|
SARVU se onlangse ondersoek na die Boland-skole se sportgrense-dispuut het tot dusver nog geen verligting gebring in die geskil met Ussasa nie.
Prof Piet Ferreira, president van die Goue Leeus Rugbyunie, is op 26 Maart vanjaar deur Sarvu opdrag gegee om die geskil rondom skole in die Boland wat hul rugby vir die WP speel, te ondersoek en 'n voorlegging aan die rugbyliggaam se uitvoerende raad te doen.
Volgens Ferreira se verslag wat Donderdag tydens 'n Sarvu raads- en bestuursvergadering aangehoor is, bevestig Sarvu dat hulle die Cravenweek-grense aanvaar soos uitgestip in die verslag van 'n vorige taakspan.
Die betrokke verslag waarvan gepraat word, is in 2001 saamgestel deur 'n taakspan bestaande uit die Nasionale Skolesportliggam (Ussasa) en Sarvu-beamptes, juis om die Boland-grensekwessie op te los.
Dié verslag is in Junie 2002 deur beide Ussasa en Sarvu in sy geheel aanvaar. Hoewel die taakspan-verslag uitstippel dat die o.18 en o.16 Cravenweek-toernooie onder die vaandel en borgskap en daarom ook volgens Sarvu-grense gespeel word, sê Boland Ussasa dat hulle die verslag anders interpreteer.
Ferreira se aanbeveling aan Sarvu, is gegrond op die deurwerk van die finale taakspan-verslag, 'n memorandum rakende skool- en jeugrugby onder die jurisdiksie van Sarvu, twee briewe van WP Rugby aan Sarvu (gedateer 23 en 25 Maart 2004) asook 'n brief wat Boland Ussasa aan die betrokke skole gestuur het (gedateer 24 Maart 2004).
Volgens Sarvu moet die vier skole (Hoër Landbouskool Boland, Paul Roos Gimnasium, Hoër Jongenskool Paarl en Paarl Gimnasium) steeds vir WP uitdraf, terwyl Boland Ussasa meen die spelers is vir die Boland Cravenweek-span beskore.
Ferreira se voorstel is egter nie deur almal op die vergadering aanvaar nie.
Volgens Pieter Lourens, voorsitter van Boland Ussasa, was hy Dinsdag in gesprek met Brian van Rooyen, president van Sarvu.
"Brian van Rooyen het gesê dat die verslag na die nasionale Departement van Sport asook die Sportkommissie verwys gaan word.
"So daar is nog geen definitiewe uitsluitsel oor die saak nie," sê Lourens.
Volgens Jannie van der Westhuizen, hoof van Hoër Landbouskool Boland, is hy nie verbaas oor die aanbeveling nie.
"Indien Sarvu anders sou besluit, sou hulle hul grondwet moet verander waarin hul provinsiale grense vervat is," het hy gesê.
"Die Cravenweek-toernooi is 'n Sarvu-toernooi, dit is dus logies dat hierdie kompetisie volgens Sarvu-reëls sal plaasvind.
"Sarvu het 14 provinsies, Ussasa het 21. Daar moet op honderde plekke in die land oorvleueling plaasvind, maar nêrens anders is dit 'n probleem nie want dit gaan oor sportdeelname," het Van der Westhuizen Maandag gesê.
"Ons het Boland Ussasa al hoeveel keer gesmeek: 'Gaan praat self met Sarvu.' Maar in die praktyk blyk daar nie vordering te wees nie. Hulle besef Sarvu is outonoom oor sy eie kompetisie," het hy gesê.
"Die skole bly egter daartoe verbind dat hulle 'n onderhandelde skikking tussen Ussasa en Sarvu sal aanvaar - wat ookal die uitslag. Die skole wil nie langer vasgevang wees in 'n dispuut waaroor hulle geen beheer het nie." |