ppostgothic
safetop Aida
uitlefstreep

Thursday 29 April 2004

uitlefstreep

This site will be updated on 6 May  2004 at 17:30

Arts - Kunste

b_home
fb_news
b_people
fb_lifestyle
fb_arts
fb_sport
br_schools
fb_letters
fb_business
fb_property
b_vacancies
b_classifieds
fb_archives
fb_aboutus
fb_advertise
printing
homeads
fb_touristinfo
fb_businessindex
fb_organisations
fb_contact
fb_search
Google

Search WWW
Search Paarlpost
 

Potgieter en Van Rooyen toor met musiek

[ Top ]


DIE wêreldbekende mondfluitjiespeler, Vincent van Rooyen (73), het onlangs sy eerste solo CD bekend gestel.

Die CD, Harmonica Spectacular, is die eerste wat Van Rooyen by die Paarlse musiekingenieur en musikant Bram Potgieter opneem.

Die vermenging en programering van die agtergrond-orkesmusiek van elke snit, wat wissel van die vinnige Spaanse tempo in Granada tot die meevoerende

wmfluitFC

MOOI DEUNTJIE. Vincent van Rooyen (regs) laat waai met sy mondfluitjie in die opname-ateljee van Bram Potgieter (links).

klavierspel van Beethoven se Pathetique Sonata, is alles deur Potgieter se rekenaar gegenereer.

"Dit is die eerste CD wat ek opneem waarmee ek heeltemal tevrede is," sê Van Rooyen, wat voorheen as deel van 'n trio saam met die Hopper-broers, Jonathan en Paul, opgeneem is asook saam met Jerry Bosman en die Kaapstadse Filharmoniese Orkes.

Luister 'n mens na die 12 snitte op die skyf besef jy ook gou dat dié legendariese musikant met reg tevrede kan voel.

Die klank-kwaliteit wat Vincent uit sy Brasiliaanse Hering mondfluitjie haal, is fenomenaal.

Dit word beaam deur wêreldbekende Nederlandse bas-mondfluitjiespeler en mondfluitjiekenner, Aad Daane.

"Daane beskryf die toon-kwaliteit van die musiek op dié CD as die beste wat hy nog ooit gehoor het," vertel Van Rooyen.

"Luister net daar, vergeet van die mondfluitjie, luister na daardie trompet, dis ongelooflik," sê Van Rooyen terwyl hulle na die CD in Potgieter se opname-ateljee luister.

Die musiek self beskryf Van Rooyen as "immergroen" met vier klassieke werke ingesluit.

Sy optrede by vanjaar se Klein Karoo Kunstefees, met die musiek op hierdie CD, is met oorweldigende geesdrif begroet.

"Die mense kon nie glo dat ek dié klanke op 'n mondfluitjie kon voortbring nie," vertel Van Rooyen.

Van Rooyen en Potgieter het ook vandeesweek saam by die SA Kaasfees in Simondium opgetree waar hulle net soveel goeie terugvoer gekry het.


Laurinda sing in Ou Meul

[ Top ]


DIE Paarlse musikant Laurinda Hofmeyr tree vanaand  om 19:30 in die Ou Meulteater in die Paarl op.

Laurinda het spesiaal die vertoning geskeduleer sodat sy vir oulaas saam met die violis Mike Rennie en kitaarspeler Nic Turner musiek kan maak. Albei vertrek binnekort na New York om hul groep Mikanic daar te vestig.

Schalk Joubert (baskitaar) sal ook saam met hulle optree.

Hoewel dit nie die produksie 'Hadedas en Sterre' is wat Donderdag te sien sal wees nie, kan die gehoor uitsien na heelwat musiek uit dié wenproduksie, uitgevoer deur die musikante wat as ensemble bekroon is.

Kaartjies kos R60 by Print Right, tel 872-7209.


Uys Krige onder die loep

[ Top ]


UYS KRIGE - skrywer, digter, rugbyspeler, oorlogskorrespondent, romantikus... Kom leer meer oor sy lewe en werk by die Afrikaanse Taalmuseum se Skrywersaand vanaand om 18:30 vir 19:00.

Die bekende akteur Johann Nel sal voorlees uit sy gunsteling Krige-werke. Daar is ook 'n kort dokumentêre video waarin Uys meer oor homself vertel. Toegang is R25 (verversings ingesluit). Om te bespreek, kontak vir Malikah by 872-3441.


Song vir Mona in die Wellinton Museum

[ Top ]


DIE Wellington Museum bied op Donderdag 6 Mei om 19:30 'n toneelstuk deur die bekende woordkunstenaar, Helena Conradie, aan.

"MONAloog - Song vir Mona", vertel die storie van Mona de Bruin, 'n huishulp.

