|
EK stem saam met Elaine dat dit 'n nagmerrie geword het om die Paarlse middedorp te besoek.
My familie en vriende was al direk betrokke by insidente soos motors wat met graffitti bekrap is, spoeg op motor en gewoon afdreiging omdat hulle nie die "motoroppassers" wou betaal het nie (soms tot drie persone per motor).
Die sentrale dorp het in 'n sekere mate van anargie verval, so erg so dat die plaaslike radiostasie en koerant die mense wat die sentrale dorp en selfs die arboretum wil besoek, gewaarsku het dat veral vrouens en kinders nie handsakke moet dra in Lady Greystraat nie en verkieslik meer as een persoon en sonder selfone die Arboretum moet besoek , weens boewery.
Daar word deesdae so erg besigheid op die sypaadjies gedoen dat dit baie moeilik is om die winkels binne te gaan.
Sypaadjies is mos nie vir besigheid doen nie - veral as dit reën is daar nêrens om onderdak te loop nie.
Dit is mos verregaande dat betalende belastingbetalers, wat verantwoordelik is vir die stadsvaders se salarisse, nie op 'n beskaafde wyse die dorp vrylik kan besoek sonder om bedreig te voel nie.
As Paarliet beskou ek dit as 'n reg om sonder bedreiging te kan parkeer en besigheid te doen. Die stadsvaders sal ernstig moet besin om veral die sentrale middedorp weer 'n veiliger gebied te maak met ordentlike polisiëring en wetstoepassing.
Daar is sprake dat 'n winkelsentrum met veilige parkering en 'n plek waar 'n mens ongehinderd kan gaan inkopies doen, in Suider-Paarl opgerig gaan word. Dit sal 'n doodsteek vir die sentrale dorp wees en besighede in die middedorp sal so swaar begin trek dat van hulle heel moontlik hul deure sal moet sluit - tot nadeel van almal en armoede sal dan verder in die hand gewerk word.
Ek sal tans ongelukkig so 'n ontwikkeling moet ondersteun, want dit sal 'n baie veiliger alternatief vir my familie wees.
Ek stel voor dat alle middedorp-besighede en die stadsvaders dringend koppe bymekaar sit om die middedorp weer 'n vriendelike, ongehinderde besigheidsentrum te maak soos reeds voorgestel is, voordat nuwe ontwikkeling dit van ons af wegneem.
Kaapstad en Johannesburg se sentrale middedorp gebiede het dit reggekry, so ons kan ook.
Roelf Louw |