safetop
ppostgothic
uitleg2mouthpiece
uitlefstreep

Thursday 30 May 2002

uitlefstreep

This site will be updated on: 7 June 2002 at 17:00

b_home
fb_news
b_people
fb_lifestyle
fb_arts
fb_sport
br_schools
fb_letters
fb_business
fb_property
b_vacancies
b_classifieds
fb_archives
fb_aboutus
fb_advertise
printing
homeads
fb_touristinfo
fb_businessindex
fb_organisations
fb_contact
fb_search
Google

Search WWW
Search Paarlpost
 

Youth - Jeug


wland22UITSTAPPIE. Laerskool Gimnasium se Gim-Indiane het onlangs 'n uitstappie na Boland Landbouskool onderneem. Hier bekyk die groepie groot-oog 'n klein varkie wat deur een van Landbouskool se leerlinge hanteer word.


Wie die lat mag swaai

Uh-Albry Reitz

[ Top ]


"DAAR is definitief 'n verswakking in dissipline by skole en kinders het deesdae die ingesteldheid dat skool glad nie meer belangrik is nie."

Dit was die woorde van een plaaslike skoolhoof, wat meen dat dit byna deesdae 'n onbegonne taak geword het om dissipline in die klaskamer te handhaaf.

"Ek is baie bekommerd oor die toekoms van leerlinge en hulle ingesteldheid teenoor hul skoolloopbane.

"Lyfstraf was nie 'n goeie opvoedkundige beginsel nie, maar alternatiewe strafmetodes is verskriklik tydrowend.

"Om dissipline effektief te handhaaf deesdae, benodig ons beslis meer mannekrag en strukture," het hy ook gesê.

Die klap van die rottang in skole is die afgelope paar jaar taboe en vir baie plaaslike skoolhoofde, onderwysers en selfs ouers is dit nou 'n stryd om oorlewing in die klaskamer.

Die meeste skoolhoofde is dit eens dat dit baie moeiliker geword het om leerlinge in toom te hou sedert lyfstraf in 1996 deur wetgewing afgeskaf is.

'n Skoolhoof op Wellington meen daar is 'n vakuum gelaat deur die Departement van Onderwys met die afskaffing van lyfstraf.

"Dit was beskou as 'n kitsoplossing en nou ly die onderwysers daaronder, want daar is nie vooraf genoegsame alternatiewe in plek gestel nie," het hy gesê.

'n Paarlse skoolhoof sê: "Ek glo nie daaraan om kinders te mishandel nie, maar lyfstraf onder beheerde omstandighede sal as die beste afskrikmiddel dien.

"Detensie boesem geen vrees by kinders in nie en vrees is soms tog 'n motivering."

Onderwysers meen dat min gedoen kan word om die respek wat leerlinge van ouds aan onderwysers getoon het, terug te bring.

'n Onderwyseres aan 'n hoërskool in Paarl-Oos kla dat die handhawing van dissipline 'pateties' geword het.

"Die leerlinge is arrogant en gebruik voor die onderwysers vloektaal. 'n Mens kry die indruk dat geweld in die huishoudings van dié leerlinge algemeen is en dan kom hulle met dié gedrag skool toe.

"Hulle het geen toekomsideale nie en het 'n verskriklike negatiewe ingesteldheid teenoor opvoeding.

"Dit benadeel die res van die leerlinge wat graag hul skoolwerk wil doen," het sy moedeloos gesê.

'n Ander onderwyser meen dat hul hande deesdae so te sê afgekap is.

"Leerlinge misbruik die feit dat lyfstraf nie meer toegepas mag word nie. Hulle vergeet egter dat verantwoordelikheid saam met regte gepaard gaan.

"Daar is so 'n opvlieendheid onder sommige leerlinge, dat selfs hul ouers by die skool kom kla.

"Dit lyk asof kinders skoolgaan deesdae as 'n tydverdryf beskou. As gevolg hiervan, laat baie onderwysers hul beroep vaar en so gaan goeie opvoeders verlore."

Nog 'n skoolhoof in Paarl-Oos het sy ontevredenheid oor die onvoldoende oorbruggingstadium in alternatiewe strafmetodes uitgespreek.

"Daar is 'n groot braak gebied in die toepassing van dissipline, wat probleme veroorsaak. Daar is geen oorbrugging vanaf die stadium waar jy die leerling moet straf (sonder om te slaan), tot waar hy geskors kan word nie.

"Probleemgevalle word op meriete gehanteer en ek moedig ouerbetrokkenheid ten sterkste aan. Maar 'n groot leemte word geskep deur wetgewing, vanaf "niks doen" tot skorsing en finale uitsetting.

"Groot getalle leerlinge in 'n enkele klas is ook 'n faktor wat daartoe bydra dat dit bykans 'n onbegonne taak is om dissipline te handhaaf.

"Die probleem met alternatiewe straf is: wat doen jy as opvoeder wanneer die leerling homself ook nie aan daardie metodes onderwerp nie?

"Daarom dink ek gekwalifiseerde lyfstraf sal handig te pas kom, indien dit onder streng beheer toegepas word.

