ppostgothic
Aida
safetop
uitlefstreep

Thursday 30 September 2004

uitlefstreep

This site will be updated on 7 October  2004 at 17:30

People - Mense


b_home
fb_news
b_people
fb_lifestyle
fb_arts
fb_sport
br_schools
fb_letters
fb_business
fb_property
b_vacancies
b_classifieds
fb_archives
fb_aboutus
fb_advertise
printing
homeads
fb_touristinfo
fb_businessindex
fb_organisations
fb_contact
fb_search
Google

Search WWW
Search Paarlpost
 

Oom Sakkie ken sy sny

[ Top ]

Engela Duvenhage


WANNEER my vriend Kevin Watson vanuit die Richtersveld Kaap toe kom vir 'n vergadering of 'n familiekuier op Wellington, sorg hy altyd dat hy 'n draai by Van der Vyver Haarsalon in Kerkstraat maak.

Want Kevin is 'n "short back and sides" man, wat vas glo aan oom Sakkie se skêr, babapoeier en lekker gesels.

Dis na dié skemerige salon met sy

wOOMfc

GETROU. Haarkapper Sakkie van der Vyver is reeds 58 jaar lank op sy pos by sy salon op Wellington.

uitgekerfde haarkapperstoel van eikehout en rooi leer, sy antieke kasregister, tapeserie en outentieke horlosie teen die muur, waarheen hy al sedert sy kinderjare kom vir 'n haarsny.

Kevin raak egter elke nou en dan bekommerd, want sy gunsteling-haarkapper is reeds 81 jaar oud, en op 'n stadium, as bietjie sommetjies met die logika gemaak word, moet oom Sakkie seker aftree.

En daarby, so sê die Britse mediese boeke glo, is dit vir 'n haarkapper onmoontlik om vir meer as 20 jaar agter die stoel te staan voordat sy skouerspiere ingee.

"Ek en my vrou Riëtta het besluit, op 115 sal ons vir twee weke vakansie hou, en daarna besluit wat ons met die besigheid gaan maak," stel oom Sakkie, 'n man wie se haarsalon in sy 64 jaar in die bedryf nog net 14 dae toe was, sy kliënte gerus.

Oom Sakkie is nou glo die sakeman op Wellington wat al die langste ooit sy eie onderneming hier bedryf het.

Dis nou al 'n volle 58 jaar vandat hy in 1946 sy eerste salon oopgemaak het onder in Hoofstraat, naby waar die Versailles Restaurant vandag is, op 'n tydstip toe daar reeds vier ander mansbarbiers op die dorp was.

Daarna het sy onderneming geskuif tot by Penny se Apteek, waar Basson Skoene vandag is.

En vir meer as 35 jaar al sluit hy soggens getrou die deur van sy salon oop in Kerkstraat, net 'n hanetree daarvandaan.

Daar was 'n tyd wat hy só besig was dat hy soggens van halfses  tot halfnege saans voltyds aan die hare doen was, en heelwat assistente gehad het.

Hy't ook sommer 'n algemene handelaar van allerlei dinge, van horlosies tot fietse, geword in sy winkeltjie, wat hy in 'n groot glaskas uitgestal het.

"Meer om die mense sommer ook besig te hou terwyl hulle wag vir hul beurt, want die toue was lank," vertel hy.

Deesdae gaan dit maar stiller met die besigheid, soos wat modes en giere verander, en staatmaker-kliënte minder word.

Daar is mense wat wil-wil beweer dat hy seker die oudste haarkapper ter wêreld is wat nog daagliks sorg dat mense se koppe respektabel lyk.

"Dit kan mens nie glo nie, sê oom Sakkie, 'n eerlike, reguit man van vaste beginsels en oortuigings. Nes as mens so iets sê, kom daar altyd nog 'n man wat ouer is."

Wat wel waar is, is dat vier geslagte Wellingtonners reeds deur sy winkel gekom het. Hy het ook al elkeen van sy vyf agterkleinkinders se hare gesny.

