|
kan beoefen."Dit is baie veiliger om op die Malmesbury- of Agter-Paarl-pad te oefen as die paaie buite Stellenbosch. Die mense jaag glad nie so verskriklik hier nie," sê Ernst,wat daagliks sowat 30km met sy rolstoel oefen.
Hy deel sy huis in Noorder-Paarl met sy twee Siberiese Huskie-honde, Luca en Zoë. Daar is ook 'n meisie in sy lewe.
Van Dyk is gebore sonder voete, 'n genetiese afwyking wat ook sy regterhand aangetas het.
"Laat hom aanneem", was die dokters se raad aan sy ouers toe hy 30 jaar gelede gebore is. Hy sal nie 'n kwaliteit-lewe hê nie het hulle gemeen, min wetend tot watter hoogtes dié einste gebrek hom sou aanspoor.
Die Van Dyks is 'n sportiewe gesin. Ernst se pa het vir Boland rugby gespeel, sy ma vir Suidwestelike Distrikte netbal. Daarby het sy twee jonger broers, Walter (25) en Francois (17), provinsiale kleure in landloop en rugby.
Ernst self was van kleins af 'n kranige atleet.
"Ek was in 'n gewone skool tot Sub B. Maar my belangstelling in sport het so groot geraak dat hulle nie meer in my behoeftes kon omsien nie. Ek is toe na die Elizabeth Conradie-skool vir Gestremdes op Kimberley," vertel Ernst.
Hier het hy provinsiale kleure gekry in swem, tafeltennis, basketbal en veld-en-baan. Swem was egter sy groot liefde.
Op 18-jarige ouderdom het hy die Suid-Afrikaanse swemspan in die Paralimpiese Spele in Barcelona verteenwoordig.
Ná Barcelona het hy egter besluit om swem te los.
"Die eentonigheid van die swembad, met net die bodem wat jy die heeltyd sien, het my begin vang.
"Die min geld wat daar in die sport as beroep is, het ook my besluit gesterk want finansies is ook 'n oorweging," vertel Ernst.
Op 19-jarige ouderdom het hy besluit om op rolstoelwedrenne te fokus.
Gevra of die lang pad nie ook sy deel van eentonigheid het nie, sê Ernst: "Pad het variasie, die omgewing verander gedurig."
Maar dit het baie werk en deursettingsvermoë gekos voor Van Dyk sukses sou proe.
"Sjoe, dit het lank gevat voor ek my eerste groot deurbraak gemaak het. Dit was eers in 2001 toe ek die Boston Marathon gewen het."
En wat het hy beleef toe hy dié dag oor die wenstreep gery het?
"Verligting. So baie dinge kan verkeerd gaan en om dan te wen - jou emosies is baie deurmekaar."
Sedertdien is Van Dyk een van die voorste atlete van dié sport in die wêreld met suksesse in marathonne, halfmarathonne, 10km wedlope asook oor afstande van 400m, 800m en 1500m.
Hy is tans die wêreldrekordhouer in die 400m met 'n tyd van 47,05s en kon in die afgelope drie jaar nie oor dié afstand geklop word nie.
Die goeie jaar wat Ernst tot dusver agter die rug het, getuig van sy toewyding.
Behalwe vir tweede plekke in die Los Angeles en Pittsburgh marathonne en in die Grand Rapids 25km wedloop, was die hoogtepunt van die jaar sy derde agtereenvolgende oorwinning in die Boston Marathon.
Daarby het hy in Australië alvier wedrenne gewen wat deel uitmaak van die Summer Down Under Reeks oor 10km en 15km.
Met soveel wat hy al reeds bereik het, watter mikpunte is daar nog vir hom in sy sport?
"My groot mikpunt is om die rekordtyd van 1:20:14 vir 'n marathon, te breek. My tyd is tans 1:23:19, so ek is naby. Dan wil ek ook die rekord, om die Boston Marathon vier keer agtereenvolgend te wen, ewenaar of verbeter," sê Ernst.
Met sy grootste teenstanders wat almal reeds 35 jaar of ouer is, het Ernst jeug aan sy kant en kan hy nog vir die volgende tien jaar mededingend deelneem.
"Die standaard raak al hoe hoër en die wedrenne raak al hoe beter, veral met die borgskappe wat nou bykom."
Dit is juis die borgskap van 'n Amerikaanse hospitaal-groep wat Ernst deesdae breed laat glimlag.
"Met my borg wat nou al my uitgawes dek, kan ek vir die eerste keer my prysgeld spaar en self aanwend, pleks van dit te moet insit in vliegkaartjies om weer oorsee deel te neem."
Met prysgeld in Dollars, Pond of Euro, is dit wel die moeite werd om Amerika toe te vlieg vir 'n 10km wedloop waar die prysgeld $4000 is. Sy eerste plek in Boston het hom $10 000 in die sak gebring.
Reis is iets waarmee Ernst goed vertroud is. Verlede jaar het hy 500 uur op 'n vliegtuig spandeer.
Volgens Ernst het tegnologie nie so 'n groot rol gespeel in die verbetering van rolstoel-atletiek nie.
"In my 11 jaar van deelname het die sport tegnies nie baie verander nie. Die reëls is baie rigied met betrekking tot jou rolstoel. Die sport het net meer toeganklik geraak en is nie meer so duur nie
"Vroeër was dit net atlete van Amerika en Europa wat kon bekostig om deel te neem - deesdae kom jou sterkste kompetisie van dié twee lande asook Mexiko, Thailand, Kanada, Frankryk en Suid-Afrika.
"Die ouens oefen harder en meer professioneel," vertel hy.
Maar Ernst is nie tot 'n rolstoel gebind nie, op sy prostetiese bene troon hy oor die ses voet - 'n hele 1,92m. Voeg daarby die breë borskas en gespierde arms en hy pas perfek in sy rol as gimnasiumbestuurder.
Wanneer hy nie oorsee deelneem nie, is Ernst (wat 'n honneursgraad in Sportwetenskap het) die operasionele bestuurder by die gimnasium van die Universiteit Stellenbosch.
Hy het so pas teruggekeer van Zürich waar hy aan 'n 1500m vertoonwedren sou deelgeneem het.
"Hulle het die baanoppervlak verander. Dit is nou baie sagter en benadeel swaarder atlete soos ek. Ek het toe besluit om eerder die pasaangeër te wees, wat eintlik meer betaal het as die eersteplek-prysgeld.
"Ek was voor tot en met die laaste 100m toe drie ouens my verbygesteek het. Ek was vierde en 0,08s agter die derde atleet.
Dinsdag het Ernst hom by die SA Atletiekspan aangesluit wat in Parys aan die Wêreld Atletiekkampioenskappe gaan deelneem.
Ernst is die enigste gestremde atleet wat in dié span opgeneem is, met die 1500m wat die enigste item vir gestremdes op die program is.
Hy is die houer van drie wêreldrekords en wenner van al die groot internasionale rolstoelwedrenne: moet hy homself nog bewys?
"Ek het gedink ek het al genoeg gedoen, tot ek onlangs op 'n vlug van Johannesburg Kaap toe langs FW de Klerk gesit het - en hy het nie geweet wie ek is nie. So, daar is ruimte vir verbetering," sê hy met 'n glimlag.
Ernst was in Johannesburg vir 'n onderhoud met M-Net, as hul sportman vir Meimaand.
"Die feit dat ek so baie stemme gekry het, wys mense neem notisie en gee erkenning.
"Ek wil nie hê die mense moet na my kyk en sê ag shame nie, hulle moet sê wow," sê hy.
* World-class wheelchair athlete Ernst van Dyk has settled in Paarl. |