrag van R1500 te dek, want die meeste insleepdienste sou hom vir R250 gehelp het.
Dit is vir my ook vreemd dat die insleper dit onmoontlik gevind het om vir die motoris op die toneel te sê wat sy "diens" sou kos, veral aangesien dit na ure bra moeilik sou gewees het om "by die kantoor" uit te vind.
Verbaas |
 |
 |
|
Inkopies in die Paarl is 'n hellevaart |
|
|
 |
|
|
|
 |
EENDAG lank, lank gelede was daar 'n pragtige Bolandse dorp met historiese ou huise, boomryke strate, 'n ware toeristeparadys en kinderhemel met goeie skole waar jou kind nog veilig in die straat kon rondloop.
Bars die borrel! Vandag se inwoners bevind hul in 'n doolhof van probleme wat hulle moet trotseer. 'n Dood-onskuldige inkopietog verloop min of meer so:
* Soek 5-10 minute tevergeefs na parkeerplek. Parkeer motor in parkeerplek wat jy self gesien het, maar word bestorm deur karoppassers, karwassers, vrugteventers en ander entrepreneurs, bedelaars, straatkinders en ander hulpbehoewendes.
* Weier hoflik enige dienste, karoppasser pleit doofstom, en laat naamkaartjies onder ruitveër, karwassers skel en vloek mekaar en boek die motor deur die ruitveërs op te lig.
* Bedank groente, vrugte, besems en ander ware op sypaadjies. Word gekonfronteer met reuk van urine en ander afval.
* Betree winkels, voltooi inkopies relatief vreedsaam. Word by geldlaai gekonfronteer met straatmense wat jou probeer oortuig om vir hul vis en brood te betaal.
* Stoot trollie na motor. Word oorval deur kinders wat die trollie wil stoot, vra-geldjie-virre-broodjie, en 'n koor van ander redes om jou van jou geld te vervreem.
* Pak inkopies in bagasiebak, terwyl jou baba begin skree en jy jou handsak en selfoon probeer beveilig. Word oorval deur aasvoëls, betaal motorwassers en karoppassers te ruim by gebrek aan kleingeld en uit vrees vir jou veiligheid.
* Klim moeg, moedeloos, geïrriteerd en gefrustreerd in jou motor. Kan nie deur die voor- of agterruit sien nie, weens die vuil-lap-vaal-strepe.
* Probeer in trurat terugry terwyl die hele OAE in tale praat en beduie.
* Stop by die volgende besigheid om deur dieselfde nagmerrie te gaan.
Nee, 'n duisend keer nee! Ek hoef nie daagliks aan hierdie hel blootgestel te word nie! Ek kan kies waar ek my swaarverdiende geld spandeer en veilig voel as ek gaan inkopies doen.
Ek word ook beskerm deur die grondwet. Is my ondervinding uniek?
Lady Grey |
 |
|
|
|
 |
 |
|
Hierdie mense is 'n spul bedrieërs |
|
|
 |
|
 |
EK wil lesers van die Paarl Post waarsku teen 'n skelmstreek wat al verskeie mense plaaslik duur te staan gekom het - mense wat dit nie kan bekostig om hul swaarverdiende geld so te verloor nie.
'n Advertensie verskyn gereeld in die pers waarin mense hoor dat hulle vir duisende dollars per maand kan gaan vis pak in Alaska, op 'n skip of olieboor kan gaan werk, of wat ook al.
Wanneer jy bel, hoor jy dat jy R450 moet betaal vir die handboek met die adresse en telefoonnommers van die oorsese firmas wat die werk aanbied.
Dan moet jy ten duurste self verder oorsee bel om jou eie reëlings te tref, en dan moet jy nog 'n visum verkry (R1000) en tot R20 000 vir jou vliegtuigkaartjie betaal.
Intussen is daar baie agentskappe in Kaapstad wat al gekonfyt is om hierdie taak vir jou uit te voer, maar die arme onkundige drommels in die Paarl weet dit nie.
Nou is daar mense wat die handboek gekoop het en daarmee loop en mense werf om (glo dit of nie) vir R450 "in Alaska" te gaan werk.
Daar word vir hulle vertel hierdie bedrag sal vir hulle die visum verkry, waarna hulle "kosteloos" oorsee kan vlieg, want die werknemer in Alaska of waar ook al sal die vliegtuigkaartjies "van hul salaris aftrek".
Later besef hulle eers dat hulle gekul is en daarmee hul R450 verloor het. Ek raai hul slagoffers aan om 'n klag van bedrog by die polisie te gaan lê sodat hulle gestraf kan word.
Ontevrede |
 |
|
 |
Redaksioneel: |
 |
|
Hoe om 'n olifant te eet |
|
|
 |
|
|
|
 |
 |
 |
 |
 |
|
'n OLIFANT is 'n yslike dierasie en sou jy hom wou eet, weet die polisie-areakommissaris Ganief Daniels ewe slim te sê, moet jy dit maar stukkie vir stukkie doen.
Lag maar. Daar sit 'n groot stuk waarheid in. Enige taak, of probleem, raak hanteerbaar as jy dit van 'n kant af aanpak.
Vat enige probleem, breek dit af, en skielik is dit nie meer so oorweldigend nie.
Kopkrappers soos korrupte polisie, die gemeenskap wat nooddienste se werk in die wiele ry of misdaad onder huislose mense - kan almal soos die olifant opgeëet word.
En as jy so 'n stuk weggekou het, kom jy skielik 'n klompie waarhede agter.
In die eerste plek is die meeste van die 'olifante' tuis geteel: die polisieman wat sy makkers uitverkoop, het hier tussen ons grootgeword en die mense wat die dienders met klippe gooi, is ook nie ingevoer nie. Hulle het dalk nog self die klag aangemeld.
Hierdie olifante het beslis dissipline en afrigting nodig, en hier sal die polisie sy voet moet neersit.
Die resep om die olifant op te kerf, is ook nie so ingewikkeld nie. Neem nou maar die probleem met huislose mense wat in misdaad verval. Armoede is die grondliggende oorsaak, en dit hang saam met werkloosheid en dakloosheid.
Hier sal die stadsvaders, met ander rolspelers, moet kyk na 'n goeie, ekonomiese klimaat wat groei sal aanmoedig.
Op die korttermyn het huislose mense 'n heenkome nodig, al is dit tydelik en in 'n deurgangskamp. Hier sal die Munisipaliteit beslis moet ophou voete sleep.
So, stukkie vir stukkie, kan ons van al ons olifante ontslae raak. Maar as ons nie gaan begin nie, gaan ons met 'n groot vrot sit. |
|
|
|
|
|
|
|