safetop
b_home
fb_news
b_people
fb_lifestyle
fb_arts
fb_sport
br_schools
fb_letters
fb_business
fb_property
b_vacancies
b_classifieds
fb_archives
fb_aboutus
fb_advertise
printing
homeads
fb_touristinfo
fb_businessindex
fb_organisations
fb_contact
fb_search
Google

Search WWW
Search Paarlpost
 
uitleg2mouthpiece
ppostgothic
uitlefstreep

Thursday: 28 August 2003

uitlefstreep

This site will be updated on: 5 September  2003 at 17:00

People - Mense


Geen voete van klei

Leon Steenkamp

[ Top ]


BESTE VRIENDE. Ernst van Dyk deel sy huis in Noorder-Paarl met twee Siberiese Huskies. Hier wys Luca presies hoe lief hy sy baas het.             Foto's: Leon Steenkamp 

DIE rolstoel-atleet Ernst van Dyk was nog sy lewe lank oorgehaal om sukses te behaal ten spyte van sy gestremdheid.

Dié top Suid-Afrikaanse atleet en boorling van Ceres het vroeër vandeesmaand van Stellenbosch na die Paarl getrek, juis om sy sport beter te

wwolf

kan beoefen."Dit is baie veiliger om op die Malmesbury- of Agter-Paarl-pad te oefen as die paaie buite Stellenbosch. Die mense jaag glad nie so verskriklik hier nie," sê Ernst,wat daagliks sowat 30km met sy rolstoel oefen.

Hy deel sy huis in Noorder-Paarl met sy twee Siberiese Huskie-honde, Luca en Zoë. Daar is ook 'n meisie in sy lewe.

Van Dyk is gebore sonder voete, 'n genetiese afwyking wat ook sy regterhand aangetas het.

"Laat hom aanneem", was die dokters se raad aan sy ouers toe hy 30 jaar gelede gebore is. Hy sal nie 'n kwaliteit-lewe hê nie het hulle gemeen, min wetend tot watter hoogtes dié einste gebrek hom sou aanspoor.

Die Van Dyks is 'n sportiewe gesin. Ernst se pa het vir Boland rugby gespeel, sy ma vir Suidwestelike Distrikte netbal. Daarby het sy twee jonger broers, Walter (25) en Francois (17), provinsiale kleure in landloop en rugby.

Ernst self was van kleins af 'n kranige atleet.

"Ek was in 'n gewone skool tot Sub B. Maar my belangstelling in sport het so groot geraak dat hulle nie meer in my behoeftes kon omsien nie. Ek is toe na die Elizabeth Conradie-skool vir Gestremdes op Kimberley," vertel Ernst.

Hier het hy provinsiale kleure gekry in swem, tafeltennis, basketbal en veld-en-baan. Swem was egter sy groot liefde.

Op 18-jarige ouderdom het hy die Suid-Afrikaanse swemspan in die Paralimpiese Spele in Barcelona verteenwoordig.

Ná Barcelona het hy egter besluit om swem te los.

"Die eentonigheid van die swembad, met net die bodem wat jy die heeltyd sien, het my begin vang.

"Die min geld wat daar in die sport as beroep is, het ook my besluit gesterk want finansies is ook 'n oorweging," vertel Ernst.

Op 19-jarige ouderdom het hy besluit om op rolstoelwedrenne te fokus.

Gevra of die lang pad nie ook sy deel van eentonigheid het nie, sê Ernst: "Pad het variasie, die omgewing verander gedurig."

Maar dit het baie werk en deursettingsvermoë gekos voor Van Dyk sukses sou proe.

"Sjoe, dit het lank gevat voor ek my eerste groot deurbraak gemaak het. Dit was eers in 2001 toe ek die Boston Marathon gewen het."

En wat het hy beleef toe hy dié dag oor die wenstreep gery het?

"Verligting. So baie dinge kan verkeerd gaan en om dan te wen - jou emosies is baie deurmekaar."

Sedertdien is Van Dyk een van die voorste atlete van dié sport in die wêreld met suksesse in marathonne, halfmarathonne, 10km wedlope asook oor afstande van 400m, 800m en 1500m.

