|
DIE Boland Kavaliers kan vanjaar dalk net 'n Oosterse kleurtjie kry, as 'n besoekende Japannese rugbyspeler kan
bewys dat hy goed genoeg is om dié provinsie op die veld te verteenwoordig.
Die Boland Rugby Unie verwelkom vanmiddag die Japanner, Yohei Shinomiya.
Shinomiya, wat vir die Japanse klub Yamaha speel, sal vir die seisoen by Boland se Jackie Abrahams Huis op
Wellington gehuisves word.
"Ons het dit goed gedink om hom na die Boland te nooi. Dit kan in die toekoms iets beteken vir die Boland om kontak
te hê met 'n klub in Japan, hetsy rakende die uitruil van spelers of idees," het die BRU se hoof uitvoerende beampte, Piet Bergh, Maandag gesê.
"Ons onderhandel tans met 'n klub in die Boland om te hoor of hy vir hulle kan speel, maar op dié stadium sal hy in
die Jackie Abrahams Huis bly," het Bergh bygevoeg.
Volgens Bergh is daar geen beperkinge wat die Oosterling sal verhoed om vir die Kavaliers te speel nie. "As hy goed
genoeg is, sal hy kwalifiseer om vir die Boland te speel," het hy gesê.
Dit is die eerste keer dat die Boland Rugby Unie gasheer speel vir 'n oorsese speler.
Die 26-jarige Shinomiya het verlede jaar Japan in die Internasionale Rugbyraad se Sewesreeks verteenwoordig en ook in
2002 en 2003 in Nieu-Seeland rugby gespeel vir die Mid-Canterbury span en North Harbour ontwikkelingspan wat die plaaslike klubkampioenskappe gewen het.
Die blitsbuks wat die skaalnaald op 90kg laat bewe, is maar 'n skamele 1,78m lank maar behoort op vleuel/heelagter 'n
glibberige kalant te wees om raakgevat te kry.
Laat veranderinge aan die formaat van vanjaar se Vodacom-kompetisie het vandeesweek vir Bergh behoorlik laat kopkrap
om die logistieke probleme op te los.
Die Kavaliers sou op 18 Februarie (Buenos Aires), 23 Februarie (WP), 26 Februarie (SWD), 4 Maart (Maties) en 11 Maart
(Leeus) vriendskaplike wedstryde gespeel het, met hul eerste Vodacom-wedstryd op 19 Maart teen die Griekwas op Boland Stadion.
Volgens die aanvanklike formaat sou sewe spanne in twee groepe oorkruis teen mekaar gespeel het, met die top twee
spanne in elke groep wat in die halfeindstryde sake sou uitspook.
Die nasionale kompetisiekomitee het egter vandeesweek besluit dat al 14 provinsies teen mekaar moet speel. Dit
beteken dat daar nou datums gesoek moet word vir 'n bykomende ses Vodacom-wedstryde.
"Die Vodacom-kompetisie sal dus reeds op 25 Februarie begin. Hopelik kan ons die vriendskaplike wedstryde teen die
SWD en Leeus as ligawedstryde afhandel," het Bergh Maandag gesê.
Die flank Kobus le Roux sal nie tydens die Vodacom-reeks vir die Kavaliers beskikbaar wees nie, weens sy
boerderyverpligtinge op sy plaas tussen Beaufort-Wes en Laingsburg. Hy sal egter weer terug wees vir die Curriebeker-kompetisie.
Rugbygeesdriftiges kan môreaand reeds die vorm van beide die Kavaliers en Stormers spanne beoordeel wanneer dié twee
mekaar in 'n vriendskaplike wedstryd op Wellington pak.
Verskeie groot name uit die Vallei, soos Schalk Burger, Jean de Villiers en Marius Joubert, maak deel uit van Gert
Smal se Stormers-groep, terwyl plaaslike Wellingtonners soos Louw Schabort, Boela du Plessis en Claude Arendse vanjaar vir die Kavaliers gekies is.
Die spelers wat nie in die Kavaliers-span ingesluit is nie, sal as deel van 'n Boland Uitnodigingspan in 'n
voorwedstryd teen 'n Boland Elite-span speel. Die jonger spelers in die Elite-groep sal speel vir een van vyf moontlike plekke in die Jackie Abrahams Huis.
Die voorwedstryd begin om 17:15 en die hoofwedstryd om 19:00. Toegang is R20 en gratis vir skoliere. Stormers: Tiger
Mangweni, Breyton Paulse, Gus Theron, De Wet Barry (k), Egon Seconds, Gaffie du Toit, Tertuis Carse, Joe van Niekerk, Schalk Burger, Luke Watson, Rob Linde, Alten Hulme, Faan Rautenbach, Hanyani Shimange, JD Möller.
Boland: Antonius Verhoeven, Warren Petersen, Piet van Zyl, Jacques Badenhorst, Jonghikhaya Nokwe, Solly Goosen, Charl Blom, Henly du Plessis, Chris Potgieter, Conrad Burke (k), Henk Eksteen, Dawid de Villiers, Tommy
Dixon, Gustav Rademeyer, Fabian Brandt.
|