|
TESTIKULêRE kanker is die algemeenste tipe kanker onder mans in die ouderdomsgroep 15 tot 40 jaar. Gereelde selfondersoek van die testes kan help om die siekte vroeg op te spoor.
Kansa poog met opvoedkundige veldtogte om die publiek meer bewus te maak van testikulêre en prostaatkanker, met die klem op selfondersoek en vroeë opsporing.
Mans met 'n familiegeskiedenis van testikulêre kanker loop 'n hoër risiko om dit te kry.
'n Geskiedenis van borskanker in moeders of susters verhoog ook die kanse dat 'n man testikulêre kanker kan kry.
Die algemeenste waarskuwingsteken is die voorkoms van 'n klein, harde, pynlose knoppie (omtrent die grootte van 'n ertjie) aan die voor- of sykant van die testis.
Daar is gewoonlik geen ander vroeë gevaarteken nie, behalwe die fermheid en groei van die knoppie.
Ander simptome kan insluit 'n swaar gevoel in of vergroting van die testis, skielike ophoping van vloeistof of bloed in die skrotum, of 'n dowwe pyn in die lies.
In die gevorderde stadiums van die siekte kan daar simptome van verspreiding wees, soos rug- en buikpyn, gewigsverlies, vergrote limfknope en urienweg-obstruksie.
Ongelukkig ignoreer mans hierdie vroeë waarskuwingstekens, met die hoop dat die simptome sal verdwyn.
Volgens Kansa is hierdie keuse skadelik vir jou gesondheid, omdat testikulêre kanker makliker behandel en genees kan word as dit vroeg opgespoor word.
Met 'n besoek aan jou dokter sal hy of sy jou mediese geskiedenis nagaan en 'n fisieke ondersoek doen.
Bloedtoetse, X-strale of ander toetse kan ook gereël word om vas te stel of dit kanker is, en of dit na ander dele van die liggaam versprei het.
Danksy moderne behandeling kan die meeste mans met testikulêre kanker steeds 'n normale lewe lei. Aangesien net een testis gewoonlik geaffekteer word, word die seksfunksie nie aangetas nie.
Behandeling sluit gewoonlik 'n kombinasie van chirurgie en moontlik bestralings- en chemoterapie in - na gelang van die stadium en tipe kanker.
Gereelde selfondersoeke van die testes is ook baie belangrik, omdat dit help met vroeë opsporing.
Hoe meer jy jouself ondersoek, hoe makliker word dit en hoe vroeër kan jy enige veranderinge opspoor.
Hierdie ondersoeke behoort elke maand gedoen te word, en verkieslik ná 'n warm bad of stort, omdat die hitte die skrotumvel laat ontspan en dit makliker maak om enigiets ongewoons op te spoor.
Kyk uit vir enigiets ongewoons - veral 'n knop aan die voorkant of sye van die testis. Sulke knoppe is gewoonlik pynloos.
Ondersoek elke testis afsonderlik. Gebruik albei hande, en rol die testis tussen twee vingers (wys- en middelvinger) en die duim. Dit is normaal om 'n klein ferm area aan die agterkant van die testis te voel - dit is die epidimis.
Herhaal die prosedure met die ander testis. Hoewel die een testis gewoonlik groter sal wees as die ander, wees altyd op die uitkyk vir enige veranderinge.
Dit is belangrik om uit te kyk vir 'n swelling van die testes of lies, deur voor 'n spieël te staan.
Onthou egter dat veranderinge nie noodwendig beteken dat jy kanker het nie - dit kan ook 'n sist of infeksie wees.
Indien daar geen verbetering is nadat antibiotika 'n week lank gebruik is nie, kan dit 'n gewas wees. Hoe vroeër testikulêre kanker behandel word, hoe beter is die kanse op herstel.
Kansa daag dus alle mans uit om die selfondersoek te doen of 'n doktersafspraak te maak vir 'n toets.
Kansa kan help om jou vrae te beantwoord. Om meer uit te vind oor kanker, skakel Kansa se tolvrye nommer by 0800 22 66 22 of besoek hul webtuiste by www.cansa.org.za.
Skriftelike navrae kan gepos word aan die Inligtingsentrum, Posbus 186, Rondebosch 7701. |