Hy is tans die wêreldrekordhouer in die 400m met 'n tyd van 47,05s en kon in die afgelope drie jaar nie oor dié afstand geklop word nie.

Die goeie jaar wat Ernst tot dusver agter die rug het, getuig van sy toewyding.

Behalwe vir tweede plekke in die Los Angeles en Pittsburgh marathonne en in die Grand Rapids 25km wedloop, was die hoogtepunt van die jaar sy derde agtereenvolgende oorwinning in die Boston Marathon.

Daarby het hy in Australië alvier wedrenne gewen wat deel uitmaak van die Summer Down Under Reeks oor 10km en 15km.

Met soveel wat hy al reeds bereik het, watter mikpunte is daar nog vir hom in sy sport?

"My groot mikpunt is om die rekordtyd van 1:20:14 vir 'n marathon, te breek. My tyd is tans 1:23:19, so ek is naby. Dan wil ek ook die rekord, om die Boston Marathon vier keer agtereenvolgend te wen, ewenaar of verbeter," sê Ernst.

Met sy grootste teenstanders wat almal reeds 35 jaar of ouer is, het Ernst jeug aan sy kant en kan hy nog vir die volgende tien jaar mededingend deelneem.

"Die standaard raak al hoe hoër en die wedrenne raak al hoe beter, veral met die borgskappe wat nou bykom."

Dit is juis die borgskap van 'n Amerikaanse hospitaal-groep wat Ernst deesdae breed laat glimlag.

"Met my borg wat nou al my uitgawes dek, kan ek vir die eerste keer my prysgeld spaar en self aanwend, pleks van dit te moet insit in vliegkaartjies om weer oorsee deel te neem."

Met prysgeld in Dollars, Pond of Euro, is dit wel die moeite werd om Amerika toe te vlieg vir 'n 10km wedloop waar die prysgeld $4000 is. Sy eerste plek in Boston het hom $10 000 in die sak gebring.

Reis is iets waarmee Ernst goed vertroud is. Verlede jaar het hy 500 uur op 'n vliegtuig spandeer.

Volgens Ernst het tegnologie nie so 'n groot rol gespeel in die verbetering van rolstoel-atletiek nie.

"In my 11 jaar van deelname het die sport tegnies nie baie verander nie. Die reëls is baie rigied met betrekking tot jou rolstoel. Die sport het net meer toeganklik geraak en is nie meer so duur nie

"Vroeër was dit net atlete van Amerika en Europa wat kon bekostig om deel te neem - deesdae kom jou sterkste kompetisie van dié twee lande asook Mexiko, Thailand, Kanada, Frankryk en Suid-Afrika.

"Die ouens oefen harder en meer professioneel," vertel hy.

Maar Ernst is nie tot 'n rolstoel gebind nie, op sy prostetiese bene troon hy oor die ses voet - 'n hele 1,92m. Voeg daarby die breë borskas en gespierde arms en hy pas perfek in sy rol as gimnasiumbestuurder.

Wanneer hy nie oorsee deelneem nie, is Ernst (wat 'n honneursgraad in Sportwetenskap het) die operasionele bestuurder by die gimnasium van die Universiteit Stellenbosch.

Hy het so pas teruggekeer van Zürich waar hy aan 'n 1500m vertoonwedren sou deelgeneem het.

"Hulle het die baanoppervlak verander. Dit is nou baie sagter en benadeel swaarder atlete soos ek. Ek het toe besluit om eerder die pasaangeër te wees, wat eintlik meer betaal het as die eersteplek-prysgeld.

"Ek was voor tot en met die laaste 100m toe drie ouens my verbygesteek het. Ek was vierde en 0,08s agter die derde atleet.

Dinsdag het Ernst hom by die SA Atletiekspan aangesluit wat in Parys aan die Wêreld Atletiekkampioenskappe gaan deelneem.

Ernst is die enigste gestremde atleet wat in dié span opgeneem is, met die 1500m wat die enigste item vir gestremdes op die program is.

