|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
|
|
|
DIE professionele arm van die Boland Krieketraad, Boland Krieket (Edms) Bpk, tree Maandag in werking. Die Boland Krieketraad het al in 1998 begin kyk na die interne skeiding van sy amateur en professionele werksaamhede. Die Verenigde Krieketraad van Suid- Afrika (VKRSA) se verdeling vroeër vanjaar het egter die onderskeie provinsiale krieketrade genoodsaak om in sy voetspore te volg. Boland Krieket (Edms) Bpk sal al die professionele aangeleenthede soos die Boland A-span, borgskappe, advertensies, losies en Boland Krieket as handelsmerk hanteer. Die Boland Krieketraad sal hom bepaal by die amateur-sy van sake en fokus op die klubs, skole, skeidsregters, Boland Vrouekrieket en Boland Blindekrieket. Twee poste, dié van hoof uitvoerende beampte en finansiële en administratiewe beampte van Boland Krieket, is verlede week in die pers geadverteer. Die maatskappy se raad van direkteure sal bestaan uit 'n voorsitter en ondervoorsitter, tesourier, hoof uitvoerende bestuurder, finansiële bestuurder en twee direkteure wat nie op die bestuur van die Boland Krieketraad dien nie. Tydens die Boland se algemene jaarvergadering wat Vrydag gehou is, het Henry Paulse, president van Boland Krieketraad, die teenwoordiges aangemoedig om vir die poste aansoek te doen. Hy het ook gerugte dat persone wat reeds op Boland se raad dien, hul invloed gaan gebruik om ook in die poste aangestel te word, ontken en gesê bestuurslede sal eers moet bedank alvorens hulle vir die poste kan aansoek doen. Hy het dit ook benadruk dat daar goed na die talent in die Boland gekyk moet word. "Ons wil nie deur die skole en op klubvlak aan 'n speler skaaf nie en dan wanneer hy (op provinsiale vlak) begin deurkom, raap iemand anders met 'n groter beursie hom op. "As die professionele era beteken dat dit die kleiner provinsies gaan dooddruk, dan wil ons nie deel wees daarvan nie," het Paulse gesê. Tydens die vergadering is twee vakante bestuursposte gevul deur die verkiesing van Peter Cyster (Young Peoples Krieketklub) en Andrew Apollis (Paarl-Oos Krieketklub) as ondervoorsitter en addisionele lid van die Boland Krieketraad. Reëlings vir die drie Wêreldbekerwedstryde wat volgende jaar op BoE Park gespeel gaan word, verloop vlot. "Die kontrakteurs het Maandag begin bou aan die spelerslosies, toilette en sekuriteitsbeheerkamer. Die dreinering- en besproeiingstelsel, asook die nuwe nette en kolfblad is ook in die finale fase van voltooiing," het Pietie Williams, hoof uitvoerende beampte van Boland, gesê. Danksy donateurs en borgskappe wat 'n skenking van R74 000 deur sy beskermheer, Howell Lloyd, insluit, kon Boland Krieketraad ook nuwe kantore aanbou. "Ons bedank graag almal wat hier 'n bydrae gemaak het." Volgens Williams het die meeste spelers van die Boland A-span reeds kontrakte met die provinsie geteken. "Van die nuwe spelers wat gekontrakteer is, is Wallace Albertyn en Jacques van Wyk, terwyl James Henderson besluit het om sy krieket by die Noordwes Drake voort te sit," sê Williams. Volgens Williams is die betaling van rente op R1,5 miljoen wat Boland aan die Drakenstein Munisipaliteit skuld, eers stopgesit tot ná die Wêreldbeker, waarna Boland se finansiële situasie herstruktureer sal word. Luidens Williams se jaarverslag is die Boland se wedstrydbywoning 'n groot kwelpunt en sal daar beslis gekyk moet word na aggressiewe bemarking. "Daar is definitief 'n behoefte aan 'n bemarkingspersoon by BKR wat strukture in plek kan stel om toeskouers na die wedstryde te lok." |
|
|
|
|
