ppostgothic
Aida
safetop
uitlefstreep

Thursday 27 May 2004

uitlefstreep

This site will be updated on 3 June  2004 at 17:30

People - Mense

b_home
fb_news
b_people
fb_lifestyle
fb_arts
fb_sport
br_schools
fb_letters
fb_business
fb_property
b_vacancies
b_classifieds
fb_archives
fb_aboutus
fb_advertise
printing
homeads
fb_touristinfo
fb_businessindex
fb_organisations
fb_contact
fb_search
Google

Search WWW
Search Paarlpost
 

Emmie terug uit die koue

[ Top ]

Susan Botha


DIT is lekker om terug te wees in Suid-Afrika, veral as mense jou op straat stop en vra: "Onthou jy my nog?"

Fotograaf Emmie Loots is deesdae weer in die rondte, nadat sy veertien jaar gelede haar tasse gepak het om Switserland toe te gaan.

"Ek was met 'n Switser getroud en gewapen met my Switserse paspoort was ek vol waagmoed."
'n Maklike tog was dit nie. Kort voor .

wlootsFC

Emmie Loots is terug na meer as 'n dekade in die buiteland.

haar vertrek was Emmie in 'n motorongeluk in Dutoitskloof betrokke.

"Ons het vir ure in die berg gelê en wag op hulp. Ek het gevoel daar is iets fout met my rug en het penregop gaan sit.

"Teen die tyd dat die ambulans kom, was my rug opgeswel in die posisie en ek kon omtrent glad nie beweeg nie.

"By die hospitaal het hulle gesê ek makeer niks en my ontslaan, maar ek het heeltyd geweet daar is iets ernstigs fout."

Emmie is per vliegtuig Pretoria toe, waar sy weer hospitaal toe is en aangedring het dat hulle haar deeglik moet ondersoek.

Tot hulle onsteltenis moes hulle uitvind twee van haar rugwerwels is vergruis en sy het sowat twaalf maande daar deurgebring.

"Ek was so gelukkig dat ek so goed herstel het," glimlag sy en vertel dat sy soms nog probleme het met die spiere in haar een arm.

Kort na haar ontslag, is sy uiteindelik land uit.

"Ek het in Zurich gebly, waar die mense Duits praat," vertel Emmie, "en ek kon nie die taal praat nie."

Dit het haar geensins afgeskrik nie en binne dae het sy tydelik begin werk by 'n meubelmaatskappy.

Die taal het sy noodgedwonge vinnig aangeleer en ses weke later het sy by 'n onderneming begin werk wat fotografiese en elektroniese toerusting verkoop.

Ná drie maande was sy onderbestuurder en ses maande later bestuurder van haar eie tak.

"Later het ek 'n aanbod gekry om by 'n rekenaarmaatskappy te gaan werk.

"Dit was baie interessant. Dit was 'n familiebesigheid en ek het alles gedoen, selfs help bou aan die rekenaars."

Die avontuurlustige Emmie het betrokke geraak by beleggings en in 1995 het sy voltyds by 'n beleggingsmaatskappy begin werk.

In 2000 het Switserland wetgewing aanvaar waarvolgens net banke mag handel dryf op die aandelebeurs.

"Toe gaan ek maar bank toe," vertel sy van die twee jaar wat sy net gewerk het met die uitsorteer van probleme.

Die laaste twee jaar in Switserland was sy voltyds sangeres en musikant, maar haar hart het begin terugstaan Suid-Afrika toe.

Sy wou al in Maart 2003 terugkom, maar 'n ski-ongeluk het haar planne gekortwiek.

"My knie was in sy peetjie en my knie-ligamente moes herstel word."

Switsers behoort aan 'n verpligte mediese fonds en dit was beter vir Emmie om eers die operasie te laat doen en te herstel voor haar vertrek.

Vroeër vanjaar het sy sak en pak in Suid-Afrika arriveer, motor en al.

"Dit is goed om terug te wees," vertel sy. "Daar is min Suid-Afrikaners oorsee wat nie wil terugkom nie, selfs die getroudes.

Emmie voel Suid-Afrikaners in die buiteland word nie reg hanteer nie.

"Die meeste van hulle kom ten minste een keer per jaar terug vir vakansie.

"Dit kos 'n fortuin, want almal dink jy het hope geld as jy oorsee woon.

"Ons bly Suid-Afrikaners en dit is nie lekker as ons nie mag stem nie, soos nou gebeur het."

Sy het veral die Suid-Afrikaanse weer en mense gemis: "Die Switsers is baie koue mense.

"Alles gaan oor geld, dit is 'n gejaag na niks. Die mense maak nie vriende nie, hulle woon op sulke 'eilandjies'.

"Hulle het glad nie 'n humorsin nie, niemand lag nie," sê sy en skerts: "Die weer is klaar sleg en dan is almal nog suur ook!"

En nou?

"Ek wil my toespits op my musiek, maar eintlik is alles oop - ek sal maar sien wat gebeur.

