|
DIE stap is 'n bietjie stadiger en as 'n mens mooi kyk, kan jy sien haar nek is effe styf, maar die glimlag behoort nog steeds aan die dinamiese Lena Kroneberg wat al beskryf is as die hart en siel van Wellington Bejaardesorg.
Eintlik sterk sy nog aan nadat sy in Oktober verlede jaar in 'n ernstige motorongeluk was.
Sy was op pad na 'n ope dag vir bejaardes op Beaufort-Wes toe die motor waarin sy 'n passasier was, omgeslaan het.
"Ek het 'n pen in my nek en die dokter sê daar is 'n kans dat ek dalk later verlam kan word. Maar intussen is daar werk om te doen," vertel sy ewe kalm.
Haar ongeluk was 'n dubbele slag, want dit het ook beteken dat sy in Paarl Medi-Clinic gelê het toe die eerste Abbeyfield-huis op Wellington geopen is.
Die huis is vernoem na tannie Lena Kroneberg, voorsitter van die Abbeyfield-komitee en ook die groot dryfveer agter die totstandkoming van dié mini-tehuis vir selfversorgende bejaardes.
"Sy is 'n formidabele vrou. Ons is maar almal effe skrikkerig vir haar, want sy vat nie nee vir 'n antwoord nie," het Jacques Carstens, munisipale bestuurder, by die opening gesê.
Tannie Lena se betrokkenheid by bejaardesorg kom 'n lang pad.
"Toe ek 'n kind was, het kinders saamgegaan as ouers uitgaan. Só het ons met bejaardes grootgeword en geleer om empatie te hê met hulle."
Sy is gebore en getoë op Wellington, waar sy tot standerd ses by Pauw Gedenkskool was. Sy het haar as onderwyseres bekwaam en sowat vyf jaar lank skoolgehou.
Hierna het die sakewêreld haar gelok en vir 35 jaar het sy 'n klere-onderneming besit.
"My besigheid was op die pad en dit het beteken dat ek op grondvlak gesien het hoe ons bejaardes leef, van gegoede huise tot die heel armste."
Tannie Lena voel ook dat baie van ons wetgewers vandag 'n gebrek aan hierdie voetsool-kennis het.
"Die wette kom uit vier mure, hulle kan gerus minder wette maak en kom kyk hoe ons probleme hanteer.
"Hier sukkel die staat nou al hoe lank om hulle nuwe raamwerk van die grond af te kry. 'n Mens kan nie help om 'n bietjie mismoedig te raak nie."
Maar dit is nie lank nie of tannie Lena vertel weer met geesdrif van alles wat nog gedoen moet word.
Die Wellington Vereniging vir Bejaardes is op 3 September 1981 gestig.
'n Behoeftebepaling wat deur studente van Stellenbosch gedoen is, het getoon dat 'n dienssentrum nodig is, en dit het in September 1984 tot stand gekom.
In 1995 is die huidige twee eiendomme van die destydse Wellington Munisipaliteit bekom en in Oktober 1991 is die dienssentrum ingewy, nadat geld van die Armoedeverligtingfonds bekom is vir die omskepping daarvan.
Fase 2 was die Abbeyfield-huis wat in Oktober geopen is en nege bejaardes huisves.
"Ons volgende projek is 'n berading- en traumasentrum vir bejaardes en dan wil ons kyk na 'n tuisversorgingsdiens."
Die Rapportryers het verlede jaar ook 'n verdienstelikheids-toekenning aan haar gemaak vir die werk wat sy reeds ingesit het vir die traumasentrum.
"Hier is baie mishandeling van bejaardes op ons dorp. Ek weet van hoeveel gevalle waar ma pak kry oor haar eie pensioen," vertel sy.
Tannie Lena sê hulle kan by die dienssentrum agterkom dat die ekonomie druk en dat die bejaardes ook maar hulle bietjie geldjies moet deel met die res van die gesin.
"Ek ken hulle nood, maar dit is belangrik dat hulle besef hulle het ook 'n verantwoordelikheid by die dienssentrum."
Dan voeg sy met 'n vonkel in die oog by: "Hulle noem my 'Miesies Geld' omdat ek altyd so gesteld is dat ons moet geld inkry - maar niks in hierdie lewe is verniet nie."
Dit is hierdie selfde waardes wat sy ook vir haar kinders geleer het en nou by haar vyf kleinkinders probeer inprent.
"Hulle sê ek is streng, maar hulle weet ook my deur is oop vir enige probleem. Dit is net dat ek voel 'n mens moet praat as iets verkeerd is."
Tannie Lena het drie kinders: George wat skoolhoof is by Windmeul Primêr, Victor wat voorligting gee by Bergrivier Sekondêr, en Wilna wat areabestuurder is vir Kindersorg op George.
En die pad vorentoe?
"Ons gaan maar aan tot ons nie meer kan nie.
"Ek wil nou die Munisipaliteit aanvat oor hulle woorde hier met die opening van Huis Kroneberg."
Jacques Carstens, munisipale bestuurder, het dié dag gesê: "Ek daag julle uit - kom ons vat hierdie hele blok en ons omskep dit in 'n blok vir die bejaardes."
Nou ja, hier is 'n klein vroutjie met 'n lang geheue, wat hom beslis nie gaan laat wegkom met leë woorde nie. |