Hy is die houer van drie wêreldrekords en wenner van al die groot internasionale rolstoelwedrenne: moet hy homself nog bewys?

"Ek het gedink ek het al genoeg gedoen, tot ek onlangs op 'n vlug van Johannesburg Kaap toe langs FW de Klerk gesit het - en hy het nie geweet wie ek is nie. So, daar is ruimte vir verbetering," sê hy met 'n glimlag.

Ernst was in Johannesburg vir 'n onderhoud met M-Net, as hul sportman vir Meimaand.

"Die feit dat ek so baie stemme gekry het, wys mense neem notisie en gee erkenning.

"Ek wil nie hê die mense moet na my kyk en sê ag shame nie, hulle moet sê wow," sê hy.

* World-class wheelchair athlete Ernst van Dyk has settled in Paarl.


Vra vir Charlotte Cupido van die ou paaie

[ Top ]


HAAR bekende wipstappie is op Wellington goed bekend.

Op twee-en-tagtig lyk sy met haar jeugdige vel, lewendige verteltrant en belangstelling in almal en alles om haar nie 'n dag ouer as vyftig nie. 

Charlotte Cupido was baie jare lank onderwyseres in musiek en Engels aan die Hoërskool Bergrivier - 'n gesoute onderwyseres wat baie kinderlewens help vorm het.

Vanaf haar dae as jong onderwyseres in die Bovlei was sy aktief in die Sustersbond en in jeugorganisasies, en betrokke by die afrig van kore.  Vandag is sy steeds bedrywig - sy is 'n bekende

wlotte

Charlotte Cupido

figuur by Wellington se Toerismeburo, waar gemeenskapstoerisme 'n voorliefde is. 

Vrydagmôres doen sy diens in Ouma Granny se huis in Fonteinstraat, 'n liefdeswerk.

Sy is betrokke by die Vriende van Afrikaans, en by die Breytenbach Sentrum. En steeds is haar plek in die kerk nie leeg nie.

Pas is 'n boekie uitgegee waarin haar herinneringe opgeteken staan - "Vra na die ou paaie". 

Maar Charlotte is 'n mens wat aangehoor moet word; 'n bobaasverteller wat met handgebare, lyfaksies en oë 'n storie kan laat lewe. 

Waarom sy die boekie geskryf het?

"Ek het besef dat baie mense nie die wonderlike ryk verlede van my dorp en sy mense ken nie - ou gebruike en lekker tye wat vir altyd verlore sal wees. 

"My suster Ruth het altyd as ek iets so diep uit die verlede opgrawe, vir my gesoebat om dit neer te skryf.

"Die jaar 1921 - my geboortedatum - strek ver terug. Ek het wonderlike mense geken wat my help vorm het."

Sy het helder herinneringe van toe wit en bruin saamgebly het in Fonteinstraat, waar Silwerkruin vandag staan, en ook om die draai, Bainstraat af.

"Ons was goeie bure en goeie vriende; niemand het mekaar gepla nie.

"Waar Silwerkruin se hek vandag in Fonteinstraat uitloop, was Tollie Jacobs se "haberdashery" - knopies, gare, naalde, haarlinte kon ons by Tollie se winkel koop. Skraal en fyn was Tollie, op sulke hoëhakskoene. 

"Gereeld en getrou en op haar plek het sy wip-wip in die kerk op die hoek van Kerkstraat, regoor die Moederkerk, ingestap gekom. 

"Dit was voor die dae van apartheid. Ons het, waar ons deurmekaar gewoon het, saam aamblou gespeel, hard gelag en geskreeu, en mekaar "aan" geslaan totdat ons ouers ons in die skemer huis toe geroep het."

Die ou Sendingkerk wat destyds oorkant die Moederkerk gestaan het, was 'n pragtige gebou in die Hollandse boustyl - twee vlerke en 'n skip, 'n galery met twee kore, junior en senior, se sitplekke agter in die sitdeel.

Die Duitse orrel het asem geskep deur hom met die hand te pomp, in die een vlerk, voor die konsistorie. En die preekstoel - 'n ware pragstuk van donker hout.

