|
|
 |
Sport |
 |
 |
 |
|
Wat 'n ervaring! |
|
|
Leon Steenkamp |
|
|
|
 |
 |
|
"EK het net die dag voor die eindstryd vir hom gesê" 'imagine jy sit 'n skepskop in die laaste minute oor'," so vertel Jacobie Adriaanse, een van die junior Springbokkies wat verlede naweek die o.19 Rugby Wêreldbekertoernooi in Frankryk gewen het.
Hoewel Adriaanse en sy spanmaat Ishma-eel Dollie gelag het ná dié uitlating, was dit presies hoe sake verloop het. |
 |
Dollie op skrumskakel het die Springbokkies van 'n 22-18 oorwinning oor Nieu-Seeland verseker met sy skepskop in die laaste minute. |
|
 |
 |
|
JONG BOKKE. Die twee o.19 Bokkies van die Paarl is Pieter Louw en Jacobie Adriaanse (foto). |
|
 |
 |
|
"Toe hy daardie skop oorsit, toe besef ons ons kan dié een wen. Dit was ongelooflik lekker om te besef dat al die oefen en harde werk nie verniet was nie en dat ons die einddoel bereik het," beskryf Jacobie die span se emosies ná die sege.
Adriaanse van Hoërskool Paarl Gimnasium en Pieter Louw van Hoër Jongenskool Paarl, was twee van die nege WP spelers wat in die groep ingesluit is om die Wêreldbeker na Suid-Afrika te bring.
Die oud-Gimmie heelagter, Hennie Daniller wat deesdae vir die Blou Bulle speel, was ook een van die uitblinkers op die toer.
"Dit was 'n groot voorreg om deel te wees van die span. Ek het dit baie geniet en dit was lekker om saam met daardie kwaliteit spelers te speel," het vaskopstut Adriaanse wat in die eerste wedstryd teen Korea (50-0) speelkans gekry het, gesê.
Dit word beaam deur Louw wat op agsteman sy plek volgestaan het in die laaste drie wedstryde teen Engeland (19-3), Frankryk (20-15) en Nieu-Seeland.
"Die span was baie geheg aan mekaar, ons was soos broers. Die toer het vir my en Jacobie ook nader aan mekaar gebring en dit sal nou moeilik wees om in die interskole teen hom te speel," vertel die Boishaaier wat verlede jaar vir WP Cravenweek gespeel het en in die SA Akademie-span teen Wallis uitgedraf het.
Louw is veral dankbaar vir die kans wat hy gekry het. Hy het sy dyspier beseer in die eerste oefening op die Springbokkies se vooraf-toer na SWD en die Oostelike Provinsie.
"Ek was saam op die res van die oefenkamp, maar kon nie aktief deelneem nie."
In die wedstryd daarna teen Westelike Provinsie het hy weer sy knie lig beseer, 'n besering wat hy met hom saamgedra het in die volgende wedstryd teen Boland.
"Ek moes myself bewys en vir die afrigter wys dat ek wel 'n bietjie rugby kan speel," skerts hy.
Hy moes egter sy knie 'n paar dae ruskans gee en daarom het hy nie in die eerste WB-wedstryd gespeel nie.
"Toe ons teen Engeland gespeel het, was die stadion nie so groot nie, so daar was nie so baie toeskouers nie. Maar 'n man het maar 'n traantjie in die oog gekry toe die volkslied gespeel is," vertel Louw.
"Teen Frankryk was die atmosfeer ongelooflik. Daar was 'n orkes wat die heeltyd gespeel het en die pawiljoene was gepak.
"Toe ons in die tonnel gestaan het, het elke speler 'n outjie gekry wat saam met hom op die veld gestap het," beskryf Pieter die dag.
"'n Finaal spreek vanself, dis soos 'n o.19 interskolewedstryd. Jy sal weer in 'n finaal speel, maar nie weer in 'n o.19 finaal nie."
Beide spelers het geen klagtes gehad oor die toestande nie.
