safetop
b_home
fb_news
b_people
fb_lifestyle
fb_arts
fb_sport
br_schools
fb_letters
fb_business
fb_property
b_vacancies
b_classifieds
fb_archives
fb_aboutus
fb_advertise
printing
homeads
fb_touristinfo
fb_businessindex
fb_organisations
fb_contact
fb_search
Google

Search WWW
Search Paarlpost
 
ppostgothic
uitlefstreep

Thursday 28 October 2004

uitlefstreep

This site will be updated on 4 November 2004.

Aida

People - Mense


Voller figure versier West te skilderdoek

Engla Duvenage

[ Top ]


Wie't gesê volronde vroue kan nie 'n topverkoper wees nie?

Vra maar vir Wellingtonse kunstenaar Ronald West, en die Spier Wynlandgoed, want danksy eersgenoemde se kreatiewe kwas en laasgenoemde se vrugtige wyne het hulle 'n wenresep genaamd "Fat Ladies" beet.

Die skroefdop-wynreeks tel onder Spier se topverkopers - 'n sukses wat ook toegeskryf kan word aan die wynetikette waarop Ronald se speelse skilderye pryk.

wronaldFC

Ronald West

Daar's onder meer 'n wulpse kaal vrou wat tussen sonneblomme lê en boeklees (natuurlik in uiters goeie smaak gedoen), 'n vrou in 'n sonrok met katte en rose, en 'n trio van groter as modelgrootte bikini's wat 'n glasie wyn skink.

"Die wynmaker was op soek na 'n nuwe idee vir 'n wynreeks, sien toe my werk en besluit toe om dit volgens die `Fat Ladies' tema te bemark," vertel Ronald uit die rustigheid van sy studio op die plaas Voor-Groenberg, waar hy saam met sy vrou Jolene en seuntjie Ethan bly.

Die kopieskrywer van die bemarkingsmateriaal het rojaal met woorde gespeel om die wyne en skilderye te vermeng.

"It is based on the concept of the plumper the wine, the better the enjoyment," word daar borduur.

Daarby word die reeks van drie wyne beskryf as 'n "sexy Sauvignon Blanc", 'n "rotund Rosé" en 'n "curvaceous" Cabernet Sauvignon/Merlot versnit "bursting with flavour".

Ronald het pas 'n vierde skildery - van 'n vrou wat viool speel - gelewer aan Spier, vir 'n nuwe semi-droë wyn wat eersdaags bekend gestel sal word.

Dis egter nie net met wynetikette maak waarmee Ronald deesdae sukses het nie. Danksy sy agent, Lindie van Niekerk, word sy prettige olieverfskilderye reeds in 25 galerye landswyd en twee in Namibië verkoop, en hy kan skaars voorbly.

Dit wil nogal gedoen wees vir iemand wat geen formele skilderopleiding het nie, buiten vyf jaar op skool by die PJ Olivier Kunssentrum op Stellenbosch toe hy op beeldhou gekonsentreer het.

Ure en ure se sketswerk het hom geleer om figure soos 'n dokter laag vir laag te dissekteer, en het 'n basis gelê vir 'n deeglike verstaan van lyn, diepte en komposisie.

Sy lewe het eers 'n paar interessante draaie geloop voordat hy op dié punt gekom het dat hy vir die afgelope twee jaar voltyds kan skilder, en sowat agt ure per dag met verfkwas, palet en soms 'n skerppunt voorwerp om detail uit te krap, besig bly.

Ná skool het hy grafiese ontwerp by die Kaapse Technikon gaan swot, maar nie heeltemal aanklank gevind by die hoekige aard van die kursus nie.

Daarna het hy besproeiing installeer, drie jaar op Delheim as assistent-boerderybestuurder gewerk en toe vir 'n jaar aan 'n Bybelskool in Milnerton (waar hy sy vrou ontmoet het) studeer. Hy het ook besighede verkoop in die Strand. Nogal heelwat vir enigiemand om in 30 jaar in te pas!

Terwyl hy as verkoopsman van digitale kantoortoerusting gewerk het, het Jolene vir hom 'n esel gekoop "seker omdat sy kon sien ek's besig om dood te gaan."

