|
DRIE van die bestes, Mathys Roets, Danie Niehaus en Kevin Leo, sal in harmonie die Paarlvallei op Saterdag 12 Februarie laat
weerklink met ligte klassieke musiek, gewilde treffers en Afrikaanse verwerkings.
Drie van die Bestes het die afgelope paar jaar groot gehore as individuele kunstenaars gelok, maar die trekkrag van die drie-in-een
het 'n groot behoefte onder aanhangers gebly.
Dit het tot die besluit gelei om vanjaar tien konserte plaaslik aan te bied, waarvan een dié voor-Valentynse opvoering in een van
ons land se indrukwekkendste opelug-terreine sal wees. Dit sal ook die groep se enigste optrede in die Wes-Kaap wees.
Dit is ook die eerste keer dat die drietal met 'n lewende orkes optree en tyerseldertyd sal die konsert in die ouditorium van die
Taalmonument in die Paarl op DVD opgeneem word.
Die drie beloof om hul gewildste treffers aan te bied, aook 'n paar nuwe verwerkings wat die gehoor sal bekoor. Vir konsertgangers
is daar die bonus van beeldsending op 'n reuse skerm.
Drie van die Bestes het in 1998 spontaan begin saamsing en gou die musieklus vir goeie Afrikaanse stemme en lirieke in ons land
aangewakker.
Die nuwe vertoning sal 'n informele samestelling hê, 'n terugblik op hul optredes in die verlede met die klem op wat gehore die
meeste aangegryp het.
Sien dus uit na gunstelinge soos Mannetjies Roux, Time to say Goodbye, La Donna la Mobile, Cotton Fields en O Solo Mio - deurweef
met 'n paar verrassings.
Die hekke open om 17:00 en kos en wyn van die streek sal by talle stalletjies aangebied word, wat reeds baie gewild geword het by
konsertgangers.
Daar is parkering beskikbaar bo die amfiteater, maar die pendeldiens vanaf Laerskool Courtrai word deur baie mense verkies.
Die vertoning word gereël deur promotor Gerhard Meyer, en is moontlik gemaak deur die ondersteuning van De Oude Paarl Hotel
(akkommodasie), Intermedia (advertensieontwerp) en Paarl Vallei Motors (vervoer).
Kaartjies by Computicket (083-915-8000 of www.computicket.com) van R70 tot R115.
|