safetop
b_home
fb_news
b_people
fb_lifestyle
fb_arts
fb_sport
br_schools
fb_letters
fb_business
fb_property
b_vacancies
b_classifieds
fb_archives
fb_aboutus
fb_advertise
printing
homeads
fb_touristinfo
fb_businessindex
fb_organisations
fb_contact
fb_search
Google

Search WWW
Search Paarlpost
 
ppostgothic
uitleg2mouthpiece
uitlefstreep

Thursday: 29 May  2003

uitlefstreep

This site will be updated on: 5 June 2003 at 17:00

People - Mense


Moeilike taak vir Bailey

Susan Botha

[ Top ]


whermanDIENSLEWERING bly die wagwoord vir Drakenstein se eerste burger, raadsheer Herman Bailey (NNP), wat na verwagting Maandag uitvoerende magte kry.

Hy het onlangs 'n paar oomblikke in sy druk program ingeruim om met Paarl Post te gesels oor sy eerste ses maande in die nuwe amp en ook die pad vorentoe.

"Verskaffing van basiese dienste, aanspreek van armoede, MIV/Vigs, misdaad en werkloosheid is van die aspekte wat daadwerklik aangespreek moet word," het Bailey gesê toe hy burgemeester geword het in Oktober verlede jaar.

Hy huldig nog steeds dié standpunt en sê agtergeblewe gebiede sal groter aandag moet geniet, maar bestaande dienste moet in stand gehou word as 'n bate wat nie tot niet moet gaan nie.

Bailey meen politieke binnegevegte in die stadsraad strem dienslewering op die oomblik.

"Die momentum is ook gerem deur verlede jaar se oorlopery."

Hy het by sy verkiesing gesê die grootste uitdaging van die hersaamgestelde raad is "om kleinlike verskille agterweë te laat en te konsentreer op die bereik van gestelde doelwitte".

"Om dit alles te bereik, sal van ons vereis word om 'n akkoord te sluit om Drakenstein en sy mense eerste te stel en politieke voorkeure op die agterbaan te skuif," het Bailey destyds gesê.

Tot dusver het daar nog nie veel hiervan tereg gekom nie en daar is onlangs weer eens 'n sessie aangebied om verhoudinge te probeer suiwer.

Bailey is 'n mens mens wat glo om sy vinger op die pols van sake te hou.

Só het hy begin met besoeke aan die gemeenskap om op voetsoolvlak kennis te maak met die kiesers en hul behoeftes en probleme.

"Ons gemeenskap krepeer van armoede," sê hy en beklemtoon dat die raad 'n fasiliterende rol te speel het in die bekamping daarvan.

Bailey beskou dit as baie belangrik dat die gemeenskap insette maak aan die Raad en dat dit erkenning kry: "'n Kultuur van gemeenskapsdeelname moet gekweek word," sê hy.

Hy meen te veel mense voel dat hulle die raadslede gekies het en nou moet hulle net aangaan met hulle werk.

Hoewel die nuwe stelsel van uitvoerende burgemeester eers volgende week in werking kom, is Bailey reeds van Oktober voltydse raadslid.

Die talle onderbrekings met noodoproepe uit die gemeenskap en raadslede wat vinnig 'n kop om die deur steek vir 'n woord of twee, getuig daarvan dat hy voltyds én baie bedrywig is.

Sy lessenaar is vol netjiese hopies briewe, raadsagendas en leêrs, maar tussenin is daar ook plek vir Rudolph W Giuliani, oud-burgemeester van New York, se boek, "Leadership".

Dat sy taak as leier van Drakenstein nie 'n maklike een gaan wees nie, is duidelik.

Bailey het ook geen illusies daaroor nie.

"Die integrasie van die verskillende munisipaliteite en partye is baie moeilik.

"Ek dink dit is belangrik om ten minste 'n goeie basis te lê in hierdie termyn."

* Drakenstein mayor Herman Bailey is expected to get executive powers at  a special council meeting on Monday.


Burgemeester se hart klop warm vir sy mense

Elza Theron

[ Top ]


"DIE Vader was goed vir my. Die meetsnoere het vir my in goeie plekke geval," sê Herman Bailey, burgemeester van Drakenstein.

Bailey (53) is 'n groot man, gee 'n stewige handdruk en jy kom gou agter dat sy hart warm klop vir mense.

