|
gemeenskap te bereik," verduidelik hy met 'n skamerige glimlag.
Franklin is op die koue Sutherland gebore. Sy pa, 'n meesterbouer, het die gesin Paarl toe gebring en klein Franklin het sy skoolloopbaan op Wellington begin.
"Ek het my verstand in Newton gekry," glimlag hy.
Hy het matriek geskryf by Bergrivier Sekondêr en hierna is hy Skiereiland Technikon toe om elektroniese ingenieurswese te studeer.
In sowel sy eerste as tweede jaar is hy aangewys as beste student en dit het hom onder die aandag van die Vloot gebring.
"Hulle het my 'n aanbod gemaak om by die Vloot aan te sluit en deur hulle verder te studeer."
Intussen het Franklin maar altyd 'n visie gehad om iets vir die jeug te doen.
"Elke keer as ek by die huis kom, het ek jongmense gesien wat drink of besope in die strate rond is, baie van hulle nog in die skool en katkiserend.
"Ek het gevoel ek wil help, maar het nie geweet wat nie," vertel hy van sy groeiende kommer oor die verval in die gemeenskap.
"In 1996 het ek 'n baie sterk roeping gevoel om meer vir die gemeenskap te doen en my werk bedank.
"Dit het beteken dat ek 'n goeie toekoms moes prysgee, maar ek het gevoel ek het meer om te gee - die Vloot is baie rigied."
Dit was 'n traumatiese besluit vir Franklin, want teen hierdie tyd het hy en Jo-Anne, sy vrou, reeds trouplanne gehad.
"Ek het vir ses maande teengeskop, maar uiteindelik het ek bedank. Dit het beteken ons moes alles op ys plaas," vertel hy.
Deur Jo-Anne het hy by Koinonia betrokke geraak met uitreikingsprogramme.
"Koinonia was vir my die voertuig om by my visie vir die jeug uit te kom. Ek het my uitgeleef daar," onthou hy sy werksaamhede as projekbestuurder.
Toe kom die idee van 'n gemeenskapsradiostasie.
"Ek en Harlan Cloete het een oggend saam stiltetyd gehou. Ons het Romeine 15 gelees waar Paulus sê mense wat nie verstaan nie, sal hoor.
"Die woorde het my bevry en ook sommer Radio KC se leuse, "Die stasie wat vry maak", geword.
Die stasie is begin met Harlan as bestuurder en Franklin in beheer van programme.
"Ek kon my behoorlik uitleef."
Aan die einde van 1998 het hy stasiebestuurder geword en toe het hy voor die groot uitdaging te staan gekom om 'n permanente uitsaailisensie te bekom.
"Ons het elke jaar so drie keer tydelike uitsendings gedoen, terwyl ons gewag het vir 'n permanente lisensie.
"Só het ons baie ondervinding opgedoen en baie mense opgelei."
Tussendeur het Franklin ook vir 'n tyd lank Koinonia se bestuurspligte saam met die radiostasie op sy skouers geneem.
"Van 2000 tot 2002 het ek albei maatskappye bestuur en dit was 'n tawwe tyd. In dié tyd het die kontrak van Koinonia se hoofbefondser ook verstryk en my grootste taak was om te verseker dat die sentrum 'n nuwe bron van inkomste verkry.
"Gelukkig kon ons 'n kontrak sluit met die Umsobomvu Jeugfonds net voor ek weg is," vertel hy trots.
In 2001 het die stasie ook sy permanente status verkry, "nog 'n groot mylpaal".
In Desember 2001 het Radio KC permanent begin uitsaai en die jaar daarna het hulle na die middedorp verhuis.
"Ek dink dit was 'n goeie besluit, maar dit het met heelwat pyne en groot lesse gepaard gegaan. Daar was dit 'n projekkie, hier moes ons leer om 'n besigheid te wees."
Franklin vertel dat dit 'n groot omset in personeel veroorsaak het: "Dit was 'n nuwe uitdaging om te trotseer en antwoorde op te vind".
Einde verlede jaar het hy voorstelle aan die raad van trustees gemaak vir ingrypende veranderinge by die stasie wat teen Maart vanjaar afgehandel is.
"Daar is nog groeipyne, ons moet meer deursigtig wees en ons interne kommunikasie moet opgeknap word," peins hy en verduidelik dan van die kopsere om 'n radiostasie met 'n korps uiteenlopende vrywilligers te bedryf.
"Ons het op 'n stadium 45 vrywilligers gehad en dit het baie dae veroorsaak dat daar koppe gestamp is."
Eersdaags sal die stasie se nuwe programrooster bekend gestel word.
Maar alles draai darem nie net om werk vir Franklin nie.
Ses jaar gelede is hy en Jo-Anne getroud en "ons is nog baie verlief".
Hulle het twee kinders, Karsten (4) en Kira (15 maande).
"Ons is regtig geseën," glimlag hy breed en vertel dat sy betrokkenheid by ontwikkeling ook die waarde van 'n gesin by hom vasgelê het.
"Dit is soms maar moeilik om 'n model-pa te wees met die laat ure. Dan is daar nog my verpligtinge by die kerk én ek is 'n direkteur by Koinonia."
En vorentoe?
"Ek en Jo-Anne het planne om oor 'n paar jaar Gauteng toe te verhuis, sodat sy haar dansskool nasionaal kan vestig.
"Ek glo die toekoms van gemeenskapsontwikkeling lê binne kommunikasie.
"My hart sal maar altyd geanker wees in die uitsaaiwese en ek sal graag 'n model wil skryf vir die betrokkenheid van die media in gemeenskapsontwikkeling," droom hy.
Dan raak hy stil en in 'n paar woorde verduidelik hy sy sukses, sy visie en sy toekomsdrome: "Die goue draad deur dit alles bly my geloof". |