|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
|
||||||||||
|
SY beskerm haar kleintjies met snawel en klou, dié swartsperwervalk wat al wat 'n bergfietsryer in Suider-Paarl op hol het. En sy ontsien niemand nie. Stappers, honde en tot 'n dominee wat inspirasie op sy bergfiets gaan soek het, het al onder haar kloue deurgeloop. Dis nou "She", die swartsperwerwyfie wat alles en almal verjaag wat dit durf waag naby haar nes in die dennebos onder die Taalmonument op Paarlberg. "She" het twee jaar gelede haar naam gekry, toe sy glo die eerste keer haar kloue skerpgemaak het teen bergfietsryers se valhelms en hul skouers. Daardie jaar het Anneliese Hacker van Courtrai ook die eerste stel met dié voël afgetrap. "Ek het rustig tussen die bome gestap toe die valk skielik op my afgeduik het," vertel Anneliese. "Sy is deksels vinnig. Ek het so groot geskrik dat ek soos 'n haas gehardloop het." Kort daarna het Anneliese op die voël afgekom waar sy op die grond gesit het. "Sy het so gehop-hop, maar ek kon nie naby kom nie. Daardie aand kon ek haar nie uit my gedagtes kry nie, toe bel ek die veeartse. "Die een doen net honde en katte en die ander weer ander diere. Toe kom ek af op dr Edmund Oettlé, die voëlkundige van Wellington." Oettlé sou na die voël omsien, maar Anneliese moes haar vang. Gewapen met 'n net en 'n wynboks is sy toe weer berg-in. "Ek het heen en weer agter die bosse ingeduik, maar elke keer flap sy op haar rug met die vreeslike kloue na bo. Toe ek haar eindelik het, was die boks te klein, en so is sy in die net huis toe." Die volgende oggend het She regop op haar rekenaardrukker gesit en moes sy weer gevang word. Ná drie weke by dr Oettlé het haar vlerk herstel en is sy in haar bos vrygelaat, dié keer gering en met 'n naam op 'n databank by dr Oettlé. She het 'n maat, 'n pikswart sperwermannetjie genaamd Don, vertel Anneliese. Hy bly stil op die agtergrond terwyl She luidkeels die werf skoon hou en enige bedreiging die hoof bied. Vanjaar steek twee kuikens met wit donsies, Hip en Hop, hul dun nekkies oor die rand van die nes. Verlede jaar het sy drie kleintjies grootgemaak: Do, Re en Me. Die jaar daarvoor was dit twee, en die jaar daarvoor, ook twee. Volgens dr Oettlé kan vanjaar se broeisel haar vyfde paar kuikens wees. Die sperwers bly heeljaar teen Paarlberg, maar dis die einde van die winter en in die lente, wanneer hulle broei, dat hulle hul stem dik maak. Verlede jaar het werkers gesaag aan die plantasie bokant Courtrai en She moes haar nes skuif. Ongelukkig trek sy toe na 'n reuseboom reg teen 'n fietspaadjie. Die bergfietsryers met die blink valhelms naby haar nes, ontsenu haar. Hulle hoor net 'n "keep-keep-keep" skree, en sien nie eens altyd die voël wat teen die geweldige spoed op hulle afduik nie. Menige ryer het al so grond geproe, met 'n hou teen die valhelm, 'n geskeurde hemp en 'n stukkende rug om sy storie te staaf. Die swartsperwer (black sparrowhawk of Accipter Melanoleucus) is 58cm lank met 'n vlerkwydte van 101cm. Die valk het 'n swart rug en wit bors met gespikkelde vlerke. Die stert en onderkant van die vlerke is gestreep. Die oë is oranje, die snawel swart en die bene geel. Die mannetjie, alhoewel die helfte van haar grootte, lyk nes die wyfie. Jonger voëls is bruin. Die sperwer leef in boomplantasies, veral aan die oostelike dele van Suider-Afrika. Hulle is vinnige vlieërs wat veral voëls, pluimvee en kleiner soogdiere vang. Hulle vlieg met stadige vlerkslae, maar kan soos missiele duik, of soos wafferse vegvlieëniers tussen die dennebome agter 'n bergfietsryer aanjaag. In die paartyd roep hulle met 'n koe-koe geluid, maar andersins skree hulle 'n deurdringende keep-keep-keep. Dis dié geluid wat fietsryers waarsku dat hulle moet afspring en skuiling soek. Soos toe Nelis Smit van Courtrai nou die dag uit die lug "gebom" is. Nelis het skaars tussen die dennebome ingery toe She op hom afgeduik en aan die skouers beetgekry het. "Ek het groot geskrik. Dit was seer. Toe spring ek af en stoot die fiets verder. "Die valk het weggedraai, maar elke keer as ek weer begin ry, was sy by," vertel Nelis. Sy splinternuwe fietsryhemp, nes sy skouers, is nou vol gate en krapmerke. Kobus Pietersen van Courtrai het nie net gate in sy hemp gekry nie, maar moes boonop buk vir 'n anti-tetanusinspuiting nadat vermoed is dat 'n stukkie van die valk se klou teen sy rug afgebreek het. "Ek het gesien die valk duik, toe draai ek my kop. Sy het die valhelm en my bril gemis, maar my oor raakgekap en toe my rug gehaak," vertel Kobus. * A female sparrowhawk is renowned for attacking mountainbikers on Paarl Mountain who venture near her nest. |
|
|
||||||||||
|