'n Gebore en getoë Wellingtonner, werk hy al die afgelope 33 jaar vir die plaaslike owerhede. 

Verlede Oktober is hy aangestel as burgemeester. Voorheen was hy burgemeester van Wellington voordat hy onderburgemeester van die groter Drakenstein munisipaliteit geword het.

En van 1 Junie word hy uitvoerende burgemeester van Drakenstein, met uitgebreide uitvoerende magte.

Bailey is bemind by sy werknemers wat hom beskryf as eerlik, 'n harde werker en iemand wat sy beginsels uitleef.

Sedert sy eerste werk as gesondheidsinspekteur op Wellington in 1970 was die gemeenskap nog altyd sy passie.

As deel van die Landelike Stigting het hy hom beywer vir die opheffing van plaaswerkers en gestry vir die afskaffing van die dopstelsel. 

Hy werf gereeld fondse vir studiebeurse aan jongmense en dien op verskeie direksies - van besighede tot onderwysinstansies en Boland Rugby. Sy jongste aanstelling is as trusteelid van die Afrikaanse Handelsinstituut (AHI).

Daar is nie genoeg ure in 'n dag vir alles wat hy wil doen nie.

Waar het sy belangstelling in die gemeenskap begin?

"My pa was my mentor," sê Bailey.

"Hy het grootgeword op 'n plaas naby Merweville en kom uit 'n arm gesin. Die familie het na Wellington getrek in die dertigerjare.

"Vandat ek kan onthou het my pa 'n wit das gedra. Hy was ook betrokke by skoolvoedingskemas en die opgradering van die onderwys. Hy was een van die dryfkragte agter die stigting van Bergriviere Primêre Skool buite Wellington.

Die interessante is dat hy self nooit die geleentheid gehad het om skool toe te gaan nie. My ma het hom leer lees en skryf na hul troue."

Bailey het reeds verskeie plaaslike en internasionale toekennings ontvang vir sy werk in die gemeenskap asook sy bydrae tot die voorkoming en behandeling van alkohol- en dwelmmisbruik.

"'n Mens werk nie vir erkenning nie, maar tog is dit lekker as mense jou erkenning gee, nie soseer vir jouself nie as vir die gemeenskap," sê hy ernstig. "Ek is dankbaar vir dit wat ek kon bereik."

Een toekenning wat hom na aan die hart lê, is die internasionale studiebeurs wat hy in 1983 van die "Council for International Programs" in Cleveland, Ohio ontvang het. Dit het hom in staat gestel om 'n jaar lank verdere opleiding in die VSA te ontvang. 

Verskeie internasionale deure het daarna vir hom oopgegaan.

Sedertdien het hy 25 lande besoek vir skakelwerk, bemarking en fondsinsameling en het gegroei tot 'n internasionale spreker oor landelike ontwikkeling, alkoholisme, politieke transformasie en grondhervorming.

As burgemeester sal hy graag wil sien dat Drakenstein 'n wenmunisipaliteit word: "Dit sal slegs gebeur as die gemeenskap voel daar is 'n merkbare verandering in hul omstandighede en as dit 'n plek word waar mense graag wil woon."

"'n Kollektiewe poging is nodig. Daar kan nie net op een probleem gefokus word nie, want alles is aaneengeskakel. Buitelandse maatskappye belê plaaslik en so word werk geskep.

"As mense werk het, sal hulle vir dienste kan betaal wat weer sal lei tot verbeterde dienslewering."

Die behuisingstekort en 'n oorkoepelende gesondheidsplan (wat die voorkoming en behandeling van vigs insluit) is ook sake waaraan hy aandag gee.

Sy groot frustrasie sê Bailey, is oneffektiwiteit en daarom stel hy duidelike doelwitte vir alles wat hy aanpak. 

"As jy nie iets reg kan doen nie, moet dit dan liewer nie doen nie."


Paarlse vroue skrik nie vir wynkelder nie

[ Top ]


TWEE jong Paarlse vroue maak nou wyn by plaaslike kelders. Tania Joubert, 'n oud-Gimmie, werk by KWV en Rolanie Lotz, wat aan Hoër Meisieskool Paarl matrikuleer het, is by Simonsvlei.

Tania het so pas haar eerste parsseisoen agter die rug by KWV in die Paarl. Sy het 'n BSc Agric graad met wynkunde en ondernemingsbestuur aan Stellenbosch behaal, wat haar laat besef het hoe belangrik die verbruiker se behoeftes vir haar as wynmaker is.

