|
HY mag afgetree het, maar hy het beslis nie uitgetree nie.
Dit is dr Sam Pick van die Paarl, wat onlangs ná meer as twintig jaar as Direkteur Maatskaplike Dienste van die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) uit diens getree het.
Ons kuier in sy ruim voorkamer in New Orleans en hy vertel met trots dat hy hierdie tweeverdiepinghuis 23 jaar gelede eiehandig gebou het, met die hulp van sy Newton-kerkraadslede.
"Dit het ons vyf jaar geneem en my vrou was baie dae moedeloos."
'n Mens kom gou onder die indruk van hierdie man se liefde vir en kennis van sy gemeenskap.
Sy studieveld strek van die teologie tot die maatskaplike terrein, met 'n diep empatie vir die mens en sy probleme.
Armoede was die een sosiale euwel wat hom baie navorsing laat doen het en wat hom nog steeds kwel.
"Daar was altyd armoede onder ons mense, maar die klem het nou verskuif. Voorheen was werkloosheid nie so 'n groot probleem soos vandag nie.
"Mense wend hulle nou na misdaad net om aan die lewe te bly. Sindikate, geweld en die misbruik van dwelms en drank het 'n ander, nuwe dimensie tot armoede bygevoeg."
Hy is ook bekommerd oor die toename in kinderverwaarlosing en geweld teen kinders.
Hy het hierdie probleme in al hul fasette gesien ontwikkel en beleef in sy leeftyd.
Dr Pick is 'n seun van die Hantam. Hy is op Calvinia gebore, waar sy pa onderwyser en sy ma huisvrou was.
Hy het sy laerskoolloopbaan hier voltooi, waarna hy Hoërskool Schoonspruit op Malmesbury toe is - die naaste hoërskool in daardie dae.
Van jongs af het die klein Sam Pick geweet waar sy heil lê: "Ek het op twaalf al geweet dat ek geroepe is om predikant te word."
Hy vertel van die geliefde ou sendeling, ds Gert Uys, wat instrumenteel was in hierdie besluit.
"Hy was 'n wonderlike man. Hy het my gedoop, aangeneem en later ook bevestig."
Dr Pick het sy admissiejare vir teologie by die Universiteit Wes-Kaapland gedoen. Dit was die beginjare van UWK en die universiteit was toe nog in 'n ou hoërskool in Bellville-Suid gevestig.
Daarna is hy na die kweekskool van die ou NG Sendingkerk op Wellington.
"Interessant genoeg, sluit hulle die sendingskool net voor ek klaarmaak en ek keer vir my finale jaar terug na UWK se splinternuwe departement van teologie.
In 1966 is sy eerste gemeente op Springbok.
"Dit was moeilike jare. In 'n stadium was ek die enigste predikant in die Ring.
"Ek was ook die eerste bruin dominee daar en dit was 'n harde pad om te loop. My eie mense het my nie so maklik aanvaar nie, hulle was mos gewoond aan wit sendelinge."
Hyself het begin met 'n skamele R100 per maand as salaris en hy het gou onder die indruk gekom van die geweldige armoede onder die mense.
Hierdie besef het die res van sy lewe beïnvloed. Hy het by Unisa ingeskryf vir die graad BA Maatskaplike Werk en dit was die begin van sy betrokkenheid by die sosiale probleme van die gemeenskap.
In 1975 aanvaar hy 'n beroep na Newton en terselfdertyd skryf hy by die Universiteit van Stellenbosch in vir 'n honneursgraad in maatskaplikewerk.
Met 'n skewe glimlag vertel hy: "Ek moes nog 'n permit by die Minister van Kleurlingsake kry om te kon inskryf. Hiervolgens kon ek net lesings bywoon en die biblioteek gebruik - ek mag nie 'sosiaal' verkeer het met die ander studente nie."
Maar studente laat hulle nie deur permitte beheer nie en algou was Pick, ouer as die ander studente, almal se vertroueling.
"Hulle het my kerk in Newton besoek en na my toe gekom met hulle liefdes- en ander probleme.
"Ek het gou agtergekom dat ons maar almal met dieselfde probleme worstel, maak nie saak wat ons velkleur is nie."
Hy het ook 'n besonder goeie verhouding met sy dosente gehad. Uiteindelik verkry hy ook 'n meestersgraad by Maties, onder prof Narissa Botha, wat vandag nog 'n goeie vriendin van hom is.
