safetop
b_home
fb_news
b_people
fb_lifestyle
fb_arts
fb_sport
br_schools
fb_letters
fb_business
fb_property
b_vacancies
b_classifieds
fb_archives
fb_aboutus
fb_advertise
printing
homeads
fb_touristinfo
fb_businessindex
fb_organisations
fb_contact
fb_search
Google

Search WWW
Search Paarlpost
 
ppostgothic
uitleg2mouthpiece
uitlefstreep

Thursday: 29 May  2003

uitlefstreep

This site will be updated on: 5 June 2003 at 17:00

Lifestyle - Leefstyl


Slange woel nog weens laat herfs

Leon Steenkamp

[ Top ]


wbang01DIE ongekende warm weer van verlede week was een van die groot bydraende faktore tot 'n onwelkome besoek aan die huis van die Gerber-egpaar in De Zoete Inval, Suider-Paarl.

'n Verwer wat besig was om aan die huis van Johan Gerber te werk, het verlede Woensdag 'n opgekrulde pofadder ontdek toe hy 'n leer op die agterstoep wou gaan haal.

Die slang het hom tuisgemaak in die gaping waar die opgevoude leer teen die muur gelê het.

PASOP VIR HOM. Susan Gerber loer versigtig na die volgroeide pofadder wat verlede week homself op haar agterstoep tuisgemaak het. Plaaslike slangvanger Danie Malherbe (voor) is ingeroep om die slang te verwyder. Foto: Leon Steenkamp

"Ek het hom betyds gesien en die leer toe net so gelos," vertel die verwer, Benjamin Sauls.

Volgens Gerber lê die leer al sedert die vorige naweek op die agterstoep, maar weet hulle glad nie wanneer die slang daar kon ingeseil het nie.

"Hulle het onlangs die riete hier agter afgesny en ook die lemoenboord daar oorkant omgedolwe, so dit kan wees dat hy daar versteur is," bespiegel Gerber, wie se huis langs die spoorlyn geleë is.

Die egpaar se maltese poedel, Dusty, wat op die agterstoep slaap, het ook nie die slang agtergekom nie.

Dit is nie die eerste keer dat die Gerbers slange in hul tuin vind nie, met tabakrolletjies en jong geelslange wat ook al hul opwagting gemaak het.

Die hulp van Danie Malherbe, slangvanger van Die Vonds Slangpark, is dadelik ingeroep.

Ná 'n vinnige vasdruk om die kop vas te pen, het Malherbe die volgroeide mannetjie van sowat 90cm vanuit sy wegkruipplek verwyder en kon die Gerbers en die versigtige verwers die kalant van naderby aanskou.

"Slange kom slegs in paartyd (Augustus tot November) in pare voor," het Malherbe die angstige huiseienaars verseker.

Volgens dié slangkenner is heelwat slange nog aktief weens die buitengewone warm weer wat verlede week nog geheers het.

"My slange moes al geslaap het, maar loop weer rond en soek kos," vertel hy.

Mense wat Malherbe wil kontak, kan hom skakel by 869-8309.

* The late summer heat led to an unwelcome visitor, a puff-adder, at a Paarl home. Snake expert Danie Malherbe had to help.


Afrikaanse gemeenskap "kort kopskuiwe"

[ Top ]


DIE Afrikaanse gemeenskap moet kopskuiwe maak vir die toekoms, het Hennie de Wet, Besturende Direkteur van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK), verlede week in die Paarl gesê.

Hy was die spreker by 'n funksie waar toekennings  deur die Paarlse Afrikaanse Skakelforum vir kultuurverenigings aan twee Paarliete gemaak is vir hul bydrae aan Afrikaans.

Volgens De Wet vereis die veranderde omstandighede in Suid-Afrika dat nuwe verhoudings geskep moet word en dat die wyse waarop die Afrikaanse gemeenskap na hulle belange omsien, aangepas sal moet word.

Die jongste polemiek oor "godsdiens in skole" en die herstrukturering van onderwys- inrigtings is sprekende voorbeelde hiervan.

De Wet het gewys op die generasiegaping tussen die jeug en volwassenes: "Ons is op totaal ander bladsye. Ons moenie vir hulle voorskryf nie maar tog daar wees om ondersteuning te verleen wanneer dit gevra word.

"Daar rus 'n groot uitdaging op Afrikaanse organisasies om nie net na die belange van hulle eie taal nie maar ook na dié van die ander inheemse tale te help omsien."

Dr Carel Stander, voorsitter van die Skakelforum, meen dit is 'n belewenis om in die jongste tyd soveel energie en passie rondom die Afrikaanse taal op soveel terreine soos kunstefeeste en die musiekbedryf waar te neem.

"Ten einde die nodige beskerming aan alle tale, veral die inheemse tale waarvan Afrikaans een is, te bied, behoort taalbeleide op alle vlakke van die samelewing en ook die plaaslike gemeenskap deur regerings-, burgerlike en kerklike organisasies aanvaar te word.

"Dit hinder baie mense dat hoewel daar dikwels 'n goeie en beskrywende Afrikaanse woord vir iets bestaan, dit deesdae gewild geword het om liewer Engels of die Engelse woord of term te gebruik", het Stander gesê.

By die funksie, wat goed ondersteun is deur verteenwoordigers van tien van die Forum se Afrikaanse ledeorganisasies, het die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings (FAK) toekennings oorhandig aan ds Jaco Thom, predikant van die NG Toringkerk, en André Bester, onderwyser aan die Hoër Jongenskool, vir hul bydraes tot die bevordering van die Afrikaanse taal en kultuur.

Uit ds Thom se pen het sedert 1996 nie minder nie as nege Bybelse romans en 15 geskrifte oor godsdienstige lektuur verskyn.

Bester het  het sedert 1991 verskeie pryse en bekronings vir sy toneelwerk ontvang.


Seëlversamelaars vergader

[ Top ]


DIE Paarlse Filateliste nooi belangstellende seëlversamelaars na 'n ope-vergadering op Donderdagaand 12 Junie om 19:30 te Laerskool Gimnasium om hul versamelings vir oorsigtelike evaluasie te bring. 

Die Paarlse Filateliste bestaan reeds die afgelope 53 jaar en vergader die tweede Donderdag in elke maand, waartydens lede of genooides uitstallings van hul seëlversamelings vertoon.

Besoekers sal oor vele aspekte van seëlversameling en uitstallings van raad bedien kan word en lede sal ook van hul eie versamelings uitstal vir besigtiging.

Die Paarlse Filateliste, wat ook by die Filateliese Federasie van Suider-Afrika geaffilieer is, was in die verlede reeds dikwels verantwoordelik vir uitstallings van nasionale en internasionale omvang, waarvan die mees onlangse die Edelseël-uitstalling te Laborie in September 2000 was. 

Sulke uitstallings lok wêreldwye deelname en bied uitstallers die geleentheid om hul versamelings te vertoon.

Vir meer inligting, skakel die voorsitter by 872-2379 of die sekretaris by 872-8039.


[ Top ]

Tel: (021) 871-1170 - e-mail: edit@ppost.co.za