|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
|
|
|
DIE Boland Krieketspan het nie sy seisoen met die verwagte welslae afgeskop nie ná 'n ineenstorting in sy tweede kolfbeurt in die SuperSport vierdagwedstryd teen Griekwas op Kimberley. Die Bolanders het goed begin deur 333/8 in hul eerste beurt aan te teken, met Steve Palframan (95), Vinod Kambli (61), Henry Davids (37) en Jacques van Wyk (25) wat die meeste skade aangerig het. Griekwas het egter ewe goed gevaar en 'n eerstebeurt totaal van 369/10 aangeteken. Op die derde dag met die telling op 123/3 in sy tweede beurt, het die 19-jarige linksnaatbouler, Charl Pietersen, onder die Bolanders begin maai. Hy het die paaltjies van Kambli (33) en Palframan (0) agtermekaar laat kantel. Pietersen het ses paaltjies geneem vir die verlies van 43 lopies in 17 beurte. Die Boland se laaste sewe paaltjies kantel in 29 beurte en hulle voeg nog 65 lopies by vir 'n skamele 188/10. Con de Lange met 58 lopies in 146 balle het met die grootste telling in die tweede beurt gespog. Griekwas het die teiken van 153 met slegs drie paaltjies plat behaal en die wedstryd op die derde dag beklink. Boland speel die naweek teen die huidige kampioene Natal in Durban. |
|
|
|
|
DIE formaat waarin klubkrieket in die Boland gespeel word, neem vanjaar 'n ander vorm aan. Die tradisionele tweedag- en eendagwedstryde in die Super- en Premierliga word vervang met 'n verlengde eendagwedstryd wat oor 60 boulbeurte per span sal strek. Die nuwe formaat verskil egter deurdat geen wedstryd onbeslis kan eindig nie. As 'n wedstryd nie enduit gespeel kan word nie weens faktore soos swak lig of reën, sal 'n wenspan steeds aangewys kan word op grond van 'n beter telling as dié van hul teenstanders. Ná gelang van boul- en kolfprestasies kan 'n span steeds die meerderheid van die 15 beskikbare punte inoes om so 'n wedstryd te wen. Vooropgestelde tabelle bepaal hoe die 15 punte tussen twee spanne verdeel word in die geval van 'n onbesliste uitslag. Slegs wedstryde waarin albei spanne minstens 40 boulbeurte kon kolf, sal in aanmerking kom vir 'n uitslag. Die nuwe formaat beteken dat spelers wat in die provinsiale span opgeneem word, nie halwe wedstryde vir hul klubs hoef te speel nie en los ook die probleem op van plaasvervanger-spelers in so 'n geval. Daarby sal al die klubs nou in een seisoen teen alle teenstanders in 'n tuis- en wegwedstryd teen mekaar kan speel. Die krieketklubs van Paarl-Oos, Paarl, Wellington en Young Peoples speel vanjaar in die Superliga, terwyl Bergrivier en Korrektiewe Dienste in die Premierliga sal meeding. Die bepalings vir Saterdag is (tuisspanne eerste): Hermanus t Paarl, Wellington t Paarl-Oos, Young Peoples t Brackenfell, Bergrivier t Touwsrivier, Robertson t Korrektiewe Dienste. |
|
|
|
|
OP 'n onlangse besoek deur dr Ismael Jacoet op uitnodiging van Paarlse rugbyskeidsregters, het rugbybeserings by skoolseuns onder die soeklig gekom. Die kliniek is nodig geag aangesien ses skoolseuns landwyd tussen Januarie en Augustus vanjaar verlam of sodanig beseer is, dat hul nie weer rugby kan speel nie. Tydens die werksessie, wat deur verskeie plaaslike skole bygewoon is, is daar gefokus op die tipe beserings wat op die rugbyveld plaasvind, asook die rol wat die skeidsregter speel as beskermheer en toonaangewende faktore rakende die implementering van die spelreëls asook beheer oor die spel. Die plaaslike skeidsregters wil vanaf volgende jaar die volgende riglyne in plek stel: * Alle persone wat wedstryde hanteer, geaffilieer word. Dit sal egter nie beteken dat hulle dieselfde verpligtinge