ppostgothic
Aida
safetop
uitlefstreep

Thursday 29 July 2004

uitlefstreep

This site will be updated on 6 August  2004 at 17:30

People - Mense

b_home
fb_news
b_people
fb_lifestyle
fb_arts
fb_sport
br_schools
fb_letters
fb_business
fb_property
b_vacancies
b_classifieds
fb_archives
fb_aboutus
fb_advertise
printing
homeads
fb_touristinfo
fb_businessindex
fb_organisations
fb_contact
fb_search
Google

Search WWW
Search Paarlpost
 

Charles Stubbs - Pniel se eie Superman

[ Top ]

Norman Silke


ALHOEWEL hy al vir meer as drie dekades rugby speel, bring die frisgeboude man van Pniel nog steeds vrees in sy teenstanders se oë as hy op die veld draf.

Charles Stubbs (45), slot van Pniel Villagers se eerste rugbyspan, wat in die Westelike Provinsie Super A-liga speel, speel elke Saterdag teen manne die helfte van sy ouderdom.

wcharlesFC

VAL AAN! Charles Stubbs (45) pak die skrummasjien met mening aan. In die 32 jaar wat hy rugby speel, het hy al meer as 600 wedstryde gespeel.

Boonop stel hy die meeste van hulle in die skaduwee met sy fiksheid en liggaamsbou sowel as sy passie vir die spel.

Charles se rugbyloopbaan strek oor 32 jaar en bestaan uit 600 verteenwoordigende wedstryde. Boonop speel hy sy hele loopbaan al vir Pniel Villagers.

Op die ouderdom van 13 het hy begin speel vir Villagers se Junior Klub, en is gou uitgesonder as 'n uithalerslot. Op die ouderdom van 17 het hy sy buiging in die senior eerste span gemaak.

In 1986 is Charles in een van die sterkste Boland SARU spanne gekies. Die span was onder leiding van die van die legendariese Boland senter, Andy Marinos.

"Dit was vir my 'n groot eer om vir Boland saam met manne van dié kaliber te speel. Ons het opwindende hardlooprugby gespeel - dit was 'n baie lekker tyd in my loopbaan."

Dié tydperk het gevolg nadat hy vir bykans drie maande in 1985 met 'n gebreekte been op die kantlyn gesit het.

Voor die samesmelting van al die rugby-unies in 1992, het Charles gereeld die Paarl en Stellenbosch Rugby-unie op streekvlak en die Boland Rugby-unie op provinsiale vlak verteenwoordig.

Na hierdie tydperk is Pniel ingedeel by die Westelike Provinsie Rugby-unie waar hulle in die soneliga gespeel het.

"Ons moes van onder af begin en is nie soos ander 'groter' spanne wat tans saam met ons in die Super A-liga speel net in die liga geplaas nie.

"Ons is 'n dorpspan en het nie die geld om ster-spelers te koop nie. Nietemin het ons deurgedruk en is nou in die boonste liga van WP."

Charles was toe 35 jaar oud en het dadelik vir homself 'n doelwit gestel. Hy wou sy klub in die Super A-liga sien speel voordat hy uittree. In 2002 het sy droom werklikheid geword toe Pniel deel geword het van dié liga, maar die speelgogga het steeds gebyt.

"Daar is geen plaasvervanger vir harde oefening en deeglike voorbereiding nie," sê Charles. "Jy kan jou drome bewaarheid as jy bereid is om hard te werk."

Vir hom is sy  die taaiste teenstanders die studente van Stellenbosch.

"Maties is die beste span in die liga en ons moet altyd ons spelpyl opstoot as ons teen hulle speel."

Hy meen op sy ouderdom moet hy twee keer so hard werk as die ander manne in die liga.

"Maandae en Woensdae draf ek 12km en gaan werk 'n bietjie in die gimnasium. Dinsdae en Donderdae is ek saam met my spanmaats op die oefenveld," sê hy.

"Ek is nog Sondae na 'n harde wedstryd seer, maar op Maandae is ek weer reg vir die pad."

Charles is al 21 jaar met sy vrou Lynette getroud, en haar bystand het ook tot sy sukses bygedra. Hy voel egter dat dit tyd is dat die jonger manne nou oorneem.

Hy is nie die enigste presteerder in sy familie nie. Hul woning se mure is vol sertifikate en bekers.

Sy dogter Chanel (20) was top akademiese presteerder op skool, en studeer tans finansies by die Boland Kollege op Stellenbosch.

Die 15-jarige Wayde speel skrumskakel of losskakel vir Villagers se junior klubspan. Hy is ook 'n kranige krieketspeler.

Maar hoe kan 'n mens vir só lank rugby speel op dié vlak?

"'n Mens moet altyd 100% gee, baie oefen en net jou beste op die veld gee," sê Charles, wat verlede Saterdag nog 'n drie gedruk het teen die sterk span van Tygerberg.

* At 45, Charles Stubbs is the "Superman" of the Pniel Villagers rugby club.