"Deesdae moet wynmakers weet wat in die mark gebeur en is bemarking 'n belangrike konsep. Alles wat die wynmaker in die kelder doen, word deur die mark daar buite bepaal," sê sy.

Tania se ander liefde in haar lewe, is sang. Vier jaar gelede het sy haar eie CD getiteld Share my Life, vrygestel.

Sy het onlangs derde geëindig in die Suid-Afrikaanse been van die Wêreld Kampioenskappe vir Uitvoerende Kunste in die ouderdomskategorie 18-24. 

Sy was een van ongeveer 1 300 deelnemers uit die nege provinsies wat op Rustenburg vir net meer as 'n week saamgetrek het om deel te neem aan die kampioenskappe.

Deelnemers het slegs 90 sekondes gehad om die paneel beoordelaars te beïndruk. Tania se vertolking van Just Walk Away van Celine Dion het haar die brons medalje besorg.

Juweliersontwerp is nog 'n tydverdryf van Tania. Argeologie en half edelgesteentes interesseer haar.

Rolanie (22), wat so pas by Simonsvlei Internasionaal aangestel is, hou daarvan om dinge op groot skaal te doen en staan vir niemand terug nie. 

Sy was die afgelope parsseisoen vir Simonsvlei se groot rooiwynkelder verantwoordelik. Haar kollegas bewonder haar vir haar toegewydheid, passie en deursettingsvermoë.

Haar entoesiasme en energie is aansteeklik en daar is niks wat ons as mans doen wat sy nie net so goed of beter doen nie, sê Francois van Zyl, Bestuurder Produksie by Simonsvlei.

Rolanie is baie optimisties oor die wyne van die seisoen: "Veral die Shiraz vertoon baie goed. So ook die Pinotage en Merlot".

In haar finale jaar diplomastudies in keldertegnologie aan Elsenburg Landboukollege het sy 'n toer meegemaak na Australië.

Sy sê die Australiërs het haar geweldig beïndruk met die manier waarop hulle saamwerk.

"Vir hulle is die Australiese beeld baie belangriker as dié van die individuele kelder," merk Rolanie op.

* Two Paarl women have joined the ranks of local winemakers.


Van Zyl mik na Belgiese politiek

[ Top ]


'n OUD-INWONER van die Paarl en voormalige provinsiale parlementslid van die NNP, dr Audrey Valkeniers-van Zyl, het op 18 Mei gestaan as lyskandidaat in die verkiesing van die Belgiese Parlement se Kamer van Volksverteenwoordigers, namens die Vlaamse Liberale Demokraten (VLD). Hoewel sy nie die paal gehaal het nie, het sy uitstekend gevaar.

Die Belgiese wet bepaal nou dat die helfte van die kandidate vir die verkiesing vroue moet wees.

Dr van Zyl, oorspronklik van Malmesbury, het die 21ste of voorlaaste plek op die partylys ingeneem in die kiesdistrik Brussel-Halle-Vilvoorde. Sy het uiteindelik die sewende meeste stemme (4876) gehaal onder die 22 kandidate waarvan drie verkies kon word.

Dr Van Zyl het selfs meer voorkeurstemme gekry as twee Vlaamse parlementslede van die VLD en slegs 75 stemme minder as die Vlaamse en Brusselse minister Guy van Hengel, wat 4951 voorkeurstemme behaal het.

Volgens dr Van Zyl is sy trots op die sterk steun wat sy gekry het en haar werk vir die VLD in België.

Haar man, dr Jef Valkeniers, het onlangs afgetree as parlementslid van dié party na 29 jaar as volksverteenwoordiger.

Sy het ook haar blydskap uitgespreek oor die uitspraak van regter Dennis van Rheenen in die Kaapse Hooggeregshof verlede weke dat die NNP se besluit om haar van haar pos in die Nasionale Raad van Provinsies te onthef, na 'n mosie van wantroue, ontoelaatbaar was.

"Ek was soos 'n hond op straat gesit, sonder inkomste, van die een dag op die ander. Ek was oortuig dat dit onwettig was."

Die hof het nie Van Zyl se beswaar teen die mosie van wantroue gehandhaaf nie, maar het beslis dat Van Zyl se regskostes betaal word deur die NNP Wes-Kaap, sy uitvoerende komitee en Freddie Adams, wat haar in die NRP vervang het.