"Alles was goed, die land, die mense, die velde en Parys is 'n pragtige stad. Maar ek glo jy moet vergeet van die toestande, dis jý wat jou eie comfort zone moet maak," meen Pieter
Oor die kompetisie op die veld sê Louw: "Die Engelse is goed, maar die Franse en Nieu-Seelanders is baie meer fisies en taai. Hulle speel nes die senior spanne," vertel Pieter.
Volgens Jacobie was die spelers se ervaring van onskatbare waarde.
"Die (oorsese) spelers is almal op 'n goeie vlak. Ons het egter baie ervaring gehad in spelers soos die kaptein Paul Delport, Earl Rose en Marthinus van der Westhuizen wat verlede jaar al SA o.19 gespeel het," sê Jacobie.
Rugby is beslis 'n groot liefde vir albei.
"Ek beplan om volgende jaar Stellenbosch toe te gaan en kyk of ek met die rugby kan aangaan," vertel Jacobie.
Louw mik na Stellenbosch Kollege waar hy in 'n sportrigting wil studeer en "natuurlik" rugby gaan speel. |
 |
|
 |
 |
|
Paarl ryers skitter op S.A's |
|
|
 |
|
 |
DIE Paarlse fietsryers, Magdalene Nicholson en Rèniel Matthysen, het tydens die SA Baanfietskampioenskappe in Bellville behoorlik hul slag gewys.
Nicholson wat vir Yorkshire Fietsryklub ry, het goud gekry in die 500m tydtoets, enkelagtervolging, 1500m en die puntewedren vir meisies o.16. Sy het ook silwer ingepalm in die naelry.
Ander Yorkshire-ryers wat ook presteer het, is Avery Arendse wat silwer gekry het in die tydtoets en 3km wedrenne asook brons in die 1500m vir o.12 ryers; Webster Jacobs wat deel was van die Boland o.16 spanagtervolging wat brons gekry het; Gurswin Daniels wat in die junior afdeling brons gekry het in die 1500m; en Rosaline Nicholson wat ná 'n lang afwesigheid 'n silwermedalje in die naelry vir Elite vroue verower het.
Nog 'n Paarl ryer wat skoonskip gemaak het, is Rèniell Matthysen (Paarl Fietsryklub) wat in die o.16 ouderdomsgroep vyf goue medaljes verower het in die naelry, 500m tydtoets, 1500m, 20km punte-wedren en 3000m spanagtervolging asook silwer in die 2000m enkelagtervolging.
Matthysen is aangewys as die o.16 SA Kampioen en opgeneem in die SA 0-16 Baanfietsry-span.
Ander ryers van Paarl klub wat presteer het, is Marius Bester wat goud in die 500m tydtoets en 1500m gewen het en silwer gekry het in die 10km puntewedren. Hy is ook as die beste o.14 ryer aangewys.
Dawie du Toit het in die veterane 45-49 jaar twee bronsmedaljes ingepalm in die 3000m en 1500m.
Vir Rhadsport Fietsryklub het Nathan Cornelissen (o.10) goud verower in die 500m tydtoets, 1500m (nuwe SA-rekord) en 3000m. Ashley Daniels (o.14) het silwer in die 500m tydtoets ontvang, met Ivano Siebrits (o.16) wat silwer in die puntewedren gekry het.
Die o.16 spanagtervolging waarvan Ivano, Bertram Siebrits en Reginald Benjamin deel was, het brons gekry.
Onder die juniors was Warren Andrews en Durwin Benjamin lede van die spanagtervolging wat brons gekry het. Andrews het ook brons verower in die spannaelry en Benjamin in die puntewedren.
Die junior Nolan Hoffman het goud in die naelry, silwer in die uitvalwedren, puntewedren en 1000m tydtoets losgery asook 'n bronsmedalje in beide die spanagtervolging en spannaelry.