Theo ken nie van stil sit

Engela Duvenhage

[ Top ]


HY draf in dieselfde tekkies as die Comrades-wenner Vladimir Kotov, drink Bruce Fordyce se geheime wapen van ekstra suiker by Coke as hy op kluboefeninge gaan - en is dalk net besig om 'n nuwe liedjie te komponeer terwyl hy om Wellington ronddraf.

Dis nou Theo Venter, wat in Wellington bekend is as 'n musikale man, en deesdae ook as lid van die Wellington Atletiekklub kranig aan die oefen is as 'n langafstandatleet.

wsonopFC

VELE TALENTE. Theo Venter van Wellington is nie net 'n musikale man wat al twee CD's gemaak het nie, maar hy fokus tans ook op langafstandatletiek.

Theo (35), wat aan 'n nie-oorerflike vorm van die oogsiekte glukoom ly, laat hom egter nie van stryk bring deur 'n gebrek aan duidelike sig nie, en bly besig.

Sy oogkondisie beteken dat hy eers op 3m afstand die hoeveelheid detail kan sien wat 'n persoon met normale visie op 60m kan uitmaak.

Dié klavierstemmer van beroep het al 'n hele paar SAD-halfmarathons op eie stoom klaargemaak, maar het daarvoor alleen geoefen.

Vanjaar het hy, danksy die oorredingsvermoë van sy "afrigter", Tania Spamer, saam met die plaaslike atletiekklub begin oefen, en hy gaan van krag tot krag.

"Dit maak 'n groot verskil om saam met mense te oefen," glo hy. "Ek is tussen atlete wat baie ervare is, en ek leer vreeslik baie oor voorbereiding en oefenmetodes."

Veral die ervare Danie Hauptfleish, 'n jarelange lid van die Wellingtonse klub wat al meermale die Comrades klaargemaak het, speel 'n groot mentorsrol vir hom.

"As ek enige raad soek, vra ek net vir hom, want hy het absoluut net al die ervaring," vertel Theo.

Theo het Saterdag sy eerste halfmarathon buite Wellington, die Worcester Hospice Halfmarathon, klaargemaak, drie minute vinniger as sy 2004 SAD-tyd.

"En," sê hy trots, "ek het ewe voor my oefenmaats klaargemaak."

Sy oefenmaats is Tania Spamer en Ronel Terblanche. Die driemanskap het al 'n bekende gesig geword waar hulle die paaie rondom Wellington aandurf op 'n oefenlopie.

Hy sê hierdie vroue is vir hom 'n inspirasie en groot motivering.

"Dis sommer net lekker om na al hulle stories te luister terwyl mens so draf, hulle laat mens lag en hou mens aan die gang."

Op skool aan die Pionierskool vir Gesiggestremdes het hy Bolandkleure in stoei verwerf.

Na skool het hy ook vir die Bolandspan deelgeneem aan die Suid-Afrikaanse kampioenskappe vir Gesiggestremdes in doelbal, en, natuurlik, atletiek in die 5000m, 1500m en verspring.

In die 2001/2002-seisoen was hy ook bouler van die eerste Boland-ontwikkelingspan wat aan die Suid-Afrikaanse Kriekettoernooi vir Gesiggestremdes deelgeneem het, en wat boonop nog met die trofee in hul liga huis toe gekom het.

Theo is egter nie net sportief nie, maar ook 'n meester van die klawerbord, en is 'n bekende gesig as lid van die NG Moedergemeente Wellington se Tekkiekerk-orkes, wat twee keer per maand by aanddienste optree.

Hy het op laerskool twee jaar lank klavierlesse geneem, en daarvandaan homself in die fynere kunsies van die klawerbord instudeer. Sy eerste liedjie het hy in standerd sewe gekomponeer.

Hy het reeds twee instrumentele CD's die lig laat sien, en al die musiek daarvoor self geskryf. Theo beskryf sy styl as 'n mengsel van instrumentele pop en ballades.

Theo speel op gehoor, en kan vinnig-vinnig die wysie van 'n nuwe liedjie wat hy op radio gehoor het, baasraak. Hy tree gereeld by geleenthede in Wellington op, agter sy klawerbord of as klankman.

Musiekgewys is daar nie tans 'n nuwe CD op die horison nie, alhoewel hy hier en daar aan 'n paar nuwe wysies tokkel. Dis op sy atletiek wat hy tans fokus, en dit met doelgerigtheid.

"Ek wil die Two Oceans volgende jaar klaarmaak," is sy ideaal. "En in 2006 die Comrades!

Kontak Theo by 873-2163.


Van die maag na die hart

Malané Bosman

[ Top ]


THOM ORCHARD moet maar verskoon as 'n mens wonder oor sy bedoelings toe hy verlede jaar met die mooie Jeanette du Plessis van Wellington getroud is.

Daar is immers die bekende Afrikaanse gesegde "die pad na 'n man se hart is deur sy maag" en Jeanette is so pas as 'n nasionale Super Chef aangewys.

