|
uitgekerfde haarkapperstoel van eikehout en rooi leer, sy antieke kasregister, tapeserie en outentieke horlosie teen die muur, waarheen hy al sedert sy kinderjare kom vir 'n haarsny.
Kevin raak egter elke nou en dan bekommerd, want sy gunsteling-haarkapper is reeds 81 jaar oud, en op 'n stadium, as bietjie sommetjies met die logika gemaak word, moet oom Sakkie seker aftree.
En daarby, so sê die Britse mediese boeke glo, is dit vir 'n haarkapper onmoontlik om vir meer as 20 jaar agter die stoel te staan voordat sy skouerspiere ingee.
"Ek en my vrou Riëtta het besluit, op 115 sal ons vir twee weke vakansie hou, en daarna besluit wat ons met die besigheid gaan maak," stel oom Sakkie, 'n man wie se haarsalon in sy 64 jaar in die bedryf nog net 14 dae toe was, sy kliënte gerus.
Oom Sakkie is nou glo die sakeman op Wellington wat al die langste ooit sy eie onderneming hier bedryf het.
Dis nou al 'n volle 58 jaar vandat hy in 1946 sy eerste salon oopgemaak het onder in Hoofstraat, naby waar die Versailles Restaurant vandag is, op 'n tydstip toe daar reeds vier ander mansbarbiers op die dorp was.
Daarna het sy onderneming geskuif tot by Penny se Apteek, waar Basson Skoene vandag is.
En vir meer as 35 jaar al sluit hy soggens getrou die deur van sy salon oop in Kerkstraat, net 'n hanetree daarvandaan.
Daar was 'n tyd wat hy só besig was dat hy soggens van halfses tot halfnege saans voltyds aan die hare doen was, en heelwat assistente gehad het.
Hy't ook sommer 'n algemene handelaar van allerlei dinge, van horlosies tot fietse, geword in sy winkeltjie, wat hy in 'n groot glaskas uitgestal het.
"Meer om die mense sommer ook besig te hou terwyl hulle wag vir hul beurt, want die toue was lank," vertel hy.
Deesdae gaan dit maar stiller met die besigheid, soos wat modes en giere verander, en staatmaker-kliënte minder word.
Daar is mense wat wil-wil beweer dat hy seker die oudste haarkapper ter wêreld is wat nog daagliks sorg dat mense se koppe respektabel lyk.
"Dit kan mens nie glo nie, sê oom Sakkie, 'n eerlike, reguit man van vaste beginsels en oortuigings. Nes as mens so iets sê, kom daar altyd nog 'n man wat ouer is."
Wat wel waar is, is dat vier geslagte Wellingtonners reeds deur sy winkel gekom het. Hy het ook al elkeen van sy vyf agterkleinkinders se hare gesny.
Oom Sakkie is deel van 'n groot familie wat in die Klein Karoo grootgeword het, waarvan talle van die seuns kleremakers of haarkappers geword het. Sy pa, 'n boer, was 'n besonderse sterk man, en dis van hom wat die broers hul krag gekry het.
Self kon oom Sakkie 'n netjiese pak klere aanmekaar sit op sy dag.
In die 1940's is hy deur Van Zyl Broers in die Paarl gevra om 'n pak vir Jan Smuts te maak, wat 'n familievriend was. Die probleem was net, Smuts was nie beskikbaar om self sy grys tweed-pak te pas nie.
Toe Smuts egter die eerste keer in Engeland die pak aantrek, het dit soos 'n handskoen gepas.
"Dit lyk of dit aan jou liggaam geweef is," het die destydse Britse koningin glo opgemerk en die Suid-Afrikaanse kleremakers gekomplimenteer.
"Nee, wat," was glo Smuts se antwoord, "dis gemaak deur 'n 17-jarige seun van die Paarl."
Sy eerste vat aan 'n man se hare was onder die wakende oog van sy ouer broer Willie, wat op Ladismith 'n salon gehad het.
Daarna het heelwat opleiding gevolg, wat hom van Stellenbosch en Worcester tot in die Paarl gebring het. Hy het sy eerste onderneming onder in Lady Greystraat oopgemaak.
Piet Visser, wat vandag 'n inwoner van Huis Vergenoeg in die Paarl is, was sy eerste kliënt.
'n Jaar of wat terug het 'n Britse dokter op 'n mediese konferensie in die Kaap gevra of die storie waar is dat daar in die Boland 'n haarkapper is wat al meer as ses dekades aan die werk is.
"Ja," het die antwoord glo gekom vanaf 'n plaaslike dokter, "kan ek hom vir jou gaan wys op Wellington?"
En so het dit gekom dat die Britse medisyneman eendag in oom Sakkie se salon gestaan het, sy skouers en spierstelsels deeglik ondersoek het, en in ongeloof verklaar het: "Maar hy is nie 'n mens nie!"
Volgens alles wat hierdie geleerde geneesheer geleer het, is haarkappers se beroepslewe redelik beperk, aangesien hulle skouerspiere ingee van heeltyd hul arms regop hou om te kan kam en poeier.
Vir oom Sakkie, wat ten minste 'n dekade jonger as sy 81 jaar lyk, is die verduideliking hiervoor eintlik heel eenvoudig.
Eerstens het dit te make met die oorgeërfde krag wat in die Van der Vyver-familie loop. Hy was op sy dag 'n sterke teenstander as bokser en stoeier.
Daarby het hy nog altyd goed na sy liggaam gekyk, rook en drink hy nie, en bly hy aktief deur oefening en te ontspan in die tuin nà 'n dag se werk.
Só, hoeveel koppe het hy al oor die jare gesny? "Hennetjie, dit moet baie wees," kom die antwoord.
"Mens kry moeilike koppe so oor die jare, donshare, min hare en krulhare." Oom Sakkie het op sy dag mans en vroue se hare gesny en gedoen, maar vandag fokus hy eintlik net op mans.
So twee jaar terug was hy onder die mes met 'n ernstige operasie, maar was 'n week of wat weer getrou op sy pos.
Oom Sakkie het duidelik nie planne om binnekort die laaste knip van die spreekwoordelike skêr te gee nie.
"Daarby is die lewe maar duur, en my gesondheid nog goed," verklaar hy.
Hy is in elk geval nie 'n man wat nie kan stil sit nie. "Ek kan nog nooit naweek gehou nie!" Só, Kevin kan maar sy sake nog reël vir 'n haarsny by oom Sakkie, ten minste tot dié oom met sy netjiese grys snorretjie 115 jaar oud is, as die Here hom spaar. |