Oom Sakkie is deel van 'n groot familie wat in die Klein Karoo grootgeword het, waarvan talle van die seuns kleremakers of haarkappers geword het. Sy pa, 'n boer, was 'n besonderse sterk man, en dis van hom wat die broers hul krag gekry het. 

Self kon oom Sakkie 'n netjiese pak klere aanmekaar sit op sy dag.

In die 1940's is hy deur Van Zyl Broers in die Paarl gevra om 'n pak vir Jan Smuts te maak, wat 'n familievriend was.  Die probleem was net, Smuts was nie beskikbaar om self sy grys tweed-pak te pas nie.

Toe Smuts egter die eerste keer in Engeland die pak aantrek, het dit soos 'n handskoen gepas.

"Dit lyk of dit aan jou liggaam geweef is," het die destydse Britse koningin glo opgemerk en die Suid-Afrikaanse kleremakers gekomplimenteer.

"Nee, wat," was glo Smuts se antwoord, "dis gemaak deur 'n 17-jarige seun van die Paarl."

Sy eerste vat aan 'n man se hare was onder die wakende oog van sy ouer broer Willie, wat op Ladismith 'n salon gehad het.

Daarna het heelwat opleiding gevolg, wat hom van Stellenbosch en Worcester tot in die Paarl gebring het. Hy het sy eerste onderneming onder in Lady Greystraat oopgemaak.

Piet Visser, wat vandag 'n inwoner van Huis Vergenoeg in die Paarl is, was sy eerste kliënt.

'n Jaar of wat terug het 'n Britse dokter op 'n mediese konferensie in die Kaap gevra of die storie waar is dat daar in die Boland 'n haarkapper is wat al meer as ses dekades aan die werk is.

"Ja," het die antwoord glo gekom vanaf 'n plaaslike dokter, "kan ek hom vir jou gaan wys op Wellington?"

En so het dit gekom dat die Britse medisyneman eendag in oom Sakkie se salon gestaan het, sy skouers en spierstelsels deeglik ondersoek het, en in ongeloof verklaar het: "Maar hy is nie 'n mens nie!"

Volgens alles wat hierdie geleerde geneesheer geleer het, is haarkappers se beroepslewe redelik beperk, aangesien hulle skouerspiere ingee van heeltyd hul arms regop hou om te kan kam en poeier.

Vir oom Sakkie, wat ten minste 'n dekade jonger as sy 81 jaar lyk, is die verduideliking hiervoor eintlik heel eenvoudig.

Eerstens het dit te make met die oorgeërfde krag wat in die Van der Vyver-familie loop. Hy was op sy dag 'n sterke teenstander as bokser en stoeier.

Daarby het hy nog altyd goed na sy liggaam gekyk, rook en drink hy nie, en bly hy aktief deur oefening en te ontspan in die tuin nà 'n dag se werk.

Só, hoeveel koppe het hy al oor die jare gesny?  "Hennetjie, dit moet baie wees," kom die antwoord.

"Mens kry moeilike koppe so oor die jare, donshare, min hare en krulhare." Oom Sakkie het op sy dag mans en vroue se hare gesny en gedoen, maar vandag fokus hy eintlik net op mans.

So twee jaar terug was hy onder die mes met 'n ernstige operasie, maar was 'n week of wat weer getrou op sy pos.

Oom Sakkie het duidelik nie planne om binnekort die laaste knip van die spreekwoordelike skêr te gee nie.

"Daarby is die lewe maar duur, en my gesondheid nog goed," verklaar hy.

Hy is in elk geval nie 'n man wat nie kan stil sit nie. "Ek kan nog nooit naweek gehou nie!"  Só, Kevin kan maar sy sake nog reël vir 'n haarsny by oom Sakkie, ten minste tot dié oom met sy netjiese grys snorretjie 115 jaar oud is, as die Here hom spaar.


Haar slaai is nie saai

Engela Duvenhage

[ Top ]


WAT gemaak as jou buurman 'n reuse oop erf het wat tans vir niks in besonders gebruik word nie, en jy eintlik in jou hart weet jy't regtig groen vingers? Jy plant slaai daarop, natuurlik!

Dis presies wat Louise Steenkamp van Fonteinstraat in Wellington, 'n paar maande terug aangepak het.