Dìt  nadat sy in 1989, haar matriekjaar, met 'n Morrokkaanse tema die titel Top Tienerkok losgekook het, en in 2003 as Sarie/All Gold se Gasvrou van die Jaar bekroon is.

Vir daardie kompetisie het Jeanette Kontreikos voorberei op Uitkyk, haar ouers Niel en Elsabé du Plessis se plaas by Wellington.

Gaste is met 'n trekker na die Vertoef 'n Wyle boskombuis op 'n koppie tussen die wingerde geneem, en daar is uit blikkies geëet en ernstig gekuier.

Intussen het Jeanette ook al 'n nuwejaarspartytjie in Middeleeuse styl gehou vir uitsending deur die joernaalprogram Top Billing.

Jeanette het ná skool drie jaar chef, hotel- en restaurantbestuur aan die Tygerberg Kollege studeer. Sedertdien was sy funksiekoördineerder by Diemersfontein.

Vir die Rooi Rose Super Chef-kompetisie het Jeanette versnaperinge vir 'n mondigwording met Indiese tema voorberei - die gevulde pannekoeke ("hoppers") soos horinkies gerol en in goue bakkies geplaas vir handeet.

Die vier sout vulsels was van groente, kerrielam, soetsuur krewels en brejani-rys.

'n Mengsel van kakao en kondensmelk is gebak vir die soet hoppers, wat gevul is met roomys, of Thai swartrys, 'n neutemengsel of rooibeet.

Die vier finaliste het op die Spier Landgoed buite Stellenbosch in vyf uur se kooktyd hul geregte voorberei en moes dit voorsit aan die beoordelaars en hooggeplaaste gaste.

Jeanette en Thom beplan om voor die einde van die jaar die deure van 'n gastehuis op Malmesbury te open.

Voor daardie tyd wil Jeanette nog 'n kursus in toerisme doen sodat sy haar gaste op toere van die Weskus en omgewing kan neem.

Het jy iemand nodig om die gastehuis se spyskaarte op die proef te stel, Jeanette?


Rudolf Waries glimlag weer

[ Top ]


'n MAN wat deesdae weer breed glimlag, is Rudolph Waries, oud-hoof van Orleansvale Primêr.Ná sowat 'n jaar buite die onderwys, is Waries nou weer waar hy die gelukkigste is - voor 'n klas met kinders.

Net hierdie slag is die klaskamer heel ver van die Paarl af.

Waries het pas na die Verenigde State vertrek, waar hy vir drie jaar gaan klas gee in sosiale studies aan die Griffin Penn Middle School in High Point, Noord Carolina.

Die pos is deel van die Visiting International Faculty Program (VIF), 'n uitruilprogram wat deur die Amerikaanse regering erken word en wat die wêreld deur soek vir talentvolle onderwysers wat toegewy is aan opvoedkundige uitnemendheid en die ideale van kulturele uitruiling.

Waries is baie opgewonde oor die geleentheid en sê hy beskou homself as 'n kulturele ambassadeur vir Suid-Afrika.Hy is vol planne om die Paarlvallei bekend te stel aan sy nuwe kollegas en leerders. Waries se gesin sal in November by hom aansluit.

"Ek wil ook die ouers en leerders van Orleansvale groet en hulle verseker dat ek hulle nooit sal vergeet nie."


Muurbal stig trust

[ Top ]


'n TRUST om belowende jong muurbalspelers by te staan, gaan op 13 Augustus amptelik geloods word by die Paarl Muurbalklub.

Die Trust is gestig deur oud-speler Piet Oelofse, wat aan Motorneuronsiekte (MND) ly, in samewerking met lede van die Paarl Muurbalklub.

Oelofse (54) was tot vier jaar gelede 'n aktiewe muurbalspeler en was op sy dag Paarlse muurbalkampioen, totdat die aftakelende siekte hom begin verlam het.

Hy is vandag nie meer in staat om te loop nie, omdat die oordrag van motoriese senuboodskappe nie maar plaasvind nie. Die siekte is onomkeerbaar.

Verlede jaar in Augustus is 'n funksie by die muurbalklub gehou om Oelofse se verjaarsdag te vier en die beoogde trust aan te kondig.

Die plan is om 'n fonds op te bou wat belowende jong spelers se onkostes dra vir toerusting en deelname aan muurbaltoernooie.

Die trustees van die fonds is Oelofse en klublede Nicki Albertyn, Alex van der Sluys en Johan Rothmann.

Klublede Zane Meyer (prokureur) en Quintus de Vries (rekenmeester) dra kosteloos by tot die administrasie van die fonds.

Skenkings kan direk inbetaal word by die rekening Piet Oelofse Junior Squash Trust (1470117290) by Nedbank Paarl (taknommer 147005).

Vir navrae, kontak die muurbalklub by 872-6050 of Johan Rothmann by 084-580-4000.


[ Top ]

Tel: (021) 871-1170 - e-mail: edit@paarlpost.co.za  

[ Top ]