HEELWAT verrassings het Saterdag die eerste Boland Padfiets-kampioenskappe gekenmerk, met die Matie-ryers wat veral hul teenwoordigheid laat voel het. Die seniorwedren wat aanvanklik oor 180km sou strek, is met 'n rondte verminder na 135km nadat die bondel kleiner was as wat verwag is. Onder die plaaslike ryers was dit net Garth Thomas wat 'n plek gekry het onder die top drie ryers. Lorenzo Cupido het uitgesak nadat hy in die eerste rondte 'n voorsprong van 2:30 minute gehad het. Ricardo Heneke wat die week met griep gesukkel het, het moedig probeer, maar het in die derde rondte tou opgegooi. Die Matie-ryer Ian Guff het met die eerste plek weggestap, terwyl sy klubmaat Steven Cook in die derde plek geëindig het. Volgens Howard Heneke, sekretaris van Boland Fietsry Unie, was die deelnemers vol lof vir die roete. "Die ryers was almal gelukkig met die roete. Die plaaslike ryers en ryers van Stellenbosch is almal redelik vertroud met die roete aangesien hulle gereeld daarlangs oefen en het dus geweet wat hulle te wagte kan wees," sê Heneke. Die veterane-afdeling het heelwat opwinding opgelewer toe Orpheus Opperman van Worcester die gunsteling, Paarliet Greg Botha, op die lyn geklop het. Wayne Green (Rhadsport) was in die derde plek. Onder die juniors het Nolan Hoffman (Rhadsport) en Lucian Adonis (Yorkshire) eerste en tweede geëindig, gevolg deur Yagja Savahl van Worcester. Durwin Benjamin (Rhadsport) het die o.16 afdeling met gemak gewen, met klubmaat Bertram Siebrits tweede en Dewald Fourie van Yorkshire in die derde plek. Die o.14 en o.12 afdelings was 'n gesinsaak met die Jacobs broers, Webster en Jardino, van Yorkshire wat albei die groepe gewen het. Die tweede en derde o.14-ryers was Reginald Benjamin (Rhadsport) en Arthur Benjamin van Worcester, terwyl Courtney Martin en Robin November, van Rhadsport en Yorkshire onderskeidelik, die orige top twee plekke gevul het in die o.12 afdeling. Myra Craven (Maties), Magdelene Nicholson (Yorkshire) en Megan Lawrence van Worcester was die enigste vroueryers en het medaljes in onderskeidelik die vroue senior, junior en o.12 ouderdomsgroepe verower. "Ons ryers kan net sterker raak, veral ná die goeie padseisoen wat ons agter die rug het. Ons het nie net die talent nie, maar spog ook met baie goeie roetes wat voorsien in al die aspekte van padfietsry soos bergklimme en naelritte. Daar is dus iets vir elke ryer en hulle kan baie goed voorberei," sê Howard. Volgens hom voorspel dit goeie vooruitsigte vir die Boland ryers in die komende SA Padkampioenskappe wat in Julie in Pretoria gehou word. * Howard Heneke het 'n week gelede tydens 'n spesiale vergadering op Worcester as voorsitter van Boland bedank om die groot taak van sekretaris te vul. Elrick Kulsen is as die nuwe voorsitter verkies. |
|
|
|
|
'n JONG Paarliet is een van die vyf gimnaste wat in Julie SA tydens die Statebondspele in Manchester sal verteenwoordig. Julian Witbooi (16) van Simondium het sedert hy as sewejarige begin gimnastiek doen het, meteoriese opgang gemaak in dié sport. Nadat hy sy laerskooljare aan Laerskool Courtrai voltooi het, het hy vir twee jaar by HJS skoolgegaan. Sy behoefte aan professionele gimnastiek-afrigting het hom toe genoodsaak om sy skoolopleiding in Kaapstad voort te sit. Vandag is hy 'n leerder aan die Hoërskool Groote Schoor en oefen hy onder die wakende oog van twee wêreldklas-afrigters, Gabor Kovacs van Hongarye en Hong Bin van China. Benewens sy insluiting in die SA-span na die Statebond Spele, tel die Wêreldkampioenskappe in België in September 2001 ook onder die hoogtepunte in sy loopbaan. Sy deelname aan die Statebond Spele voorspel goeie vooruitsigte vir Witbooi, wie se grootste begeerte is om aan die 2004 Olimpiese Spele deel te neem. |
|
|
|
|
ALBIONS het Saterdag weer eens in die laaste minute van hul rugbywedstryd 'n oorwinning oor Young Stars op Daljosafat deur hul vingers laat glip. Die Paarliete het in die eerste helfte goed saamgespeel, met veral Fadel Moerat wat op skrumskakel leiding gegee het. Dit lei dan tot twee drieë deur Ashley Manuel (heelagter) en die kaptein, Ronnie Lottering (stut). Dit het die rustydtelling op 10-6 gebring. Onder die voorspelers was dit die flank Adam Moerat wat een van sy beste wedstryde nog gespeel het. Ook in die lynstane was daar goeie vertonings met die slotte wat telkens balbesit vir Albions verseker het. In die tweede helfte het die Paarliete effens agteroor gesit en Young Stars kans gegee om 12-10 die voortou te neem. Albions