|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
|
|
|
VANJAAR word die Wêreldbiddag vir vroue op Donderdag 6 Maart gevier en Saterdag 8 Maart is daar ook twee bid-geleenthede vir mans in die Paarl en Wellington. Die Vrouediens van die Toringkerk nooi alle Christenvroue om 6 Maart om 19:00 in die Toringkerk bymekaar te kom. Samesang begin om 18:50. Dit is vanjaar die 73ste keer dat die Wêreldbiddag vir Vroue in Suid-Afrika gehou word. Die wêreldwye tema vanjaar is "Heilige Gees, vul ons/Holy Spirit, fill us". Dit is deur die vroue van Libanon uitgewerk, en deur die Wêreldbiddag Komitee van Suid-Afrika aangepas. Dit word gelei deur Lorraine Lotz, in Afrikaans en Engels. Die Manne-Aksie van die Verenigende Gereformeerde Kerk op Wellington hou 'n biddag vir mans op Saterdag 8 Maart van 08:00 tot 09:00 in die VGK-saal Van Wyksvlei, Wellington. Die spreker is ds Wikkie Avenant en die gebedsleier Arthur van Graan. Kom geestelik voorbereid. Navrae by Cyril Arendse, 873-1167 (k/u) of 873-1690 (n/u). 'n Biddag vir mans word vanjaar ook die eerste keer in die Paarl gereël. Dit vind plaas op Saterdag 8 Maart van 07:30 tot 10:00 in die nasionale saal. Die spreker is prof Jan du Toit van Stellenbosch. Enige belangstellendes kan Louise Lourens skakel by 863-3665 of Freddie Lakay by 862-9698 of 082-700-0689. Sy e-pos adres is fredlakay@yahoo. co.uk. |
|
|
|
|
'n PRETDRAF word op Saterdag 21 Maart in die Paarl gehou as deel van nasionale TB-dag. Vanjaar is die tema vir TB-dag "Stop TB, vertel 'n vriend" en die pretdraf is deel van die bewusmaking rondom dié siektetoestand wat epidemiese afmetings in die Boland aanneem. Die wegspring is om 08:00 en deelname is gratis. Gelukkige trekkings sal ná die tyd gedoen word. Navrae by suster Dawn van der Merwe (862-3600), sr Susan Meyer (862-0106/7) of sr Naomi Farmer (807-4872). |
|
|
|
|
"EK is 'n man vir my gemeenskap en deur so baie mense te help, leer 'n mens elke dag iets nuuts." Só sê André Pietersen (36) van Wellington, wat sy dienste gratis aan mense lewer wat nie altyd die inhoud van kontrakte verstaan nie en soms blindelings net dokumente onderteken. Pietersen, wat drie jaar lank sy dienste gratis by die Wellington Dierebeskermingsvereniging aangebied het en vir wie dieremishandeling baie na aan die hart lê, spits hom nou voltyds daarop toe om veral ongeletterde mense te help om hul dokumentasie beter te verstaan. Hy is tans werkloos. "Baie van ons ouer mense in die gemeenskap is ongeletterd en dikwels is hulle te skaam om te erken dat hulle nie weet wat in 'n kontrak aangaan nie. "'n Vriendin het onlangs na my gekom, nadat haar huis op veiling was. Ek het die kontrak saam met haar deurgegaan, die saak is opgelos en in die proses is die veiling afgeweer en kon sy haar eiendom behou. "Ek kon onlangs ook 'n man help om 'n derdeparty-eis te wen, nadat hy sy fiets in 'n ongeluk op die Malmesburypad verloor het," vertel hy. Pietersen vertel dat hy daarin geïnteresseerd geraak het om mense te help met regsdokumentasie, toe hy by 'n prokureursfirma in Bellville gewerk het. "Ek was die liasseerklerk by die firma en het gaandeweg begin belang stel, namate ek gehoor het van die probleme waarmee mense na die firma gekom het." Hy het tot dusver al twintig mense bygestaan met sake soos onder meer beserings aan diens, derdeparty-eise, opstel van testamente, boedels, oordragte, egskeidings, administrasies en natuurlik ook maatskaplike dienste. Al die dienste word gratis verrig, alhoewel die kliënte 'n fooi kan betaal as hulle wil. Belangstellendes kan Pietersen by 083-9597-228 of sy vennoot Mercil Samuels by 072-2483-807 kontak. |
|
|
|
|
DIE ATKV bied vanjaar 'n unieke uitreikaksie, Projek Handevat, aan waartydens skole uit bevoorregte gemeenskappe gemotiveer word om hande te vat met hul eweknie uit 'n agtergeblewe gemeenskap. Die sluitingsdatum vir inskrywings is Vrydag 28 Februarie. Met hierdie projek word die doelwitte van die Afrika Renaissance en Nepad op 'n konstruktiewe en positiewe wyse op gemeenskapsvlak ondersteun en uitgebou. Daar word voorsien dat dinamiese opheffingsprojekte op grondvlak gaan gebeur en positiewe wisselwerking tussen verskillende skole sal plaasvind, wat nooit vantevore die geval sou wees nie. ATKV-Projek Handevat werk so: Skole word landwyd uitgedaag om deel te neem en daardeur 'n positiewe bydrae te lewer tot die groter Suid-Afrikaanse werklikheid waarbinne ons lewe. Al die voorgestelde projekte word beoordeel en twintig projekte word aangewys wat aanvangskapitaal van R5000 by die ATKV sal ontvang. Skole wat nie kwalifiseer vir die aanvangskapitaal nie, kan steeds voortgaan met hul projekte om in aanmerking geneem te word vir finale pryse. Die finale beoordeling vind aan die einde van 2003 plaas en die eerste prys is R30 000 per skool. Die tweede prys is R15 000 en die derde prys R7500. Vir meer inligting, gesels met die projekorganiseerder, Roline Haine, by (011) 886-4888 of klik op www.atkv.org.za. |
|||
|