|
DIE beoogde ontwikkeling oorkant die kampus van die Kaapse Technikon Wellington Kampus (KTWK) op die hoek van Malherbe Van Riebeeck- en Fonteinstrate het die nekhare van bewaringsbewuste Wellingtonners behoorlik laat rys.
Die ontwerp van die gebou vir 96 eenslaapkamerwoonstelle, 'n studentesentrum en twee rolprentteaters pas volgens die estetiese komitee hoegenaamd nie aan by die historiese sensitiewe omgewing nie.
Verder is beoog om heelwat ou argitektoniese juwele te sloop.
Die estetiese komitee het sedert November talle vrugtelose vergaderings met die ontwikkelaars gehad waartydens talle voorstelle ter oplossing van die probleem deur hulle voorgele is.
In hoofsaak kom dit daarop neer dat die komitee van mening is dat dit 'n esteties sensitiewe gebied is waar die sloping van verskeie geboue soos beoog 'n enorme fout sal wees. So nie sal die unieke, sogenaamde straatvoorkoms ingeboet word wat die hele karakter van die omgewing negatief sal verander.
Die komitee is nie teen ontwikkeling gekant nie, maar het dit teen die styl, omvang en formaat van die voorgestelde ontwikkeling.
Hulle stel voor dat daar in 'n nuwe plan eerder gekonsentreer moet word op 'n gefragmenteerde ontwikkeling waar bestaande ou geboue van histories argitektoniese waarde in die ontwerpplan ingesluit moet word.
Na toegewings deur die ontwikkelaar is die estetiese komitee steeds besorg dat die meerderheid van die ou geboue in die slag gaan bly en dat die straatatmosfeer vir ewig gaan verdwyn.
Sodoende sal nog 'n ou deel van Wellington se karakter finaal en onherroeplik iets van die verlede wees. Indien die ontwikkelaars voet by stuk hou, sal hulle in elk geval in terme van bestaande wetgewing 'n slopingspermit van SAHRA (South African Heritage Resources Agency) moet bekom omdat die geboue ouer is as 60 jaar.
'n Verdere wetsbepaling is dat 'n omgewingsinpakstudie gedoen moet word vir ontwikkelings groter as 5000 vierkante meter. Die korrekte toepassing van onder meer bogenoemde wetgewing is deel van die waghondfunksie van die estetiese komitee. |