Stadig maar seker het hy met die kwas begin praat, so een skildery per maand. Een van sy oefenwerke, 'n eenvoudige, realistiese komposisie van 'n beker in skakerings van geel, hang nog teen sy studiomuur, 'n herinnering aan waar alles vir hom begin het.

Sy eerste uitstalling in Januarie 2002 was op Wellington by sy suster se huis in Berg-en-Dal. Al sy skilderye is verkoop - party vir so goedkoop as R350. Skaars twee jaar later verkoop sy werk reeds vir by die R5000.

By die onlangse Decorex uitstalling in Johannesburg het hy sy aan sy met die bekende Stellenbosser Porchie geskilder, en 40 werke op die plek verkoop.

Sy loopbaan het 'n wending geneem toe hy begin werk het met 'n speelse inslag, van helderkleurige dieetsku vroue, Italiaanse straattonele, landskappe tot langwerpige vroue met vlerke.

Sy voller figure en die Meditereense gevoel van sy nuutste reekse verkoop die beste. Jolene se gunstelinge is egter sy landskappe en meer realistiese tonele met figure.

"Ek dink mense vind by my speelse werk aanklank omdat hulle so gejaagd lewe en by die huis wil wegskram van erns," bespiegel Ronald.

Danksy kunstenaars soos Pieter van der Westhuizen, Claerhout en Piet Grobler is daar oor die afgelope jare 'n al groter besef in kunskringe dat ligter kuns met humor ook beleggings kan wees.

"En dat hul skeppers ook 'serious' kunstenaars kan wees," voeg Ronald by.

Dit lyk asof dié gesinsman se waagtoertjie byna twee jaar gelede om eensklaps uit sy stabiele werk as verkoopsagent te bedank, vrugte afwerp.

Om soveel kommersiële werke te lewer kan nogal uitmergelend wees, maar hy sê dat hy elke keer 'n nuwe beeld vorm. Daarby moet hy vir sy al groter wordende gesin sorg, natuurlik. 

Hy't nog baie te leer, erken hy, maar op die oomblik geniet Ronald dit om sy gunstelingbuisie Alizarin rooi verf oop te draai en aan die ronde boude van 'n rokspant te werk, klein kwashaal vir klein kwashaal.

Viva vet vroue, dus.


Bekende oorlede tydens toer

[ Top ]


'n ALOMBEKENDE liggaamsbouer en gewigopteller van die Paarl, Carl (CJ) Fredericks (66), het Vrydagaand aan 'n hartaanval gesterf terwyl hy saam met die Bolandspan onderweg was na Kimberley vir die nasionale kampioenskappe.

Hy het siek gevoel en van die pad afgetrek in die Prins Albert-omgewing, en is in die minibus oorlede.

Fredericks laat 'n baie groot leemte wat beswaarlik gevul sal word, het woordvoerders van Boland en die Paarl Physical Culture Club gesê.

Staatmaker

"Daar word met groot hartseer afskeid geneem van 'n baie goeie vriend en staatmaker wat sedert die stigting van die klub en vereniging in 1958 betrokke was."

Hy en sy vrou Sophia was die kern waarom die Paarl Klub gedraai het in die laaste jare Hy het 'n leidende rol gespeel by die stigting van klubs in Wellington, Mbekweni, Victor Verster, Pniel en Ceres.

CJ was lewenslange lid van die Paarl Klub, die Boland Vereniging asook die SANBA.

Hy het ook verskeie posisies oor die jare beklee en was ook telkemale bestuurder van die Bolandspan en 'n uitblinker in liggaamsbou, waar hy verskeie titels gewen het, onder andere Mnr Boland in 1963. By die Nasionale Kampioenskappe het hy 3de en 4de plek behaal.

CJ word oorleef deur sy vrou, kinders Donovan, Quinton, Claudette en Karin en ses kleinkinders.

Die begrafnis is Saterdag tuis by Endlerstraat 20 om 09:00 en 10:00 by die Annunciation Kerk, Paarl.


[ Top ]

Tel: (021) 871-1170 - e-mail: edit@paarlpost.co.za  

[ Top ]