Vir baie vroue was hul huishulp deel van die gesin. Sy't skottelgoed gewas, maar ook knieë toegeplak. 

MONAloog bring hulde aan een so 'n vrou. Mona de Bruin was  storieverteller, wysgeër, kunstenaar en (durf mens dit sê?) vriendin. 

Helena bring in haar nuwe eenvrouvertoning, hulde aan dié besonderse mens wat in Desember verlede jaar dood is. 

Mona se lewe wys dat jy bo jou omgewing kan uitstyg. Ongeag wie en waar jy is, jy kan iets wees.

Wat die toneelstuk ook besonders maak, is dat Valiant Swart 'n lied geskryf het daarvoor, Mona van Marydale. 

Marius du Plooy,voormalige TV-aanbieder, is die regisseur van MONAloog. 

Hy het vir Helena gesê: "Jy skryf oor Cussons en Boerneef, maar jy sit met 'n wonderwêreld op jou eie voorstoep. Hoekom doen jy nie iets daarmee nie?"

"Dis nie 'n neerdrukkende toneelstuk nie - jy sal lag dat jou maag pyn, sê Marius. "Maar jy sal ook huil."

Kaartjies is R25, wat 'n glasie wyn insluit. Bespreek by Ansie,  873-4710 of 084-335-3701


Kamermusiek

[ Top ]


DIE historiese Nederburg opstal gaan hier-die winter weereens liefhebbers van kamermusiek verwelkom vir intieme musikale aande.

Die eerste konsert in hierdie jaar se reeks vind op Sondag 9 Mei om 17:00 plaas met die Russiese pianis Boris Petrushansky, wat bekend is vir sy oor-spronklike en kreatiewe uitvoerings.

Die program sluit in Mozart se stel Variasies K 265 'Ah, vous dirais-je, maman', Drei Klavierstöcke D 946 deur Schubert en die reuse Brahms Sonate no 3 in F mineur, Opus 5.

Kaartjies kos R125 per persoon. Vir besprekings, kontak Christine Joubert by 809-7473 of dcjoubert@distell.co.za.


Klavierkonsert in Goodnow

[ Top ]


DIE konsert van semi-finaliste in die tweejaarlikse Nasionale Hennie Joubert Klavierkompetisie word môreaand in die Goodnowsaal op Wellington gehou.

Die kompetisie word deur die Wellingtonse Musiekvereniging, in samewerking met die Kaapse Technikon se Wellington-Kampus, aangebied.

Dit is  oop vir top pianiste tot en met die ouderdom van 18 jaar en het reeds internasionale erkenning ontvang vir die topgehalte van repertorium en aanbieding.

Uit vanjaar se bykans twee dosyn inskrywings, verteenwoordigend van vyf lande van herkoms, is elf deelnemers gekies om aan die semi-finale ronde deel te neem.

Dit het gister op Wellington plaasgevind. Môreaand om 19:30 tree die semi-finaliste in die Goodnowsaal op.

Die deelnemers speel (in alfabetiese volgorde) elk eers 'n sonate van Scarlatti, daarna 'n Suid-Afrikaanse komposisie en dan 'n program van ongeveer 45 minute elk.

Dit sluit in 'n Prelude en Fuga van JS Bach, 'n sonate uit die klassieke tydperk, asook  uitgebreide werke uit die 19e en 20e eeue.

Sekere kategorie-pryse word toegeken en dan word die vyf finaliste aangekondig wat op 24 Junie, begelei deur die Kaapse Filharmoniese Orkes, aan die finale ronde in die Endlersaal op Stellenbosch sal deelneem.

Kaartjies is R40 (geen sitplekbespreking nie) wat 'n glas wyn insluit. Skoliere en studente betaal R5.

Programme is by die deur beskikbaar.

Die beoordelaars vir vanjaar se kompetisie is: André Serfontein (voorsitter), John Roos (Unisa), Marie Gaerdes (SAVMO), Hendrik Hofmeyr (komponis), Sandra Kettle (UK), Cecilia Laurens (UK) en Johan de Klerk (Wellington Musiekvereniging).

Die elf semi-finaliste is James Bester (Port Elizabeth), Ammiel Bushakovitz (George), Pieter Crathorne (Stellenbosch), Klara du Plessis (Bloemfontein), Henco Espag (Polokwane), Julia Hong (Pretoria), Randy Hu (Windhoek), Esthea Kruger (Stellenbosch), Moonhee Lee (Pretoria), Gareth Ross (Johannesburg) en Bruce Williams (Stellenbosch).

Vir meer inligting kan die Kaapse Technikon Wellington-Kampus geskakel word by 864-5200/864-5228 of u kan die webwerf besoek by www.ctech./conf/piano.


[ Top ]

Tel: (021) 871-1170 - e-mail: edit@ppost.co.za  

[ Top ]