|
"DIE Vader was goed vir my. Die meetsnoere het vir my in goeie plekke geval," sê Herman Bailey, burgemeester van Drakenstein.
Bailey (53) is 'n groot man, gee 'n stewige handdruk en jy kom gou agter dat sy hart warm klop vir mense.
'n Gebore en getoë Wellingtonner, werk hy al die afgelope 33 jaar vir die plaaslike owerhede.
Verlede Oktober is hy aangestel as burgemeester. Voorheen was hy burgemeester van Wellington voordat hy onderburgemeester van die groter Drakenstein munisipaliteit geword het.
En van 1 Junie word hy uitvoerende burgemeester van Drakenstein, met uitgebreide uitvoerende magte.
Bailey is bemind by sy werknemers wat hom beskryf as eerlik, 'n harde werker en iemand wat sy beginsels uitleef.
Sedert sy eerste werk as gesondheidsinspekteur op Wellington in 1970 was die gemeenskap nog altyd sy passie.
As deel van die Landelike Stigting het hy hom beywer vir die opheffing van plaaswerkers en gestry vir die afskaffing van die dopstelsel.
Hy werf gereeld fondse vir studiebeurse aan jongmense en dien op verskeie direksies - van besighede tot onderwysinstansies en Boland Rugby. Sy jongste aanstelling is as trusteelid van die Afrikaanse Handelsinstituut (AHI).
Daar is nie genoeg ure in 'n dag vir alles wat hy wil doen nie.
Waar het sy belangstelling in die gemeenskap begin?
"My pa was my mentor," sê Bailey.
"Hy het grootgeword op 'n plaas naby Merweville en kom uit 'n arm gesin. Die familie het na Wellington getrek in die dertigerjare.
"Vandat ek kan onthou het my pa 'n wit das gedra. Hy was ook betrokke by skoolvoedingskemas en die opgradering van die onderwys. Hy was een van die dryfkragte agter die stigting van Bergriviere Primêre Skool buite Wellington.
Die interessante is dat hy self nooit die geleentheid gehad het om skool toe te gaan nie. My ma het hom leer lees en skryf na hul troue."
Bailey het reeds verskeie plaaslike en internasionale toekennings ontvang vir sy werk in die gemeenskap asook sy bydrae tot die voorkoming en behandeling van alkohol- en dwelmmisbruik.
"'n Mens werk nie vir erkenning nie, maar tog is dit lekker as mense jou erkenning gee, nie soseer vir jouself nie as vir die gemeenskap," sê hy ernstig. "Ek is dankbaar vir dit wat ek kon bereik."
Een toekenning wat hom na aan die hart lê, is die internasionale studiebeurs wat hy in 1983 van die "Council for International Programs" in Cleveland, Ohio ontvang het. Dit het hom in staat gestel om 'n jaar lank verdere opleiding in die VSA te ontvang.
Verskeie internasionale deure het daarna vir hom oopgegaan.
Sedertdien het hy 25 lande besoek vir skakelwerk, bemarking en fondsinsameling en het gegroei tot 'n internasionale spreker oor landelike ontwikkeling, alkoholisme, politieke transformasie en grondhervorming.
As burgemeester sal hy graag wil sien dat Drakenstein 'n wenmunisipaliteit word: "Dit sal slegs gebeur as die gemeenskap voel daar is 'n merkbare verandering in hul omstandighede en as dit 'n plek word waar mense graag wil woon."
"'n Kollektiewe poging is nodig. Daar kan nie net op een probleem gefokus word nie, want alles is aaneengeskakel. Buitelandse maatskappye belê plaaslik en so word werk geskep.
"As mense werk het, sal hulle vir dienste kan betaal wat weer sal lei tot verbeterde dienslewering."
Die behuisingstekort en 'n oorkoepelende gesondheidsplan (wat die voorkoming en behandeling van vigs insluit) is ook sake waaraan hy aandag gee.
Sy groot frustrasie sê Bailey, is oneffektiwiteit en daarom stel hy duidelike doelwitte vir alles wat hy aanpak.
"As jy nie iets reg kan doen nie, moet dit dan liewer nie doen nie." |