sal hê as skeidsregters wat ten volle geaffilieer is nie. Hulle moet op hoogte wees van die reëls en die interpretasie daarvan verstaan - dus 'n minimum kwalifikasie van minstens Vlak I en minstens 'n Vlak I sertifikaat of 'n basiese kursus geslaag het in noodhulp. * Afrigters moet minstens 'n Vlak I sertifikaat in beide afrigting en noodhulp hê. * 'n Verbetering in kommunikasie en wisselwerking tussen spanbestuurders/koördineerders en skeidsregters is nodig. * Spelers moet opgelei word in die reëls en die vertolking daarvan om kommunikasie tussen spelers en skeidsregters te verbeter. "Ons is van mening dat spelers gefrustreerd raak omdat hulle nie die beslissings altyd verstaan nie. Dit is ook deur die Springbok-afrigter, Rudolf Straeulie en oud-skeidsregter, Freek Burger, beklemtoon," sê Louis Nel, een van die Paarlse skeidsregters. "So sal die toeskouers ook beter ingelig word en sal ongeoorloofde spel en wangedrag deur spelers ook verminder." Nel het verder gesê dat toeskouers teen die kantlyn die spelbeheer van die lynregter en skeidsregter bemoeilik en dat organiseerders hier die verantwoordelikheid moet neem om die probleem op te los. "Skeidsregters is bemagtig om te weier om wedstryde te hanteer waar daar nie aan die vereistes van noodhulp voldoen word nie. "'n Waterbottel en ys is nie noodhulp nie," sê Nel, "Nekstutte en 'n draagbaar vir rugbeserings is van die minimumvereistes." Mense wat belang stel om as skeidsregter opgelei te word en veral skole en klubs wat lynregters wil laat oplei, kan Nel skakel by 082-751-9313 of 871-1041. |
|
|
|
|
YOUNG PEOPLES het Saterdag op Daljosafat op sprokiesagtige wyse sy derby-stryd teen Young Standards in die laaste minuut van die rugbywedstryd gewen. Die spelers se harde fisieke spel en gretigheid om 'n speler geniepsig te karnuffel, het dit van die staanspoor af duidelik gemaak dat dit net in naam 'n vriendskaplike wedstryd was. Standards se Enrico Davey (10) het sy span ná vyf minute laat voorloop met 'n strafskop. Peoples het Standards voorlangs totaal oorheers en laasgenoemde se skrums gedraai en verhoed dat die Bloutruie goeie besit kry. Die Tiere se agterlyn kon egter niks uitgerig kry nie. Staan-staan aangeë, swak hantering en goeie druk deur Standards het Peoples min kanse gegee vir punte aanteken. Die skakelpaar, Barry Williams (9) en Davey op losskakel, het met knaende taktiese skoppe Peoples teruggejaag na hul eie gebied en so op 'n afstand gehou. 'n Agterlynbeweging deur Standards en 'n tikskop deur Conrad Poole (12) het Brendon van Schoor (11) die gaping gegee om met die bal oor die doellyn te val. Davey verdoel om die telling 10-0 te maak. Kort daarna druk Standards se kaptein, Joseph Arries (8), om die rustydtelling op 15-0 te bring. Vroeg in die tweede helfte teken die skrumskakel, Barry Williams, Peoples se eerste punte aan, toe hy in Standards se kwartgebied 'n strafskop vinnig neem en deur die verdediging bars om te druk. Andrew Victor (2) slaag met die doelskop. Die Tiere se agterlyn het mekaar beter begin vind en Jody "Flyer" Davids (11) druk sy span se tweede drie. Victor slaag met 'n goeie stelskop van reg langs die kantlyn om die telling op 15-14 te bring. Die heelagter, Sammy Titus, het by tye mooi in Peoples se agterlyn ingesny en ook goed verdedig. Met die tyd wat uitloop en die spelers wat regstaan vir die laaste lynstaan het beide afrigters koorsagtig van langs die kantlyn, instruksies geskree. Peoples wen die bal en hardloop. Swak verdediging in die middelveld gee die Tiere die breekslag en ná 'n paar aangeë druk Davids sy tweede drie onder die pale ten aanskoue van die verslae Standards-toeskouers. Victor se doelskop span die kroon op 'n wedstryd wat Peoples met 'n karaktervolle vertoning 21-15 wen. |