In 1981 word hy aangestel as Direkteur Maatskaplike Dienste van die NG Sendingkerk - 'n pos wat hy tot aan die einde van Maart vanjaar beklee het.
Gedurende hierdie jare behaal hy ook 'n doktorsgraad aan die Universiteit van Kaapland, met 'n proefskrif oor die bekamping van gemeenskapsarmoede deur gemeenskapsontwikkeling.
"Deur die jare het daar baie deure vir my oopgegaan. Só was ek in 1994 op die adviserende komitee van die Minister van Welsyn."
Hy het ook van 1982 tot 1994 op die Raad vir Maatskaplike Werk gedien, onder meer as lid van die uitvoerende bestuur.
'n Besondere eer vir hom was sy verkiesing as vise-president vir Afrika op die Internasionale Federasie vir Bejaardes van 1995 tot 2001. Hy het reeds van 1990 tot 2000 gedien op die Suid-Afrikaanse Raad vir Bejaardes.
In 1996 begin hy met 'n deeltydse praktyk in huweliksberading, wat hy nou ná sy aftrede voltyds sal voortsit.
"Hierdie is een van my groot voorliefdes en ek was bevoorreg om baie huwelike te kon red."
Dr Pick beskou gebrekkige kommunikasie as een van die grootste struikelblokke as dit kom by verhoudings.
Nog 'n sosiale probleem waaraan hy deesdae baie tyd afstaan, is die MIV/Vigspandemie.
Hy het in Oktober verlede jaar 'n boek bekend gestel, 'MIV/Vigs ons grootste uitdaging ooit. Die pad vir die Christelike Kerk'.
Hierin kyk hy na die teologiese en etiese aspekte rondom die virus en raak sake aan soos sonde, vergiffenis en aanvaarding van Vigs-lyers deur die res van die gemeenskap.
Die boek het pas ook in Engels verskyn.
Hy is reeds besig met 'n boek wat jong kinders en tieners se kwelvrae rondom Vigs uit 'n kerklike aspek sal bekyk.
Dit lyk asof die skryfgogga dr Pick behoorlik gebyt het.
Nog boeke in die pyplyn is 'n praktiese handleiding rondom gemeenskapsontwikkeling en 'n bundel met staaltjies uit sy bedieningsjare.
Hierin is snaakse stories, trane en ook blydskap wat hy met ander kan deel.
Soos die storie van die vrou wat besluit het die lewe is net te veel, sy gaan selfmoord pleeg.
"Sy besluit toe om haar self te skiet en draai die radio se klank toe harder sodat die bure nie die skoot sal hoor nie.
"Net toe begin die oggendoordenking en ek preek. Soos gebruiklik gee hulle my telefoonnommer ná die diens en hier bel die vrou.
"In plaas van om haarself te skiet, het sy na my begin luister en besluit sy wil tog nog leef. Om na haar te luister, is 'n gevoel wat 'n mens nie maklik in woorde kan beskryf nie."
Dr Pick het natuurlik ook nie ongeskonde deur die Apartheidsjare gekom nie. As sogenaamde Kleurling was Apartheid 'n werklikheid van sy woon- en werkslewe.
Toe, in 1976, gaan daar vir hom 'n ander wêreld oop, met 'n uitnodiging om 'n paar maande in Nederland te gaan studeer.
"Vir die eerste keer kom ek in witmense se huis en dit is 'n kulturele skok vir my om te sien daar is geen wesentlike verskil tussen ons nie."
Met sy terugkoms op die Johannesburgse Lughawe, sak daar 'n depressie op hom neer.
"Toe ek uit die internasionale aankomssaal stap, was ek baie kwaad met die Here. Ek sê toe vir Hom ek sal nie omgee om dood te gaan nie, solank ek net die einde van Apartheid kan sien.
"Maar in 1994 het ek Hom om verskoning gevra vir dié vinnige woorde - ek wou darem graag die nuwe vryheid geniet..."
Dr Pick is reeds 36 jaar getroud met Edna, 'n nooi Boesak van Somerset-Wes.
Sy is 'n afgetrede onderwyseres wat aktief is in die veld van kinderbediening. Hulle het twee dogters en drie kleinseuns.
Die jare mag aanstap vir Sam Pick, maar in gees is hy nog jonk, met baie om te deel met sy gemeenskap.
* Paarlite Dr Sam Pick has retired after twenty years as head of social services of the VGK church. |