"Eintlik voel dit nog vir my of ek met vakansie is," glimlag sy


Franklin Huizies - die man agter Radio KC

[ Top ]


DIT was nog altyd 'n passie by my om verandering in die gemeenskap te help bring, sê Franklin Huizies, bestuurder van Radio KC, oor sy betrokkenheid by dié gemeenskapstasie en ook Koinonia gemeenskapsentrum.

Franklin is 'n stil, rustige mens, tot hy begin praat oor sy voorliefde vir die uitsaaiwese en die gemeenskap.
"Die radio is 'n ideale medium om die

wfrankFC

Franklin Huizies

gemeenskap te bereik," verduidelik hy met 'n skamerige glimlag.

Franklin is op die koue Sutherland gebore. Sy pa, 'n meesterbouer, het die gesin Paarl toe gebring en klein Franklin het sy skoolloopbaan op Wellington begin.

"Ek het my verstand in Newton gekry," glimlag hy.

Hy het matriek geskryf by Bergrivier Sekondêr en hierna is hy Skiereiland Technikon toe om elektroniese ingenieurswese te studeer.

In sowel sy eerste as tweede jaar is hy aangewys as beste student en dit het hom onder die aandag van die Vloot gebring.

"Hulle het my 'n aanbod gemaak om by die Vloot aan te sluit en deur hulle verder te studeer."

Intussen het Franklin maar altyd 'n visie gehad om iets vir die jeug te doen.

"Elke keer as ek by die huis kom, het ek jongmense gesien wat drink of besope in die strate rond is, baie van hulle nog in die skool en katkiserend.

"Ek het gevoel ek wil help, maar het nie geweet wat nie," vertel hy van sy groeiende kommer oor die verval in die gemeenskap.

"In 1996 het ek 'n baie sterk roeping gevoel om meer vir die gemeenskap te doen en my werk bedank.

"Dit het beteken dat ek 'n goeie toekoms moes prysgee, maar ek het gevoel ek het meer om te gee - die Vloot is baie rigied."

Dit was 'n traumatiese besluit vir Franklin, want teen hierdie tyd het hy en Jo-Anne, sy vrou, reeds trouplanne gehad.

"Ek het vir ses maande teengeskop, maar uiteindelik het ek bedank. Dit het beteken ons moes alles op ys plaas," vertel hy.

Deur Jo-Anne het hy by Koinonia betrokke geraak met uitreikingsprogramme.

"Koinonia was vir my die voertuig om by my visie vir die jeug uit te kom. Ek het my uitgeleef daar," onthou hy sy werksaamhede as projekbestuurder.

Toe kom die idee van 'n gemeenskapsradiostasie.

"Ek en Harlan Cloete het een oggend saam stiltetyd gehou. Ons het Romeine 15 gelees waar Paulus sê mense wat nie verstaan nie, sal hoor.

"Die woorde het my bevry en ook sommer Radio KC se leuse, "Die stasie wat vry maak", geword.

Die stasie is begin met Harlan as bestuurder en Franklin in beheer van programme.

"Ek kon my behoorlik uitleef."

Aan die einde van 1998 het hy stasiebestuurder geword en toe het hy voor die groot uitdaging te staan gekom om 'n permanente uitsaailisensie te bekom.

"Ons het elke jaar so drie keer tydelike uitsendings gedoen, terwyl ons gewag het vir 'n permanente lisensie.

"Só het ons baie ondervinding opgedoen en baie mense opgelei."

Tussendeur het Franklin ook vir 'n tyd lank Koinonia se bestuurspligte saam met die radiostasie op sy skouers geneem.

"Van 2000 tot 2002 het ek albei maatskappye bestuur en dit was 'n tawwe tyd. In dié tyd het die kontrak van Koinonia se hoofbefondser ook verstryk en my grootste taak was om te verseker dat die sentrum 'n nuwe bron van inkomste verkry.

"Gelukkig kon ons 'n kontrak sluit met die Umsobomvu Jeugfonds net voor ek weg is," vertel hy trots.

In 2001 het die stasie ook sy permanente status verkry, "nog 'n groot mylpaal".

In Desember 2001 het Radio KC permanent begin uitsaai en die jaar daarna het hulle na die middedorp verhuis.

"Ek dink dit was 'n goeie besluit, maar dit het met heelwat pyne en groot lesse gepaard gegaan. Daar was dit 'n projekkie, hier moes ons leer om 'n besigheid te wees."

Franklin vertel dat dit 'n groot omset in personeel veroorsaak het: "Dit was 'n nuwe uitdaging om te trotseer en antwoorde op te vind".

Einde verlede jaar het hy voorstelle aan die raad van trustees gemaak vir ingrypende veranderinge by die stasie wat teen Maart vanjaar afgehandel is.

"Daar is nog groeipyne, ons moet meer deursigtig wees en ons interne kommunikasie moet opgeknap word," peins hy en verduidelik dan van die kopsere om 'n radiostasie met 'n korps uiteenlopende vrywilligers te bedryf.

"Ons het op 'n stadium 45 vrywilligers gehad en dit het baie dae veroorsaak dat daar koppe gestamp is."