Garth Thomas het in die Elite groep goud gekry in die uitvalwedren, en saam met klublede Verdi Faroa, Ashley Kulsen en Pieter Jansen silwer gewen in die spanagtervolging. In die spannaelry het Thomas, Kulsen en Jansen brons verower. |
 |
|
 |
 |
 |
|
Wenlose Vodacom vir Boland Kavaliers |
|
Gerhard Roux |
|
|
|
 |
|
 |
GEBIEDSVOORDEEL van bykans 65%, vier drieë, verbeterde dryfspel deur 'n pak voorspelers wat enduit alles gee, en van die beste verdedigingspatrone hierdie seisoen - en dan verloor jy met 'n punt.
Dit was die bitter pil wat die Boland Kavaliers Vrydag op Wellington in sy laaste Vodacombekerwedstryd teen die Natal Wildebeeste moes sluk.
Maar as daar in ag geneem word dat die Kavaliers ses skoppe na die pale verbrou het en 'n pragdrie letterlik uit die hande sien glip het omdat die kaptein die bal met een hand wil druk en dit dan laat val, is dit te betwyfel of die tuisspan 'n oorwinning verdien het.
'n Mens kan egter simpatiek wees teenoor die Wellington span wat geen spesialis-skopper tot hul beskikking gehad het nie.
Dit is die vyfde agtereenvolgende verloor vir die Boland, met geen sege in die 2003 Vodacombeker nie.
Die kaptein, Chris Potgieter se blaps, was 'n jammerte aangesien hy voorlangs een van 'n paar uitblinkers was.
Daar was egter ligpunte wat afrigter, Hawies Fourie, kan moed gee vir die res van die seisoen wat die belangrike sewe Curriebeker kwalifiserende wedstryde insluit.
Die Kavaliers het 'n kern van belowende en klaarblyklik toegewyde spelers waarop gebou kan word.
Buitesenter Piet van Zyl het uitgeblink in 'n agterlyn met volop spoed, maar steeds voorspelbare hardlooplyne.
As jy 'n skrumskakel met so 'n vinnige en ellelange aangee het soos Eugene Francis, moet die snellers hulle kanse kan skep.
Op losskakel was WP Strauss egter nooit heeltemal tuis nie en kon die agterlyn met 'n bietjie meer terugstaan-ruimte beter vertoon het.
Die probleem met so baie van die terugsny-lyne wat tot vervelens ingeoefen word, is dat die agterspelers te ná aan die voordeellyn wil speel.
Die aantal goeie breekslae van veral Piet van Zyl het almal by "vinnige hande" ontstaan wat die verdediging geklop het.
Die Boland is steeds Suid-Afrika se "vleuel-fabriek" - hiervan het Bronwin Julies en veral Warren Petersen se vlugvoetige spel getuig.
Petersen is eintlik 'n losskakel, en dit kan Fourie loon om hom 'n slag weer daar kans te gee. Julies en Petersen sal egter hul dekverdediging moet opknap en dit is bloot 'n geval van beter kommunikasie met die heelagter.
Vaskop Andries Human was Supersport se man van die wedstryd. Nog 'n sterk kandidaat was sekerlik Henley du Plessis op agtsteman. Dit is 'n speler met baie talent en as hy bly speel soos hy Vrydag gedoen het, sal die Boland hom moet oppas.
Dit kan ook interessant wees om te sien hoe opwindend hy op oopkant-flank sal vertoon.
Uitblinkers was Du Plessis, Human, Potgieter en slot Nicky Smit.
Agterlangs naas Van Zyl en die twee vleuels, het JP Redelinghuys (binnesenter) met oorgawe verdedig.
Drieë vir Boland is gedruk deur Warren Petersen (2), Chris Potgieter en Henley du Plessis.
Vir Natal het Grey Rawlinson en John Camps gedruk. Kevin Williams slaag met 'n doelskop en twee strafskoppe en Monty Dumont met 'n strafskop.
Die Boland speel sy eerste wedstryd op 31 Mei op Wellington teen die Oostelike Provinsie.