Haar buurman was heel inskiklik oor haar planne om haar boerderyplanne op miniskaal uit te toets, en tans is Louise letterlik besig om die vrugte (of is dit nou blare) daarvan te pluk.

Talle van die plaaslike restaurante in die dorp koop reeds van haar kwaliteit slaaiblare aan - met kappertjies op die koop toe ingesluit.

Op 'n reuse oop erf, letterlik in die skaduwees van die Boland Rugbystadion, versorg sy meer as 'n 1000 kropslaaiplantjies van omtrent al wat kleur en vorm is.

Daar's groen gladdeblaar-variëteite, wynrooi krulblare, en natuurlik groen-en-rooi krul- en gladdeblaartipes.

Om presies te wees, enige tipe interessante slaaiblaar wat jy aan kan dink, behalwe die algemeen bekende Iceberg kropslaai wat jy gewoonlik op jou hamburger kry.

Tussen-in het sy ook spinasie, sprietuie en kruie wat aan die groei is.

Dis egter harde werk om haar mini-boerdery aan die gang te hou.

Met die reën wat aanhou wegbly, moet sy water in emmers aandra van 'n put op die erf.

Daarby hou sy die plantjies met 'n arendsoog dop vir enige tekens van slakke of wurms.

Om die aanval van hierdie professionele slaaivreters te keer, gooi sy eierdoppe om die plantjies, of beskerm hulle met joghurtbakkies.

Volgens Louise probeer sy so organies as moontlik met haar slaai te werk, deur geen gifstowwe te spuit nie.

Sy sê egter dat die grond waarop sy haar slaai plant, vir nog 'n jaar of wat op hierdie manier behandel moet word voordat sy haar slaai as 100% organies kan bemark.

"In Suid-Afrika moet grond etlike jare lê sonder enige gifstowwe voordat jy jou produkte as organies kan klassifiseer."

En wat noem sy haar slaaibedryf? "Lou's Lettuce", natuurlik, nadat sy ook opsies soos "Lettuce eat" en "Bakgat Blare" oorweeg het!


Dekades diens aan Wellingtonners

Engela Duvenhage

[ Top ]


HY is die spil waarom so baie dinge draai.

Met dié beskrywing komende van een van sy mede-Rapportryers, lê ek besoek af by Charl Tomlinson, wat onlangs aangewys is as Wellingtonner van die Jaar vir sy jarelange onbaatsugtige diens aan die gemeenskap op vele terreine.

Dis 'n formidabele beskrywing vir enigiemand om aan te voldoen, maar dis skynbaar een wat gepas is vir hierdie beskeie maar korrekte gryskop man met sy bril wat kenmerkend aan 'n toutjie rondom sy nek hang, gereed om 'n papier op te tel, 'n feit te toets of 'n reëling na te gaan.

Kyk mens deur die lys van komitees, verenigings en aksies waarop dié oud-Transvaler oor die meer as 30 jaar reeds gedien het, wil mens amper wonder waar hy die ywer vandaan kry.

Hy hou van uitdagings, van dinge deurvoer. Sy afronding kom egter kort as dit kom by liassering, want hy's gewoonlik al weer op pad met 'n volgende projek, verduidelik hy, en sê sy studeerkamer is eenvoudig te deurmekaar vir 'n foto.

"Ek doen net 'n ding terwyl dit vir my lekker is," verduidelik dié bobaas notule-skrywer.

Daar was die Belastingbetalersvereniging en Wellington Forum van die tagtigerjare, die plaaslike skoolraad, sy betrokkenheid by die toerismeburo, die Wellington Ontwikkelingsvereniging en plaaslike politiek.

Baie van die stoele het hy sommer gelyktydig warmgesit, en daardeur heelwat interessante mense uit alle spektrums van die gemeenskap ontmoet.

Die HOP-komitee is een van sy hoogtepunte wat dorpsake betref. "Die mense wat ek daar ontmoet en leer ken het, lekker mee saamgewerk het.

"Ons was regtig 'n deurmekaarspul - PAC, ANC, NP, DP, Volksfront, onafhanklik, die lot."

