|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
|
|
|
GEDURENDE Oktober of November 2001 het die stadsraad 'n advertensie vir munisipale polisie in die Paarl Post geplaas. Baie jongmense het aansoek gedoen en is gekeur en opgelei. Hulle het dit beskou as 'n gevestigde toekoms. Baie van hulle het permanente werke gehad. Die Raad het die jongmense lelik mislei. Hulle was by hul vorige werkgewers beter af as nou by die Drakenstein Munisipaliteit. Hulle het werke gehad, baie goeie voordele en goeie salarisse. Nou moet hulle elke ses maande kontrak teken sonder voordele. Die Raad het nóú R2 miljoen vir 12 voltydse raadslede. Waar kom die R2 miljoen nou ewe skielik vandaan? Uit watter begroting kom die voltydse raadslede se salarisse? My kind se droom was van kleins af om in die Polisie te wees. Die droom is verpletter...! Die voltydse raadslede gaan eersdaags lag-lag bank toe loop! Ek wil by die Raad weet wat is daar in die raadsaal aan die broei? Verpletter |
|
|
|
|
WAT 'n skokkende skande. Ek verwys nou na die voltydse stadsraadslede se "vergoeding" en dit nogal "terugwerkend". Wat doen die mense om hierdie soort geld te "verdien"? Wat dink hulle as hulle rondom hulle kyk? Gaan hulle nou werklik 'n verskil maak? Wat kan nie alles gedoen word met hierdie geld nie! Gaan ons maar weer eens net alles so aanvaar en verder toelaat dat ons gewurg word deur middel van belastings, want waar anders gaan hierdie geld vandaan kom? Die "surprise" sal ons beslis tref in die middel van die jaar, wanneer ons ons munisipale rekeninge ontvang. Ten slotte. Die munisipale bestuurder meld dat Langenhovenlaan gesluit sal wees vir die dae waarop daar krieket gespeel word (asof daar nie ander dae ook toeriste en besoekers ry nie). Miskien kan ons net ons prioriteite regkry, dan sal dit nie nodig wees om paaie toe te maak vir die wêreld nie. Ons as inwoners moet elke dag daar verbyry en dit aanskou. Indien ons nie oppas nie, sal meer as net paaie binnekort toegemaak moet word, want die koeie wat so geredelik gemelk word, se uiers is besig om op te droog. ME de Jager |
|
|
|
|
GRAAG reageer ek op u berig "Swanesang vir Ouditorium" (Paarl Post 20 Februarie 2003). As gereelde besoeker aan die Paarlse stadsaal en SAPD Kollege ouditorium, dink ek die kritiek op die Stadsaal is onregverdig. Gedurende die jare voordat die Polisiekollege begin funksioneer het, is feitlik al die vertonings in die stadsaal aangebied. Dit wil nou voorkom asof daar net op die akoestiek en sagte stoele van die ouditorium gekonsentreer word, maar helaas - wat van die lugreëling wat foutief is, vensters wat nie meer kan oopmaak nie, stukkende gordyne en stoele, duiwe in die gebou en veral die ontoereikende dameskleedkamer wat deur die publiek gebruik moet word? (Slegs twee toilette.) Daarenteen is die stadsaal 'n pragtige, skoon gebou met genoegsame geriewe vir die publiek. Daar is wel spesiale stoele met sagte sitplekke wat vir vertonings gebruik word. So, my ou Paarl volkie, die ouditorium is vir eers geskiedenis. Kom laat ons dus voluit gaan vir die stadsaal! Positief |
|
|
|
|
We are a small organization that is based in Paarl and it came to my attention that I should start an organization that would help my community in the following services: Printing, Faxing, Internet and as well as other services. Due to lack of resource in Mbekweni, I thought of starting this project, just to help my people. So if you guys have an old printer, PC, Desk or a chair, please help me out with it. Sbusiso Maseti - 082-832-0662 |
|
|
|
|
EK sal dit waardeer indien die Munisipaliteit deur middel van Paarl Post die volgende kan duidelik stel. Oral in die dorp is kennisgewingborde opgerig, vir onder meer geen parkering, spoedgrens, stilhou verbode, ens, wat natuurlik nodig is om orde te handhaaf in die dorp. Nou verwag die Munisipaliteit, met reg, dat inwoners hierdie kennisgewingborde sal gehoorsaam. Indien inwoners nie kennis neem van hierdie kennisgewings nie, word hulle beboet vir oortredings. Wat nou nie vir my duidelik is nie, is dat oral op die wal van die Bergrivier groot kennisgewings op is wat lui "piekniek en swem verbode", "swimming and picnic not allowed". Naweek na naweek hou hordes op die wal piekniek en swem in die rivier, soms reg onder die kennisgewingborde. Ek mag verkeerd wees, maar ek het nog nooit gesien dat oortreders vasgevat word nie. Nou is my vraag: Hoekom moet net sekere kennisgewings nagekom word? Inwoners kan mos dan ook die res van die kennisgewingborde ignoreer, sonder dat hulle vervolg word vir oortredings. Dit grens aan die belaglike om kennisgewings op te sit wat niemand nakom nie en waarvoor geen oortreders gestraf word nie. Inwoner, Paarl |
|
|
|
|