Vroue, en dan veral vroue uit armer gemeenskappe, lê haar na aan die hart. Die Ikhwezi-gemeenskapsentrum, waar sy en manlief Titus as 'n span saamwerk, is dan ook die ideale plek om haar drome te verwesenlik. Die Ikhwezi Trust is in 1987 gestig en was hoofsaaklik befonds met skenkings en tot 'n mindere mate deur verkope van |
|
|
|
struktuur nie en met borge wat al skaarser geword het, was dit noodsaaklik dat hulle hul eie inkomste moet genereer. Titus het in 1995 die bestuur van die sentrum oorgeneem en 'n jaar later het Shahieda daar begin werk as 'n vrywilliger. Dit was liefde met die eerste oogopslag en kort daarna is hulle getroud. Titus is direkteur van Ikhwezi en Shahieda is deesdae die bedryfsbestuurder. Shahieda het met groot entoesiasme en empatie begin planne maak en eksperimenteer met moontlike projekte. "Dit was nie maklik nie, want daar was nie eintlik iemand wat kon help nie. Vandag het ons 'n besigheidsadvieskomitee waar mense kan betrokke raak en hul kundigheid met ons kan deel." Een van die suksesstories van Ikhwezi is natuurlik die Babathane weefgroep, wat reeds in 1987 ontstaan het. Hier is daagliks tussen tien en twintig vroue besig om te weef en te werk aan bestellings van gepluisde wolmatte. Ses van die oorspronklike groep werk nog hier. Babathane probeer veral kontrakwerk kry, want dan is die kopsere rondom verkope nie so groot nie. Op die oomblik het hulle 'n groot Kaapse kontrak, waar die kliënt sy eie wol bring en dan net betaal vir die weefkontrak. Een van die weeframe is heeltyds besig om matte te produseer vir Ikhwezi se winkel. Voorraad word ook gelewer aan winkels op Stellenbosch, Simonstad en Constantia. "Al ons projekte is arbeidsintensief, soos die handwerkgroep wat in Oktober verlede jaar begin het," vertel Shahieda. Dié twaalf vroue doen borduur- en appliekwerk, asook laslapwerk vir 'n winkel in Constantia. Van die werk word ook na Engeland uitgevoer. "Ons besef al meer dat dit belangrik is om 'n professioneel-afgewerkte produk te lewer en die meisies is nou op 'n kursus." Die Nonceba-naaldwerkgroep is reeds sedert 1998 in bedryf. Dit bestaan uit sewe vroue wat 'n produksielyn vorm om kontrakte vir skooluniforms en sweetpakke uit te voer. Shahieda-hulle kyk ook verder as net projekte by Ikhwezi. "Ons dien ook as 'n soort middelman vir vroue wat van die huis af werk. Op die oomblik is daar agt vroue wat kralewerk doen en nog dertig wat van die huis af hekel. "Die hekelwerk is interessant. Die vroue word aangemoedig om hul kreatiwiteit te gebruik om nuwe patrone te ontwerp en daarvoor ontvang hulle ekstra betaling. "Almal begin besef daar is twee partye wat moet wen. "Ons probeer ook om 'n Afrika- of etniese-kleur aan ons werk te gee, wat veral belangrik is vir die toeriste- en uitvoermark." Nog 'n interessante werkgroep is Eldeme, wat hulle besig hou met voedselverwerking. Die vroue kook in die oggend vir sopkombuise en maak ook pap vir twee klinieke. "Hulle kook ook konfyt vir 'n ekstra inkomste, onder meer vir Roggeland gastehuis." Die groep kry befondsing van 'n kindergroep uit Duitsland, wat betaal vir salarisse en vervoer van die kos. Die sentrum het 'n eie kleuterskool asook 'n sopkombuis wat kinders van Mbekweni en Paarl-Oos daagliks van kos voorsien. Ikhwezi het natuurlik al jare lank 'n hegte verbintenis met Duitsland, veral met die Evangelies Lutherse Kerk, wat jaarliks geld skenk vir projekte. Een van die nuwe projekte wat met hul samewerking begin is, is 'n ondersteuningsfonds vir Vigs-wesies. "Ons kry geld om kinders wat hul ouers verloor het as gevolg van MIV/Vigs te help. Ons probeer om die kinders in hul familieverband te hou en ondersteun hulle met kos, klere en skool-geld," vertel Shahieda. Kinders lê Shahieda na aan die hart. Sy het haar onderwysopleiding by UWK voltooi en het onder meer by Bergrivier Sekondêr, Saron en Mitchells Plain Engels en Geskiedenis gegee. "Dit is reeds in Mitchells Plain wat ek finaal besef het skoolhou is nie vir my nie. Ek moes klasgee vir kinders wat honger was en van wie sommiges selfs verkrag is." Shahieda, wat in die Kaap gebore is, het in 1991 saam met haar ouers Wellington toe getrek en haar hart aan die Vallei verloor. Deesdae het sy 'n vol en ryk lewe, maar maklik is dit ook nie aldag nie. Een van hul groot kopsere was die agtiende-eeuse herehuis Vlakkeland tussen die Paarl en Mbekweni wat Ikhwezi as gemeen-skapsentrum gebruik, en wat dringend gerestoureer moes word. Uitein-delik het 'n ruim skenking van BoE Bank hiervoor voorsiening gemaak. Die herstel van die Kaaps-Hollandse woning stel Shahieda-hulle nou in staat om toeriste te ontvang met die doel om die nywerhede wat op die perseel bedryf word, se lewensvatbaarheid te verhoog. Ikhwezi is die Xhosa-woord vir môrester en die sentrum se lig is besig om al helderder oor die Vallei te skyn. Skakel Shahieda by 868-1707 met na-vrae. * Paarlite Shahieda Hendricks is the driving force behind the community projects at the Ikhwezi centre. |
|
|||||