Dit laat Fourie met 'n maand om sake in die Boland-kamp in orde te kry. Daarby behoort heelwat van die beseerde spelers - wat tot dusver 'n groot probleem was dié seisoen - weer in aksie te wees. |
 |
|
 |
Boland skeidsregters verloor in finaal |
|
|
 |
|
 |
DIE Boland-span het 'n goeie vertoning gelewer tydens die jaarlikse Nasionale Krieketskeidsregtersweek wat die naweek in Oos-Londen gehou is, maar moes in 'n spannende eindstryd die knie buig voor hul bure Westelike Provinsie.
Dit is die eerste keer dat Boland aan dié toernooi deelneem, waar provinsiale skeidsregters mekaar die stryd aansê.
Elke span kolf vir 20 beurte en die lopies het behoorlik gevloei.
In hul eerste wedstryd teken Boland 191/9 aan teen die OP Jumbo's, met Earl Hendrickse (32), Godwin van Willigh (30) en Deon van Kerwel (29) wat lopies maak.
OP word beperk tot 133, danksy boulwerk deur Van Kerwel (3/16), Ghalied Jacobs (4/6) en Ivor van Schoor (2/13).
Daarna ransel hulle vir KwaZulu/Natal met 44 lopies af. Boland slaan 159/8. Hendrickse (33), Van Kerwel (28) en Douw Swart (26) is weer die staatmakers. Natal behaal 115, met Van Schoor (2/14), Jacobs (2/12) en Van Willigh (2/9) wat uitblink.
Teen die Northern Titans is Boland (180/6) weer bo met Jacobs (33), Van Kerwel (30), Swart (30) en Van Schoor (24) wat met kolf inklim.
Paul Steenkamp (2/5) en Trevor Davey (2/8) boul suinig vir Titans se 142 telling.
In die halfeindstryd het die Bolanders meer kompetisie gehad teen die Limpopo-Akademie.
Boland se boulaanval word gelei deur Van Kerwel wie se 5/25 'n driekuns insluit. Hy is bygestaan deur Hendrickse (2/23) en Van Schoor (2/39).
Hendrickse (37), Van Kerwel (33), Van Schoor (32) en Albert Jansen (29) help Boland na 183/7 met slegs twee balle oor.
In die naelbyt-finaal slaan WP 192, met Hendrickse (2/8), Van Schoor (3/10) en Steenkamp (3/21) wat met die bal slaag.
Ondanks goeie beurte deur Hendrickse (35), Jacobs (31), Van Schoor (31), Hendrickse (26) en Irvin van Kerwel (25) kan Boland net 185 bymekaarmaak. WP wen met sewe lopies. |
 |
|
 |
Hengelaars leef swaar |
|
|
 |
DIE Paarl Kushengelklub het in die afgelope vyf maande aan sewe ligabyeenkomste deelgeneem.
Die meeste van hulle het soos gewoonlik in minder goeie weersomstandighede plaasgevind, maar een wat wel uitgestaan het, is die byeenkoms van 29 Maart.
Met perfekte weersomstandighede op die dag was dit Drostdy wat met die louere weggestap het, maar aan die einde was dit Moeder Natuur wat geseëvier het.
Paarl hengelaars het op die dag hulle eie ondergang bewerkstellig aangesien hulle al die groot visse gevoel byt het, maar hulle nie kon land nie.
Op die dag was daar meer as 95% van die moontlike spesies wat op Struisbaai gevang kan word, ingeweeg, waarvan net enkele gedood is vir die pan.
Dit was weliswaar die beste ligabyeenkoms van die jaar.
Die ander byeenkomste het nie naastenby dieselfde aksie opgelewer nie.