TWEE irritasies in die nuwe jaar. Soos ons almal deeglik bewus van is, het die gasvryheidsbedryf en sakesentra toerisme bitter nodig vir 'n suksesvolle bestaan. Hoofstraat is 'n nagmerrie vir enige padverbruiker, maar dit is 'n gegewe dat ons daarby moet aanpas. Ongelukkig vir sommige padverbruikers bied Hoofstraat verskeie besienswaardighede, dus is dit verstaanbaar dat toeriste stadiger as normaal sal beweeg. Maak ons nie maar almal so as ons in 'n vreemde omgewing is nie? Wil ons dan nie reeds hê dat hulle al die mooi van ons dorp ervaar nie? Is dit dan nodig om ons toeriste met toeters en tekens te verwelkom? Kom ons laat die besoekers welkom voel en behandel hulle met respek in ons pragtige dorp. Hulle kyk en ry tog nie in spitstye nie, so waarom die haas en ongeduld? 'n Verdere irritasie is sekere motorfietsryers wat van Hoofstraat 'n renbaan maak. Hoofstraat het dit nie nodig nie! Kla-Piet |
|
|
|
|
GRAAG wil ek aan die Departement van Welsyn vra of staatsamptenare mag aansoek doen vir die kinderonderhoudstoelae vir kinders onder sewe jaar? Ek weet persoonlik van 'n staatsamptenaar wat dié toelae ontvang. Is die toelae net beskikbaar vir sekere amptenare? Ek hoop julle kan vir my lig werp op hierdie saak. JC van Wellington Garth Morkel, kantoorbestuurder van die Departement Welsyn, Paarl, antwoord: Onder geen omstandighede behoort toelaes aan staatsamptenare betaal te word nie. Sekere inkomsteperke word vir die Kinderonderhoudtoelaes gestel om as kwalifiserende kriteria te dien. Uit die aard van hul werk, salarisstruktuur en minimum salarisskale word alle staatsamptenare outomaties uitgesluit. Dit het aan die lig gekom dat sekere staatsamptenare toelaes ontvang en teen hulle word opgetree volgens die dissiplinêre kode van die staatsdiens. As die skrywer bewus is van meer mense wat steeds toelaes ontvang, sal ek dit waardeer as die inligting na dié kantoor aangestuur sal word sodat dringend op die saak ingegaan kan word. Ons kontaknommer om bedrog aan te meld, is 0800-220-250 en jy kan anoniem bly. |
|
|
|
|
HIERMEE wil ons graag ons dank en waardering uitspreek aan die jong Bolandse rugbyspelers wat op 15 Februarie op die Malmesbury-pad tot ons redding gekom het. Aangesien ons geen name of adresse van die goeie Samaritane het nie, het ons dit net gepas gevind om die media te gebruik vir hierdie doel. Ons vier susters het 'n bejaarde tante van Malmesbury gaan besoek en met ons terugkeer op die pad 'n papwiel opgedoen. Die skroewe van die wiel was ongelukkig so styf, dat ons dit nie kon loskry nie. Verkeer was minimaal en ons het paniekerig geraak, want die gedagte van donkerte op daardie verlate pad was 'n moontlikheid. Uiteindelik het ons 'n minibus opgemerk wat op pad Wellington toe was. Ons het die voertuig voorgekeer en gemerk dat dit rugbyspelers was. Die bestuurder van die voertuig het ons egter meegedeel dat hulle reeds laat vir hul funksie was en dus nie kon vertoef nie. Tot ons verligting het die bestuurder en van die spelers uitgespring en sowaar het drie van hulle ons wiel in 'n japtrap omgeruil. Die bestuurder het sy selfoon beskikbaar gestel sodat ons Paarl toe kon bel. Ons kon sodoende ons rit voortsit en daardie aand was ons veilig by ons gesinne. Weer eens spreek ons ons dank en waardering uit teenoor daardie Bolandse rugbyspelers wat uit hul weg gegaan het om vier bejaarde dames te hulp te snel. Boland kan trots wees op hulle.
Faiza Jassiem (Paarl), Aneesa Patel (Kuilsrivier), Gayaat Samsodien (Mitchellsplein) en Nadeema Fredericks (Grassy Park) |
|
|
|||||||||||||
|
ARMOEDE is 'n groot deel van ons gemeenskap se daaglikse lot. Vroue, mans en kinders wat siel en lyf aanmekaar moet hou met feitlik niks, is 'n alledaagse gesig in baie van ons woonbuurtes. Daarom is dit welkome nuus as die onderburgemeester besluit om haar tyd en aandag aan hierdie sosiale krisis te wy. Met die stof wat nog nie gaan lê het oor die geld wat die stadsvaders en -moeders op hulself bestee nie, het sy 'n opdraande stryd voor om mense te oortuig van die raad se goeie bedoelings. Haar eerste stap was om die minister belas met armoedeverligting aan haar sy te kry. Hy het onomwonde verklaar dat die stryd teen armoede sy en sy departement se hoogste prioriteit geniet. Dit sal ook rolspelers baat om te let op ander fokusareas wat deur hom uitgelig is, soos die verband tussen armoede en misdaad, die gebruik (of misbruik) van toelaes en gesondheid. Die minister het beklemtoon dat 'n oorhoofse strategie nodig is om die probleem aan te spreek en hopelik sal die organiseerders hieraan aandag gee. Die eerste vergadering het net bestaan uit raadslede en amptenare van die munisipaliteit en die betrokke staatsdepartemente. Dit is noodsaaklik dat nie-regeringsinstansies, wat jare reeds aandag gee aan dié kwessie, betrek word. Veral geloofsgebaseerde organisasies moenie misgekyk word nie, aangesien dit 'n bekende feit is dat hulle heelwat meer geld as die staat bestee aan welsyn. |
|||||
|
|||||