|
NIEMAND moet ooit weer 'n rassistiese aanmerking voor my maak nie - ek het gesien wat burgeroorlog aan 'n land doen.
Só sê Hennie Fouché, brandweerhoof van Drakenstein, na ses maande in Kosovo, 'n provinsie van die oorlogverskeurde Joego-Slawië.
"Daar is niks wat 'n land so vernietig soos 'n burgeroorlog nie - dit is verskriklik as burgers van een land vir mekaar bang is.
"Ek kan die emosies wat ek ervaar het, nie in woorde omskryf nie."
Fouché het as deel van die Verenigde Nasies vredesmag 'n program ontwikkel om voormalige soldate van die bevrydingsmag op te neem in 'n beskermingsdiens.
Fouché se eerste kontak met Kosovo was gedurende sy termyn as president van die SA Nooddienste Instituut van 1999 tot 2001 toe 'n span van Kosovo aan die reddingskompetisie by die wêreldkongres deelgeneem het.
Hulle het met hom gesels oor hulp en in Augustus is Fouché Kosovo toe om te kyk na soek en redding, brandbestryding, chemiese gevalle en noodmediesedienste.
"Dit het groot sensitiwiteit en empatie gekos, want die soldate moes gedemilitariseer word, waarna hulle geëvalueer is vir diens."
Fouché was ook betrokke by die opleidingstrategie en die opstel van studiemateriaal. Die materiaal moes alles in Albaans en Serwies vertaal word.
Sy vrou, Marlene, het twee maande by hom gekuier en uiteindelik is selfs sy ingespan om Afrikaanse materiaal in Engels te vertaal.
"Dikwels het hulle nie woorde vir die tegniese terme gehad nie en dan moes ons nuwe woorde skep."
"Die groot probleem in Kosovo is dat die meeste staatsgeboue, ook brandweerstasies, murasies is. Die geboue is plat en die mense het gevlug."
Maar dan vertel Fouché 'n storie wat hom nog steeds hoendervleis laat kry.
"Ons het op hierdie een brandweerstasie afgekom wat reeds twee jaar lank opereer sonder enige staatshulp. Die personeel het sonder betaling gewerk en selfs uit hul eie sakke vir brandstof betaal.
Fouché sê hy was geskok om te sien hoe inwoners van een land mekaar kan vrees.
"Daar is feitlik geen kontak tussen hulle nie. Die meeste Albane bly in die stad met die Serwiërs wat uitgewyk het na die dorpies rondom.
"Ons het tussen die Serwiërs gewoon, want dit is bitter vuil en deurmekaar in die stad.
"Die mense kry verskriklik swaar, maar hulle gasvryheid is ongelooflik. Wat hulle het, deel hulle met bure en vriende.
"Hulle is redelik selfonderhoudend. Hulle kweek hul eie groente, bak die heerlikste brood, maak kaas en hou varke, hoenders en kalkoene aan en 'n koei vir melk."
Fouché is eerlik dat dit 'n groot aanpassing was om in Oos-Europa te woon.
"Baie mense met wie ek gewerk het, is vir twaalf jaar skoolopleiding ontsê en ons moes mense oplei wat nie kan lees en skryf nie."
Hy erken onomwonde dat hy niks geleer het uit 'n brandweer-oogpunt nie, aangesien die land so ver agter Suid-Afrika is.
"Maar wat ek wel gesien het, is mense se dankbaarheid. Ek het ook geleer hoe maklik dit is om met minder klaar te kom as wat ons dink.
"Toe ek daar gekom het, het ons vier ure krag gehad en dan weer twee ure niks. Met tye was ons tot 36 ure sonder krag en dus ook sonder warm water. Partykeer was daar nie eens water nie.
"Ek het teruggekom met 'n waardestelsel wat totaal verander het."
Fouché het in Pretoria grootgeword en het in sy pa se voetspore gevolg toe hy brandweerman geword het.
"Brandbestryders is spesiale mense. Daar is min ander beroepe waar mense saam eet, slaap, bly, 24 uur per dag. Hulle word 'n familie."
Fouché het in die laat sewentigerjare Paarl toe gekom, nadat hy by die afdelingsraad aangestel is.
Vyftien jaar gelede is hy aangestel as brandweerhoof van Paarl Munisipaliteit. Deesdae is hy koördineerder van brandweer vir Drakenstein is Fouché verantwoordelik vir Paarl, Wellington, Hermon, Gouda en Saron.
Brandbestryding het geweldig verander gedurende sy loopbaan - van struktuur-, bos- en grasbrande tot vandag se chemiese brande. "Informele behuising het ons ook met 'n nuwe soort brand gekonfronteer."
Dit het meegebring dat opleiding vandag net by geakkrediteerde sentrums gedoen word.
"Ek is baie trots daarop dat Paarl een van net twee sulke sentrums in die Wes-Kaap is. Die ander een is Kaapstad," vertel hy en voeg by dat Paarl internasionale status geniet.
Fouché het 'n passie vir sy beroep, maar hy is ook 'n gesinsman by uitnemendheid.
Hy het sy vrou in die Kaap ontmoet. Marlene, 'n gebore Franschhoeker, het ook by hom 'n liefde vir die kunste geleer, in só 'n mate dat hy 'n jaar lank voorsitter van die plaaslike teaterklub was.
Die egpaar het twee kinders. Jacques is 'n chemiese ingenieur in Johannesburg en Melani studeer teatermusiek in Pretoria.
Hy is 'n man met onverwagse fasette - 'n brandbestryder wat glo in dissipline en entoesiasme vir sy beroep, maar ook iemand wat met diep empatie kan sê hy kan niemand kwalik neem wat oorreageer op 'n brandtoneel nie.
"Ek verstaan ook dat niks wat ons doen, ooit goed genoeg of vinnig genoeg sal wees in die oordeel van die slagoffer nie."
Van een ding is 'n mens seker as jy by sy kantoor uitstap: 'n brandweerman word gebore, nie gemaak nie.
* Drakenstein's fire chief spent three months working in war-torn Kosovo in Yugoslavia. |