|
Paarl se huishoudelike water is nie altyd ideaal nie, maar beslis beter as net aanvaarbaar," is die interpretasie van 'n analise.
Die Munisipaliteit erken dat daar so spoedig moontlik 'n suiweringsaanleg op Paarlberg aangebring moet word sodat die water uit die damme op die berg dwarsdeur die jaar bo verdenking bly.
Verlede jaar is daar bevind dat die water wat uit die Bergrivier na die bergdamme gepomp is, nie altyd voldoen aan die standaarde vir drinkwater nie.
Die aanbeveling deur die uitvoerende komitee van die Drakenstein Stadsraad, dat 'n suiweringsaanleg opgerig word, is geneem ná 'n verslag deur Ninham Shand konsulterende ingenieurs.
Dit berus nou by die Raad om die oprigting "met hoë prioriteit" in die Julie-begroting goed te keur.
Dit sal twee jaar duur om te bou en sal sowat R8 miljoen kos. Daarna is die jaarlikse bedryfskoste sowat R1,2 miljoen - heelwat minder as die alternatief om meer water uit die Wemmershoekdam aan te koop.
Die Paarl gebruik jaarliks sowat 13 600 megaliter water, waarvan sowat 1 000 megaliter uit die Bethel- en Nantesdamme op die berg kom. Die res is uit die Wemmershoekdam.
Nantesdam word in droër tye aangevul deur water wat uit die Bergrivier gepomp word.
Volgens die verslag word "pype, loodgietery en opgaardamme beskadig deur korrosie en die water se aggressiwiteit.
"Yster en mangaan in die pype vlek wasgoed en mure."
Troebelheid weens fyn kleipartikels behoort met die beoogde suiweringsaanleg iets van die verlede te wees, aangesien organiese materiaal deur sandfilters verwyder sal word.
Volgens 'n munisipale woordvoerder sal 'n kalkstabiliseringsproses gevolg kan word wat die pH balans sal verbeter.
Ontsmetting (chlorisering) sal meer effektief toegepas kan word en fluoridisering kan ook met die nuwe aanleg ingestel word.
Een van die klagtes uit Sentraal-Paarl waaroor munisipale amptenare kopkrap, is dié van Stephanie Siegruhn in Du Toitstraat.
Volgens haar brand gesinslede se kele wanneer hulle water uit die huis se krane drink.
Siegruhn het opgemerk dat iets met die water skeel toe dit spierwit bly.
"Dis niks om oor bekommerd te wees nie, dis net lugborrels," het 'n amptenaar oor die telefoon gesê.
"Maar lugborrels maak tog seker nie 'n poeierige afskeiding bo-op die water, of 'n rand om die glas nadat dit verslaan het nie," meen Siegruhn.
"Die water het 'n chemiese reuk en ons word naar daarvan."
Volgens Hanré Blignaut, aan hoof van waterverskaffing van die Munisipaliteit, kry 90 persent van die Paarl, asook die hele Wellington, water uit die Wemmershoekdam.
Vir die Paarl is daar sowat 17 000 waterverskaffingspunte met 100 000 verbruikers uit Wemmershoekdam. 'n Verdere 3 000 punte (13 000 mense) kry water van die Paarlberg.
"Dat die probleem net by die enkele woning in Du Toitstraat lê, is onbegryplik.
"Pypwerk in private stelsels kan ook kwaliteit op 'n perseel beinvloed."
Sedert die einde van verlede jaar word drukbestuur toegepas om wisselende en te hoë druk wat pype laat bars, te beheer.
Daar was sedertdien 'n afname in waterdruk in laagliggende dele van die Paarl.
"Dit daal egter nooit onder die minimumvereiste van 2,4 bar nie," sê Blignaut.
"Met die waterbeperkings van 2001, was die Paarl se waterverbruik 23 persent laer as dié van 2000. Die drukbestuur het teweeggebring dat die verbruik hierdie somer 'n verdere 10 persent gedaal het.
"Ons bespaar nou vier miljoen kiloliter per jaar. Al is beperkings nou minder drasties, werk verbruikers wonderlik saam."
* Die Stellenbosse Munisipaliteit het verlede jaar bevind dat die bergwater na Franschhoek bykomende chloorbehandeling benodig, nadat kwaliteitstoete deur die WNNR getoon het dat waterkontaminasie dikwels SABS standaarde oorskry het.
* The drinking water piped to Paarl residents on the slope of Paarl Mountain has been described as "acceptable but not ideal" by the SABS. |