het weer die bordjies verhang toe die regtervleuel, Ju-Wayne Cyster, gaan druk het. Die plaasvervangerlosskakel, John Stevens, vergroot Albions se voorsprong met 'n strafskop na 18-12. Maar met net twee minute oor, sak Albions se hoop in hul skoene toe Young Stars druk en oorskop. Die eindfluitjie blaas met die tuisspan wat 19-18 verloor. Albions se tweede en derde spanne het meer sukses gehad en wen onderskeidelik 20-5 en 3-0. * Young Peoples het Saterdag in die Paarl op Faurestraat Stadion met mooi hardloopspel vir Elsiesrivier United 44-19 afgeransel. Die Tiere het ses drieë gedruk en so 'n waardevolle bonuspunt verwerf. Die tuisspan se groot staatmaker was die losskakel, Sam Titus. Benewens die gehalte van sy algemene spel, het sy lyn- en stelskopwerk Peoples voortdurend laat oorheers. Die vertroue waarmee Titus gespeel het, was ook duidelik toe hy 'n blitsige skepskop deur die pale gejaag het. Ander spelers wat ook uitgeblink het, was Jacques Lategan (vleuel), Giezler Sitzer (senter) en die stut, Brian Williams. Lategan (2), Sitzer, Justin Fortuin, Charles Booysen en Clifton Hendricks het vir Peoples gedruk, terwyl Titus drie gedoel en met 'n straf- en skepskop geslaag het. * Daar is nog steeds dinge wat nie stryk nie, maar die Rooi Rose van Young Gardens kan moed skep nadat hulle die naweek op hul tuisveld 6-6 gelykop gespeel het teen Hamlets. Foute op kritieke tye het veroorsaak dat Gardens by vier geleenthede nie op die doellyn kon gaan kuier nie. Daar sal beslis hard gepraat en geskaaf moet word as Gardens enigsins nog 'n krag in die Premier A-liga wil wees. Chesley Thee en Arnold Fortuin het elk met 'n strafskop geslaag. * Paarl sit gemaklik in die stuurstoel van die Premier B-liga nadat hy Saterdag in 'n wegwedstryd 37-0 met Peninsula afgereken het. Dit was 'n kwessie van algehele oorheersing deur Paarl met nie een van Peninsula se drie spanne wat punte op die bord kon kry nie. In die eerste span het Jannie van Staden, Alreich Muller 2, Jacques Hendricks en John Claassen gedruk, terwyl Len Bester met drie doel- en twee strafskoppe geslaag het. Die tweede en derde spanne het 74-0 en 20-0 gewen. Paarl is tot dusver onoorwonne en tans bo-aan die punteleer met 42 punte, gevolg deur Stellenbosch Coronations met 35. Paarl speel Saterdag sy laaste wedstryd van die eerste rondte weg teen Langa en volgens statistiek behoort die Paarliete ook dié stryd te wen. |
|
|
|
|
DIE jarelange droom om haar land in haar gunstelingsport te verteenwoordig het onlangs vir 'n pluimbalspeler van die Paarl gerealiseer. Eda Venter, wat vir die Paarl Pluimbalklub in die eerste liga speel, neem al vir die afgelope 30 jaar aan dié sport deel. In dié tyd het dié 54-jarige die Boland telkens verteenwoordig. Sy is ondermeer drie keer in die seniorspan opgeneem en het vir die afgelope 14 jaar die Boland Veteranespan by die SA-toernooi verteenwoordig. Die glorie van die nasionale span het haar egter nog altyd ontwyk, tot vanjaar. Venter en haar spanmaat Wilma Dobie van Stellenbosch is albei in die SA Meesterspan opgeneem na afloop van 'n toernooi wat van 10 tot 14 Junie op Stellenbosch gespeel is. Behalwe dat die twee as die damesdubbelskampioene aangewys is nadat hulle met die span van Noord-Gauteng afgereken het, is Venter ook gekroon met die titel van sportvrou van die toernooi. "Ek was stom geslaan toe ek die nuus hoor. Dit is werklik vir my 'n droom wat waar geword het," het Venter gesê oor haar insluiting in die nasionale span. Die twee Bolanders sal in Augustus hul staal wys tydens die SA toernooi in Port Elizabeth. Venter se man, André, was ook lid van die Boland Meesterspan wat op Stellenbosch gespeel het. Hy en spanmaat Terence Thompson (Somerset-Wes) het in die halfeindstryd van die mansdubbelskompetisie teen die span van Noord-Gauteng verloor. In die gemengde dubbels het die Venter egpaar ook in die semifinaal uitgeval toe hulle weer die knie moes buig voor die Noord-Gautengers. Die Boland span eindig gevolglik tweede in die A-afdeling agter Noord-Gauteng. |
|
||||