'n Pragtige gewel voor, en buite, die kerkklok.

Tollie Jacobs het gesweer sy sit nie haar voete in die nuwe kerk nie. En die dag toe Tollie begrawe word, kon die ou lykswa nie stilhou om Tollie behoorlik uit die nuwe kerk te begrawe nie, uit vrees dat dit nie weer aan die gang kom nie. 

Tollie se dreigement is bewaarheid - sy is begrawe sonder dat sy haar voete in die nuwe kerk gesit het!

Daar was daardie dae besondere gebruike rondom lyke en begrafnisse. Die lyk is in die huis gehou - twee tot drie dae lank, totdat die begrafnis uit die huis plaasgevind het. 

"As ons iemand met 'n sinkplaat sien hardloop het, het ons geweet. Baie mense het maar altyd 'n sinkplaat gehad. 

"En dan hardloop hulle weer vir bloekomblare. Want so is die lyk bewaar: gewas, en dan op die bloekomblare, op die sinkplaat onder 'n silwerskoon laken uitgelê. En dan kon die bure kom lyk-kyk.

"Met 'n sekere oom Ernst se uitlê, was dit vir my so oulik dat hy lank voor die tyd gesorg het vir die sakkie waarin die sout moes kom, en vir die naald waarmee dit toegewerk moes word voordat dit op die naeltjie geplaas is. 

"Sy pragtige wit doodskleed met die kantjies en valletjies om die nek, was ook lankal klaar in die laai."

'n Mens bespeur by haar 'n verlange na die ou dae, want baie kosbare dinge het verlore gegaan - ook eerbied en respek.

"Daar is sekere waardes wat waarhede bly, oor geslagte heen. Soos byvoorbeeld om stil te staan as 'n ouer persoon aankom, en padgee sodat die persoon kan aanstap en verbygaan.

"Of wanneer jy sien iemand dra swaar, hardloop om die deur oop te maak, al dink jy nie eers daaraan om te help nie.

"En om jou skoene of skoolsak nie in die donker gang neer te smyt sodat 'n bejaarde daaroor kan val nie.

"Om vir jou ma "Nag Ma" te sê of 'n môresoentjie te gee. 

"En om 'n ding klaar te maak wat jy begin het.

"Ja, ek dink nog met nostalgie terug aan ou maniere van dinge doen - 'n tradisionele manier van kerk toe gaan, ou danse, ons hofmaak-tradisies."

Maar op 82 lyk dit of Charlotte Cupido ook by vandag aanpas, en kan sy jou met lewendige handgebare baie dinge vertel wat in die dorp gebeur, en in vandag se wêreld aangaan.

Dalk is juis dít die geheim van haar jeugdigheid.

* Charlotte Cupido has published a book on her memories of the Wellington of yesterday.


Well-known retired principal dies

[ Top ]


ONE of the most respected residents of Mbekweni, Halman Sam Mandlakhe (Stick) Landu, died early on Sunday morning from heart failure. He was 75.

Landu, who retired as principal of Mbekweni Primary in 1993, was born at 30 Lady Grey Street in Paarl, in the backyard of Rabinowitz & Berman hardware merchants.

The family lived in Castle Street, and later in Ambagsvallei Street and Agterstasie until they were removed to Mbekweni due to the Group Areas Act.

Landu started his primary education at the Holy Trinity Anglican School on the corner of Derksen and Thom Street.

He qualified as a teacher at the Athlone Training College in Paarl in 1948 and his teaching career took him to Kakamas, Marchand, Athlone, Gugulethu and finally to Mbekweni Higher Primary where he retired as principal in 1993.

In 1960 he married Edith Nomsa Jewell, who died in 1992. Later he married Lettie Pienaar.

Landu leaves five children and 14 grandchildren.

Landu was born a Methodist, but later joined the Adventist Church where he was a church elder until his death. He was one of the co-founders of the Mbekweni SDA church.

He was active in the community, amongst others as assessor at court, a TRC official and a committee member of the Land Claims Committee, the Mbekweni Concerned Residents, TB Supporters and the Drakenstein Heemkring.