Met een ligabyeenkoms oor het die Paarl drie hengelaars in die top twaalf. Hulle is Arno Dames (vierde), Johan la Grange (neënde) en Tony Kruger (elfde). |
 |
|
 |
Rugbyklubhuis 'n bate vir Wellington |
|
|
 |
|
 |
DIT is verblydend dat in 'n tyd waarin blanke rugbyklubs in die Boland besig is om te verdwyn, die Wellington Rugbyklub die visie gehad het en toegewyd was om in 'n klub te belê as iets positief vir Boland Rugby en die gemeenskap.
So het Arthob Petersen, senior vise-president van die Boland Rugby Unie (BRU), dié klub onlangs geprys tydens die bekendstelling van Wellington Rugbyklub se nuwe klubhuis.
Petersen het tydens die geleentheid namens die BRU die klubhuis aan die rugbyklub oorhandig. Die president, Schalk Burger, het die sleutels by Petersen in ontvangs geneem.
Volgens Petersen wou Boland 'n ooreenkoms van 1975 in die "gees en letter" vervul en moet die klubhuis nie as voortrekkery gesien word nie.
Die klubhuis spruit uit 'n ooreenkoms tussen die klub en die BRU in 1975 toe die klub sy veld en geriewe aan die Provinsie verkoop het, met die verstandhouding dat die klub steeds gebruiksreg van die klubhuis en veld sou hê.
Toe Boland in 1998 egter Curriebeker-status kry, het die Unie gevra of hulle die veld kan opgradeer en uitsluitlik kan gebruik indien hulle ander geriewe vir Wellington Rugbyklub beskikbaar stel.
Sedertdien het Wellington sy tuiswedstryde op die velde van die ou Onderwyskollege Boland gespeel as 'n tussentydse reëling van Boland.
Bouwerk aan die nuwe klubhuis aangrensend geleë op Boland se B-veld, is in Desember verlede jaar begin.
Petersen het gesê hy vertrou Wellington sal in sy nuwe tuiste 'n selfs groter rol speel in die bevordering van rugby in die Boland en dat die klub op sy tradisie sal voortbou om gehalte spelers na vore te bring.
Sy wens is beaam deur klub-president Schalk Burger.
"Dit was van die begin af my visie dat die Wellington Rugbyklub 'n bate vir die Boland Rugby Unie moet wees.
"Die fantastiese fasiliteite wat Boland vir ons hier in plek help sit het, beteken dat die klub nou 'n tuiste van sy eie het - 'n tuiste waar die spelers op hul gemak kan wees en waar hulle hul rugby kan geniet.
"Amateur-rugby het sy probleme en as jy nie 'n tuiste het waar jy kan gaan sit en die probleme bespreek nie, bemoeilik dit sake," het Burger gesê.
Hy het bygevoeg dat die klubhuis 'n positiewe rol sal speel in die goeie gees wat daar reeds onder die spelers heers en die getal spelers wat die klub sal lok. Die volgende stap is om al die oud-spelers weer by die klub te betrek.
Die voorsitter van Wellington RK, Dolf Stemmet, was 'n groot dryfveer in die finale oprigting van die klubhuis en is ook bedank vir die rol wat hy gespeel het.
"Daar is 'n klomp jongmanne op Wellington wat 'n sport wil beoefen en as ons almal voor die TV of op die stoep gaan sit, wat gaan van ons jeug word?" het Stemmet die motivering agter sy betrokkenheid by WRK beskryf.
"Klubrugby is 'n amateursport, jy doen dit omdat dit lekker is. Ons wil 'n plek skep waar spelers op hul gemak kan speel en ná wedstryde kan ontspan," het hy gesê.
Volgens Flip Viviers, bestuurlid van WRK, is die klubhuis nie net 'n pluspunt vir die klub nie, maar skep dit ook heelwat bemarkingsgeleenthede.
Hy het 'n beroep op die plaaslike sakelui gedoen om die klubhuis vir die doeleinde te oorweeg en sodoende te help om dit as 'n bate vir die dorp in sy geheel te vestig.
Die 91-jarige Pen Basson, 'n groot naam in Wellington se sportkringe, was een van die ere-gaste by die geleentheid. |
 |
|
 |
|
|
|