"By strafmaatreëls fokus ons tans op rehabiliterende korrektiewe optrede. Dit sluit in leerlinge wat gemeenskapswerk doen of voor die res van die skool erken dat hy verkeerd was en apologie aanteken," het hy gesê.

Johan Barnard, hoof van Hoërskool Labori, is in die algemeen tevrede met die dissipline wat by sy skool gehandhaaf word, maar meen ook daar is plek vir lyfstraf in skole.

"Dit is 'n jammerte dat lyfstraf afgeskaf is, want ek dink dit is die mees effektiewe strafmaatreël vir leerlinge wat onbeskof is en wanorde in die klaskamer veroorsaak. Detensie is nie altyd doeltreffend nie.

"Aan die begin van elke skooljaar word leerlinge deur die onderwyser ingelig oor die klaskamerreëls. Die opset het baie verander van die dae toe lyfstraf algemeen was.

"Kinders het deesdae meer seggenskap in die skoolhuishouding, wat 'n goeie ding is, maar ongelukkig word onderwysers se regte beperk," was sy klagte.

Louis Knoetze van Hoër Jongenskool Paarl sê dat hy nog nooit 'n voorstander van lyfstraf was nie. Hy glo dat leerlinge se afwykende gedrag eerder deeglik ondersoek moet word en dat die kernprobleem opgelos moet word.

"Goeie dissipline is gebaseer op 'n goeie verhouding tussen leerling en onderwyser. Jy moet jou leerlinge ken.

"Dikwels dui afwykende gedrag op huislike probleme. 'n Mens moet korrektief optree. Dit help nie om net die kind te slaan nie.

"Maar dit is baie moeilik om goeie dissipline deesdae te handhaaf, omdat invloede van buite ook 'n groot rol speel," erken hy.

Knoetze voel ook dat respek van beide kant af moet kom: "Dit is die taak van 'n onderwyser om 'n leerkultuur in die klaskamer te skep en sekere standaarde te handhaaf en deurentyd konsekwent wees in sy optrede."

Oor alternatiewe strafmaatreëls het hy gesê dat HJS detensie met toestemming van die ouers uitgeskakel het, omdat hulle dit as "middeleeus" beskou.

"Die beste afskrikmiddel is nog steeds ouerbetrokkenheid. Ons is in 'n vennootskap met ons ouers en dinge verander gewoonlik wanneer die ouers ingeroep word.

"Ons sukkel ook maar met die gewone probleme, maar oor die algemeen handhaaf ons goeie dissipline by die skool," het hy gesê.

Ouers stem saam dat beheerde lyfstraf nog steeds die beste resep vir dissipline is.

'n Oud-onderwyseres, self 'n ma van twee tienerseuns, het gesê dat sy nie sal skroom om toestemming vir lyfstraf te gee nie.

"Dit help nie om te ontken dat die situasie hand-uit geruk het nie. Kinders is deeglik bewus daarvan dat onderwysers nie 'n hand op hulle mag lê nie en die alternatiewe strafmetodes werk nie altyd nie.

"Ek sal beslis stem daarvoor dat lyfstraf weer ingestel word. Dit gebeur té veel dat ouers vir die geringste klad op hul kinders se name die skool wil blameer en op die ou einde dan in hul hande huil wanneer daardie kind die pad byster raak," het sy gesê.


Argitekstudente kyk na opgradering

[ Top ]


'n GROEP van 25 derdejaar-argitektuurstudente van die Universiteit Port Elizabeth onder leiding van prof Albrecht Herholdt het onlangs op uitnodiging Wellington besoek. 

Die inisiatief hiervoor het ontstaan uit die Ontwikkelingskomitee van die Toerismeburo.

Charl Tomlinson en sy komitee het die noodsaaklikheid van 'n holistiese benadering tot die opgradering van die dorp uit 'n toerisme-oogpunt besef en die hulp van hierdie groep van Port Elizabeth ingeroep. 

Op hulle beurt het die Universiteit dit as 'n gulde geleentheid aangegryp om die projek as 'n geïntegreerde deel van hulle kurrikulum te gebruik. 

Herholdt se opdrag aan die studente was om onder andere 24 historiese huise of geboue op te meet en dorpstudies van Bain-, Kerk-, Hoof-, Voor-, Hoog- en Jan van Riebeeckstraat te doen. 

Verskeie stedelike ontwerpprobleme en oplossings is geïdentifiseer en opgemete tekeninge is gemaak van die mees prominente geboue in die dorp wat gebruik kan word vir promosie-aksies. 

Verdere aanbevelings oor die ingange na Wellington behoort aandag te geniet, lui die verslag, en daar moet beter beheer oor aanbouings en advertensietekens in die hoof- en ander strate wees om onder andere die straatbeeld te verbeter. 

Daar is ook 'n stadsontwerpvoorstel gemaak vir die dorpskern om die samehang van die belangrike historiese en ander geboue te verbeter, aangesien dit verskeie aantreklike geboue bevat wat nie tot hulle reg kom nie.


[ List of Schools / Skolelys ]


[ Top ]

Tel: (021) 871-1170 - e-mail: edit@ppost.co.za