|
DIE eindeksamen het vir baie matrieks, en hul ouers, te vinnig aangebreek. Nou moet hulle vir oulaas alles uithaal om die beste uitslae te verseker.
Hoe het sake tot dusver verloop?
Brandon Morrie van Klein Nederburg Sekondêr meen die eerste vraestelle was nie te kwaai nie.
"Ek het lekker geskryf, want indien jy oplettend was deur die jaar, sou dit nie nou sleg gaan nie."
Hy is vol vertroue dat hy werk sal kry as hy hom in sy rigting motorwerktuigkunde bekwaam het.
"Na matriek gaan ek nie by die huis rondlê nie, maar wil beslis gaan werk."
Ook Nokuthula Mkaba van Desmond Tutu Sekondêr meen sy is opgewasse vir die eksamen, want sy was voorbereid.
Volgende jaar wil sy Maatskaplike Werk aan die Universiteit van Wes-Kaapland studeer. Haar goe-ie punte en menseverhoudinge sal bydra tot haar werksukses, meen sy.
Nie almal voel so gelukkig oor die eksamen tot dusver nie.
Modesty Joseph van Klein Nederburg Sekondêr voel dat alhoewel sy harder moes geleer het vir die eerste vraestel, sy tog met 'n A-simbool kan slaag.
"Ek gaan Meganiese Ingenieurswese studeer aan die Universiteit van Stellenbosch, en is bietjie skrikkerig vir dié kursus. Maar ek is positief dat daar baie werkgeleenthede is op dié gebied."
Baie matrieks meen die moeilikste vakke lê nog voor en is 'n bietjie op hul senuwees daaroor.
Willie Nel, hoofseun van Hoërskool Labori, sê: "Ek was redelik gestres oor die eerste dag van die eksamen, want ek berei my nou al 12 jaar voor vir hierdie tydperk in my lewe.
"Ek het nie gesukkel met die vraestel nie, maar, die moeilike deel kom nog. As alles goed verloop, gaan ek volgende jaar 'n IT-kursus doen by die Kaapse Technikon."
Claude Onverwaght, van Paulus Joubert Sekondêr, wil graag polisieman word. Hy sê dat hy tevrede was met die eerste deel van die eksamen en hom nie sal laat onderkry nie.
"My boodskap aan alle matrikulante: die sleutel tot sukses is om alle vertroue in die Here te plaas."
Ryno Fillis, matrikulant aan Paulus Joubert Sekondêr, meen ook as jy alles insit, sal jy ver kom.
"Ná matriek gaan ek Rekenaarstudies doen - dit is 'n rigting waarin jy altyd werk sal kry."
Charné Mackay van New Orleans Sekondêr sê die senuwees pla glad nie en hoop op 'n A-gemiddelde.
"Ek kan net nie verstaan hoekom almal so 'n bohaai maak nie - dit is maar net nog 'n eksamen."
Ná matriek gaan sy vir twee jaar oorsee werk as au pair en sal daarna op haar studierigting besluit.
Intussen moet die ouers sorg vir genoeg eetgoed vir die studerende kinders.
"Dit is hierdie matrieks se laaste kans om te wys wat in hulle steek en dat twaalf jaar op die skoolbanke nie tot niet gaan nie," het een ouer gesê.
* Local matrics have no study blues. |