Eersdaags sal die stasie se nuwe programrooster bekend gestel word.

Maar alles draai darem nie net om werk vir Franklin nie.

Ses jaar gelede is hy en Jo-Anne getroud en "ons is nog baie verlief".

Hulle het twee kinders, Karsten (4) en Kira (15 maande).

"Ons is regtig geseën," glimlag hy breed en vertel dat sy betrokkenheid by ontwikkeling ook die waarde van 'n gesin by hom vasgelê het.

"Dit is soms maar moeilik om 'n model-pa te wees met die laat ure. Dan is daar nog my verpligtinge by die kerk én ek is 'n direkteur by Koinonia."

En vorentoe?

"Ek en Jo-Anne het planne om oor 'n paar jaar Gauteng toe te verhuis, sodat sy haar dansskool nasionaal kan vestig.

"Ek glo die toekoms van gemeenskapsontwikkeling lê binne kommunikasie.

"My hart sal maar altyd geanker wees in die uitsaaiwese en ek sal graag 'n model wil skryf vir die betrokkenheid van die media in gemeenskapsontwikkeling," droom hy.

Dan raak hy stil en in 'n paar woorde verduidelik hy sy sukses, sy visie en sy toekomsdrome: "Die goue draad deur dit alles bly my geloof".


Iemand sorg vir die siekes se versorgers

Malané Bosman

[ Top ]


HULLE sorg dat siek mense gehelp word en beseerde mense gered word, en nou sorg iemand op sy beurt vir die tuin om die Paarlse ambulansstasie.

Raymond McMahon is die weldoener, met sy Evergreen Tuindienste, en goeie kennisse wat weer op hul beurt vir hom blomplante, struike en boompies verskaf.

Daar is geskenke van gruisklippies en teerpale wat gebruik gaan word om 'n voetpaadjie te maak waar veral skoliere kortpad vat tussen Sanddriftstraat en die Bergrivier Boulevard.

McMahon is nie familie van sy naamgenoot, die dokter en groot gees van die Kaapse Metro Nooddienste en provinsiale rampbestuur, nie.

Dis nie daarom dat hy gratis sy dienste aan die ambulansmanne aangebied het nie.

"Elke dag as ek hier verbyry, pla dit my. En elke keer lyk dit al erger," het McMahon gesê.

Ja, beaam ambulans-offisier David Engelbrecht, Openbare Werke het ander prioriteite en hulle kry nie geld vir opknapping nie.

Die Paarl is die enigste ambulansdiens wat nog sy eie gebou het, die ander is almal reeds by hospitale ingeskakel. En vir die onderhoud staan die Paarlsstasie ver van voor in die ry.


Rugbylegende sterf skielik

[ Top ]


DIE Paarlse rugbylegende en opsigter van Klein Nederburg Sekondêr is Dinsdagaand onverwags na 'n hartaanval by die oefening van sy geliefde Rangers op Daljosafat oorlede.

Adam Dombas (60) het langs die veld gestaan besig met afrigting toe hy skielik ineengestort het. Hy is op pad na die hospitaal oorlede.

Hy is onlangs saam met ander van die Drakenstein-gebied vereer met 'n Springbokbaadjie nadat hy die Proteaspan in die sewentigs aangevoer het.

Hy was 'n sterk agsteman wat ook met groot gemak die bal van alle hoeke op die veld deur die pale gejaag het.

Behalwe sy pligte was Dombas nou betrokke by dié skool se rugby. Hy het veral die stelskoppers en die skool se voorspelers afgerig. 'n Roudiens is gisteroggend by die skool gehou.

Dombas word oorleef deur sy seuns Adrian, Medwin, Cleve, sy dogter Fraulein en twee kleinkinders, Courtney en Hailé.

Die begrafnis is Saterdag om 10:00 uit die huis in Maasdorpstraat en om 11:00 in die Bethel Cong Kerk.


Bekende oorlede

[ Top ]


'n BEKENDE Wellingtonner, Isaac Poole (73), is verlede week oorlede in die Silwerkruin ouetehuis.

Mnr Poole was vroeër jare baie aktief in die gemeenskap en het in die Bestuurskomitee van Wellington gedien.

Hy het aanvanklik soos sy pa Henry as skoenmaker gewerk, maar was later winkelier en versekeringskonsultant.

Hy was kerkraadslid van St Alban's Anglikaanse Kerk en majoor van die Seunsbrigade.

Hy was ook vroeër jare trommajoor van die Excelsior Kersfeeskoor, voorsitter van die Wellington Tuinbouvereniging en aktief in sportkringe (rugby en krieket).

Hy word oorleef deur twee dogters, Pauline Carlse van Wellington en Patsy Mackerel van Kraaifontein, ses kleinkinders en tien agterkleinkinders.

Die begrafnis is Saterdag om 14:00 by St Alban's Kerk met besigtiging van 13:00.


[ Top ]

Tel: (021) 871-1170 - e-mail: edit@ppost.co.za  

[ Top ]

[ Top ]