|
|
|
|
DIE manne van Albions het Vrydag met 'n oortuigende oorwinning oor Polisie op die Faurestraat Stadion sy plek op Premierliga A punteleer verbeter ten koste van sy bure, Young Peoples. Albions het eerste bloed getrek nadat Morné Goetham (8) druk. Die eerste helfte is gekenmerk deur hanteringsfoute deur albei die agterlyne. Polisie neem kort daarna die voortou met 'n verdoelde drie. Die Paarliete bly die druk verhoog en Mark Kruger (10) slaag met 'n strafskop om die telling op 8-7 te bring. Die goeie spel van Marius Claassen (9) wat heeltyd die voordeellyn aangeval het, het beteken dat Albions gereeld in die Polisie se kwartgebied kon speel. Elrico Petersen 2, John Stevens en Roderick Allies gaan kuier almal agter die doellyn en Albions wen 28-7. Claassen word as man van die wedstryd aangewys. Die tweede span verloor 12-10, terwyl Polisie se derde span nie opgedaag het nie. Albions en Peoples het nou albei 54 punte, maar Albions se groter punteverskil beteken dat hulle nou in die vierde plek lê terwyl Peoples afskuif na die vyfde plek. Albions speel Saterdag op Daljosafat teen Strand United. * Korrektiewe Dienste het Vrydagaand by Pollsmoor 31-16 met Elsiesrivier afgereken en moet dus nog net een hekkie oorkom om na die Superliga B bevorder te word. Maar 'n maklike hekkie is dit beslis nie. Die bewaarders sal Saterdag met Young Peoples moet klaar speel, verkieslik met 'n bonuspunt en in die proses so min as moontlik punte afstaan. Die klub lê tans tweede op die punteleer tussen Silvertree en Primrose. Al drie klubs het 74 punte, met punteverskille van 187, 151 en 97 onderskeidelik. "Ons hoop maar Peoples gee vir ons die punte," het Davey Simonse, klubkaptein van Korrektiewe Dienste, vandeesweek geskerts. Maar dat Peoples geen gunsies gaan uitdeel nie, is seker. Die Tiere sal alles in die stryd werp om ook met 'n wen weg te kom om so vir Albions in die vierde plek op die punteleer te vervang. "Ons wil baie graag weer in die vierde plek lê so dit is vir ons 'n baie belangrike wedstryd wat ons moet wen. Dit sal beslis 'n groot wedstryd wees," het Trevor Davy van Young Peoples gesê. In hul eerste rondte wedstryd het Korrektiewe Dienste vir Peoples 22-17 geklop. |
|
|
|
|
THIS week the Boland Rugby Union was the first recipient of a donation of rugby boots under a UK-based "Boots For All" project, which seeks to help young rugby players from previously-disadvantaged communities. The boots are part of the 200 pairs to be shared by the Wellington-based union with clubs in Eastern Province and South Western Districts. Launched in November in London during the last Springbok tour, the "Boots For All" project is the brainchild of the Luctonians RFC Junior Section in the UK. The club collects rugby boots no longer required, for distribution to young South Africans from disadvantaged areas. Sarfu GM Youth and Club Rugby, Cliffie Booysen, said his organisation has targeted out-lying areas where there is a strong rugby culture. "Virtually every day we receive requests for aid to clubs and schools," said Booysen. "And often the demand is far greater than what we can supply. "But we always try as we want to keep the spirit of rugby alive in all communities. The School/Club Aid project helps us channel resources to needy areas. "The "Boots For All" project is doing a great deal to help us spread the gospel of rugby and keep young talent in the rural areas happy." |
|
||||