In his younger days he was an excellent rugby player and played for the Athlone Institute and Riverstones. He also earned Boland and WP colours.

"He will forever be remembered for his dedication and love of God, discipline, education and standing for the truth until the bitter end," says a friend.

"He has done so much for our community - he was respected and loved by all."

The funeral is on Sunday at 08:00 at the home at NQ17, Firans Street, and from 09:00 to 13:00 in the community hall. At 13:00 the procession will start to the Klein Parys cemetery.


Von Kotze laat dinge gebeur

[ Top ]


"SUKSES is 'n relatiewe term. Daar is soveel sakemanne hier in die Paarl, maar om suksesvol te wees, moet 'n mens goed laat gebeur."

So sê Von Kotze, besturende direkteur van Courtrai Auto in Hoofstraat, Suider-Paarl.

Hy het 'n ver pad gekom sedert hy op Boshof in die Vrystaat gebore is en aan die Rooidakskool gematrikuleer het in 1962.

Na matriek het hy as ouditeursklerk by Samuels, Viljoen en Bekker in Kimberley begin werk, maar gou het die motorhandel gewink.

Sy heel eerste kennismaking met die motorbedryf was in 1964, toe hy by Human Motors op Kimberley begin het. In 1975 het hy en Carel Redelinghuys op Caledon 'n Datsun-agentskap geopen, waarvan daar ook takke op Hermanus en Grabouw was.

Saam-saam het hulle daarna 'n Ford agentskap in 1981, ook op Caledon, op die been gebring, maar in 1983 het hulle besluit om elkeen sy eie, paadjie te loop.

"Dit was ook Carel wat my geleer het om op my eie bene te staan, my op die pad gesit het en geleer het om kanse te waag," vertel Kotze van sy eertydse vennoot.

In 1984 het hy besluit om al ses sy besighede te verkoop.

"Die langpad het my begin onderkry en nadat ek in twee motorongelukke betrokke was, het ek op 40-jarige ouderdom besluit om die tuig neer te lê."

Stilsit was egter nie vir hom bedoel nie.

Op 1 April 1986 het hy die Schus Nissan perseel in Paarl oorgeneem en in gebruikte motors begin handel dryf.

 'n Woonwa-agentskap is die jaar daarna op Goodwood oorgeneem.

Kort daarna het die Mazda agentskap gevolg. In 1999 het Samcor egter besluit dat Mazda en Ford gekonsolideer moet word en het Kotze dit aan Novel Ford verkoop.

Op 1 Julie 1999 het die Daewoo agentskap na die Paarl gekom en einde 2002 het hy ook die Kia agentskap ingekatrol.

"My studies het gewys dat Kia Motors 'n goeie opkomende agentskap is wat baie sukses oorsee behaal.

"Die wêreld verander so vinnig deesdae, dat jou visier deurentyd op die groter besigheidsprentjie gestel moet wees.

" 'n Mens moet goed laat gebeur - Ek het nie gesit en wag vir die Kia agentskap nie, maar gegaan vir dit wat beskikbaar is.

"Ons is nou die enigste onafhanklike Kia motorhandelaar in die Wes-Kaap (Die vier afhanklike takke is in Tygerberg, Tokai, George, Somerset-Wes en Kaapstad).

"Die Kia kry goeie aftrek in die Paarl en die opgradering van ons persele sal binnekort begin," het hy gesê.

Courtrai Auto is nou ook terug in die kommersiële mark met 4x4's, MPV's, bakkies en paneelwaens.

Vandag is vrou Marie aan sy sy as finansiële bestuurder, met dogter Marina die algemene bestuurder by die woonwabesigheid en seun Jaco verkoopsbestuurder by die motors.

En wanneer die motorbesigheid hom nie té besig hou nie, speel Von graag rolbal.

Hy is lid van die Paarlse Sakekamer en  ook betrokke by die Avalon Springs Hotel op Montagu.


[ Top ]

Tel: (021) 871-1170 - e-mail: edit@ppost.co.za