|
EK is al vir ongeveer 13 jaar 'n huiseienaar te Wellington en met die uitsondering van een maand (April 1998), was my munisipale rekening nog nooit agterstallig nie.
Soos nog elke maand het ek my rekening op 15 Februarie vanjaar gaan betaal by ons plaaslike Pick 'n Pay wat hierdie diens aanbied. Die tjeks is sommer al die volgende dag deur my rekening by die bank.
Op Woensdag 20 Februarie kom ek ongeveer 17:00 by die huis en vind toe uit die hele dorp se krag is af. Toe dit so 17:30 weer aankom, bly my krag nog steeds af.
Ek is 19:00 weg na 'n geselligheid en kom toe eers weer 23:00 by die huis - en my krag is steeds af.
Siende dat ek tevore al die noodnommer van die Munisipaliteit na ure geskakel het en ek 'n bloutjie geloop het, besluit ek toe dat ek sal wag tot in die oggend voordat ek bel. Dit blyk toe die verkeerde besluit te wees.
Om 08:20 op die 21ste bel ek die Wellington Munisipaliteit om uit te vind hoekom dan nou juis my krag af is. 'n Mnr Julies by Navrae sê toe dat ek nie my rekening betaal het nie al het ek die kwitansies as bewys.
Toe hy my vra waar ek betaal het, noem hy dat Pick 'n Pay nooit die kwitansies aan hulle gestuur het nie. Na 'n paar sinne skakel hy my deur na 'n mev Horn, wat toe by my wil weet hoekom ek dan nie maar 23:00 gebel het nie.
Ek wou nog verduidelik hoekom nie, toe sy my meedeel dat my krag al om 12:00 afgesny is en dat daar wel 'n nota in my posbus gegooi is.
Dié nota moes seker weggewaai het, want toe ek by die huis kom, was daar een brief en 'n klomp advertensies in my bussie.
Die probleem het blykbaar by Pick 'n Pay gelê wat nie betyds die kwitansies aan die munisipaliteit besorg het nie.
My vraag aan die munisipaliteit is: kon niemand in die vyf dae wat verby is vanaf 15 tot 20 Februarie navraag by Pick 'n Pay of op rekenaars gedoen het om te sien hoe betalings gedoen is en of Pick 'n Pay nie dalk 'n probleem gehad het nie?
Heel duidelik maak dit nie saak dat ek nog elke maand getrou my rekening betaal het nie, want sonder om seker te maak of ek betaal het, sny die Munisipaliteit my krag af.
Ek stel voor dat die Munisipaliteit 'n ander stelsel vind om die regte wanbetalers te lys en teen hulle op te tree of om 'n navraag of twee te doen om te sien wie het betaal op of teen die spertyd elke maand (soos duidelik op die rekening gedruk word), veral by Pick 'n Pay waar die diens aangebied word.
Dit lyk vir my asof hierdie aksie nie goed deurdink is nie en nou word die blaam vir die fout by 'n getroue betaler of by die verskaffer van die diens gelê.
Natasha Borman, Wellington
Die munisipale bestuurder van Drakenstein, Jacques Carstens, reageer: Daar het 'n rekenaarprobleem ontstaan by Pick 'n Pay Wellington. Sekere transaksies is deur die rekenaar weggelaat.
Hoewel die Munisipaliteit die geld ontvang het, kon nie vasgestel word wie dit inbetaal het nie.
Nadat die probleem op 20 Februarie vasgestel is, het personeel van die winkel die name van die persone wat betaal het, deurgefaks om verdere probleme te verhoed.
Ons is werklik jammer oor die ongerief wat die probleem vir gereelde betalers veroorsaak het. Baie dankie aan almal wat gereeld betaal en sodoende by te dra tot ons mikpunt om van Drakenstein 'n wendorp tot voordeel van sy inwoners te maak.
Aan diegene wat nie gereeld betaal nie - doen asseblief julle deel. |