Interessante projekte het die lig gesien wat sy vingerafdruk gehad het - van die motorlisensie-skyfiehouer met die Wellington logo daarop en die uitbouing van die Junior Rapportryers se breinkind, die jaarlikse kultuurkalender, tot die toerismeburo se besigheidsplan en die meesterplan vir toerisme wat hy en Eugenie Wiggins opgestel het.

Tans is hy sekretaris of bestuurslid van 'n stuk of ses - onder meer die Vriende van die Wellington Museum, die Verfraaiingskomitee en die Estetiese Komitee, asook van die Stikland Ondersteuningsaksie en Hopefield House in die Strand.

Dit is Sak Viljoen, destydse bestuurder van die Droëvrugteraad, wat sy liefde vir dorpsake so aangewakker het.

Soveel só dat sy vrou, Anne-Marié, deesdae glo ietwat ongelukkig is as sy hul aftreedae wil geniet met 'n reis iewers heen, maar hy weer 'n vergadering of twee het wat nie afgestel kan word nie.

Oor haar sê hy egter sy's sy klankbord, die een wat haar mening moet gee voor 'n moeilike dokument verder aangestuur word.

"Hulle sê mos mens moet nooit 'n brief wat jy skryf as jy vies is, dadelik pos nie," verduidelik hy oor haar temperende rol.

Dié twee oud-Pretorianers (wat gou geleer het om vir die Boland en WP te skreeu) se eerste kennismaking met Wellington was 'n bedompige, snikhete middag in Maart 1968, toe hulle besluit het om 'n draai deur die Boland in hul DKW te ry.

"In daardie dae was daar nog nie struike, blomme en bome op die sypaadjies en middelmannetjies nie," vertel hy. "En àl die besighede het etenstyd toegemaak, behalwe Gracios se kafee, La Rochelle en Rendezvous."

"Daar't nie 'n ding geroer in die hele dorp nie." 

Met die uitry na Bainskloof het hulle vir mekaar gesê: "In hierdie 'one horse town' wil ons nie eens begrawe word nie".

Skaars 'n paar maande later plaas die SAD so 'n "idilliese advertensie met wingerde in die hart van die Boland" vir 'n posisie in hul ontluikende rekenaarafdeling, dat hy sy werk by Atlas Vliegtuie vaarwel roep en hulle vroeg in 1969 intrek op Wellington.

Byna 30 jaar later het hy ook hier afgetree, "as deel van die 'furniture'".

"Dis net asof ek gevoel het ek is tuis, hierdie dorp het 'n siel, hier wil ek bly, werk, kinders grootmaak, ja - hier wil ek begrawe word."

"Langs die pad lê natuurlik baie foute ook, blapse en selfs flaters wat my nou nog koue rillings laat kry as ek daaraan dink," erken hy, terwyl hy nie veel meer daaroor wil uitwei as bloot 'n "daaroor skryf jy nie" hier en daar.

"Ongesiens trap mens ook op tone," sê dié man wat glo dat Wellington se krag in sy plaaslike organisasies lê.

Sy leuse bly dat deur blote saamspan van kragte en vaardighede en uitruil van idees, jy baie kan vermag.

"Elkeen kan 'n bydrae lewer, hoe gering ookal, individue sowel as besighede."

Juis daarom lê projekte soos die Verfraaiingskomitee se Sakeperseel van die Jaar, asook die bewaring van die dorp se estetiese kern vir hom so na aan die hart.

Die vroeë sewentigerjare se era van "alles wat oud is word afgebreek en vervang met doelmatige geboue" is volgens Charl 'n donker kol op Wellington se dorpskarakter, maar dis vir hom goed om deesdae al meer "mooi tekens" te sien van hoe die ou geboue in die dorp weer liefderyke aandag kry.

Wat is sy geheim vir kaartjieverkope of geldinsameling, stemwerwery of organisasie van 'n 250-persoon glansfunksie?

Hou 'n dinkskrum en skryf alles neer. En seker, bo alles, hou kop.


[ Top ]

Tel: (021) 871-1170 - e-mail: edit@paarlpost.co.za  

[ Top ]