Van Zyl is gelas om die regskostes van een van die respondente, die provinsiale speaker, te betaal.

Dr Van Zyl wag tans op 'n verhoordatum vir die saak van teistering wat sy teen oud-premier Peter Marais gemaak het. Sy het vroeër suksesvol protes aangeteken teen die staat se plan om Marais se regskostes te betaal.

* Former Paarl resident Audrey van Zyl has set her sights on Belgian politics.


Die manne en hul speelgoed

Leigh Reitz

[ Top ]


SEUNTJIES hou van goeters wat "wroem-wroem" maak, maar selfs al is jy aan die verkeerde kant van veertig en die hare al gryserig, beteken dit nie dat jy nie meer van motorfietse kan hou nie.

Robbie Perold (48), eienaar van Boland Bikes in Jan van Riebeeckweg met die aansteeklike diep lag, is so 'n man: van kleintyd af het vinnige motorfietse 'n bekoring vir hom ingehou en toe hy grootword, het hy dié liefde en sy loopbaan gekombineer.

Oorspronklik van Bellville en 'n matrikulant aan Settlers Hoërskool, het hy in 1978 na die Paarl verhuis, waar hy vir sewe jaar by die plaaslike Honda handelaar gewerk het.

"Ek het egter besluit ek wil my eie ding doen en op 1 April 1985 het ek my eie onderneming begin. Elf jaar gelede het ek na die huidige perseel verskuif."

Vandag spog hy met blink ysterperde wat lyk asof hulle 'n renbaan aan die brand kan jaag en "The Fast and the Furious" se moses is, met 'n waarde van omtrent R1 miljoen rand op sy winkel se vloer.

Dit is meestal professionele mense wat dié vinnige rygoedjies aanskaf en dan is daar ook die laer-inkomsteklas wat dit as 'n voertuig gebruik. Die 400 cc blyk die gewildste te wees.

"Behalwe motorfietse doen ons ATV-mark (vierwiele) besonder goed. Dié mark het in 'n mate die gebruik van bakkies op plase vervang en ons het dit doelgerig meer handig gemaak vir boere.

"In 1989 het ons self begin om motorfietse in te voer van oorsese lande soos Japan, Europa en Amerika af, waar ons voorheen deur middel van plaaslike handelaars soos Honda en Suzuki gewerk het.

"Dit is 'n uiters dinamiese mark en ons beweeg saam met die tye. Die mark is baie wisselvallig en elke maand is daar 'n nuwe 'flavour of the month' wat gewild is," sê hy.

En alhoewel die lyf nie meer wil meedoen aan die wedrenne soos die Motor Cross Endurance vroeër jare nie, karring hy nog steeds self aan sy motorfietse.

Hy is 'n groot liefhebber van die Aprilia handelsmerk.

'Ek kan egter nie trou met 'n motorfiets nie! My verhouding met 'n motorfiets duur nie juis lank nie. Na ses maande koop ek gewoonlik 'n nuwe een aan'.

En dis sy hoogs gemotiveerde span van sowat vyftien wat die besigheid maak wat dit is.

"Ons werkswinkel, onder bestuur van Johan Greeff, is een van die grootstes en mees gerespekteerdes in die Wes-Kaap.

"Ek dink ook ons is een van die handjievol motorfietswinkels wat kan spog met 'n vrou (Antjie Dirks) wat die onderdele-afdeling bestuur," verklaar hy trots.

Sy vrou Ingrid is die boekhoudster en hul seun Glen werk ook in die onderdele-afdeling.

Glen het ook soos pa Robbie 'n groot voorliefde vir 'n kragtige motorfiets, maar na verskeie ongelukke het hy maar besluit om handdoek in te gooi en eerder toeskouer te speel.

Vrou Ingrid sal ook, met 'n bietjie oortuiging, so nou en dan saam met haar man op sy ysterperd klim, wanneer die lus vir die oop pad hulle beetpak.

Robbie se toekomsplanne behels die modernisering van die hele vertoon-area en die invoer van 'n oorsese motorfiets-klerereeks.

"Ons wil ook help met die finansiering van motorfietse om die besit-ervaring vir ons klante so aangenaam as moontlik te maak."

* Robbie Perold of Boland Bikes loves fast wheels.


[ Top ]

Tel: (021) 871-1170 - e-mail: edit@ppost.co.za