|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
|
|
|
NA vol huise en staande ovasies by die Karoofees, is Helena Hettema op Vrydag 4 Oktober by Café Delvera met "The Bridge". Kom stap saam met haar oor die brug tussen die verlede en die toekoms tot selfontwaking van die hede. Vyf tale en verskillende musiekstyle, die nuwe millennium, geestelikheid en interessante karakters word ontdek. Ervaar Hettema, Minelli, Piaf, Cohen, Marianne Faithful, Janis Joplin en Brel op hul beste. Dit begin om 19:30 vir 20:00 by Café Delvera (op die Stellenbosch-pad net voor Elsenburg afrit). Kaartjies is R100 elk en sluit 'n tweegang-maal in (wyn uitgesluit). Bespreek by Elma Brand, 863-0397. |
|
|
|
|
DIE Paarl Museum (agter Toringkerk) gaan Saterdag om 20:00 weergalm met die soet klanke van Thomas Channell en sy vriende. "Speelpen/Playpen" is 'n baie quirky show met stunning oorspronklike Afrikaanse en Engelse liedjies en 'n paar ou bekendes (Makin' Whoopee...). Thomas tokkel die klawers en doen die singwerk. Jan Matthews voeg sielvolle vioolspel by en Tinus van Dyk bring 'n verdere tikkie tower met kitaar, mandolien en stem. Geniet nuwe instrumentasie en liedjies in 'n baie spesiale venue. Kaartjies is R40 (wat 'n glasie Nederburg-wyn insluit) by Paarl Museum te Hoofstraat 303, Paarl (bespreek by 872-2651). |
|
|
|
|
'n ERVARE konsertpianis, Benjamin Fourie, gee Saterdag om 20:00 'n uitvoering in die Goodnow-saal op Wellington. Sy program bestaan uit Gabriel Fauré se Nokturne nr 6 in D-mol opus 63, agt Préludes van Frank Martin, die Se una Notte d'Inverno W46/99 van Etienne van Rensburg en Frédéric Chopin se Nokturne in D-mol opus 27 nr 2 en die Fantasie in F opus 49. Fourie was sedert 1989 dosent aan die Kollege vir die Kunste in Windhoek, tot hy vroeër vanjaar 'n pos aanvaar het as klavierdosent aan die Universiteit van Natal. Hy het reeds in Namibië, Suid-Afrika, Duitsland, Frankryk en die Tsjeggiese Republiek uitvoerings gegee. Twee laserskywe met klavierwerke van Suid-Afrikaanse komponiste is uitstekend deur resensente ontvang. Fourie ontvang 'n aantal internasionale toekennings, waaronder die nominasie "International Man of the Year" van die internasionale biografiese sentrum in Cambridge, Engeland in 1991/92 en "Outstanding Man of the 20th Century" van die Amerikaanse biografiese instituut in 2000. Toegang vir die konsert in die Goodnow is R25 (kinders R10). Skakel Schalk Fourie by 864-1050 of Willem Fourie by 863-1856. |
|
|
|
|
'n KEUR uit die prosawerk van die bekende komiese skrywer PH Nortjé, "Wellington se Suiker", word môre opgevoer as deel van die Stokkiesdraai Fees. Die opvoering, onder regie van Louis du Preez, word môreaand 27 September om 19:00 aangebied in die CP van der Merwesaal. Dit sal 'n uitbeelding van verskeie Nortjé-sketse behels deur akteurs Chris Fourie, Jano Roux en Johan Winckler, met sang deur Gheta en Michael Grobler. Du Preez het hom die afgelope paar jaar onderskei as regisseur van musiek- en dramaproduksies, onder meer by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees. Die sketse is verwerk uit Nortjé se bundels Ken op die Kierie, Korsies van Growwe Brood, Nuut onder die Son en Op die Sonpad. Kaartjies (R40) is verkrygbaar by die feeskantoor en by The Write Shoppe in die Pick 'n Pay winkelsentrum. Die opvoering word geborg deur Boland Drukpers. |
|||
|
|||