|
"Ek onthou nog hoe het Gerald (sr) op sy verjaardag gesê Gerald jr het baie meer vir ons gegee as ons vir hom. Twee maande later is hy dood."
Joaline se oë is twee poele hartseer as sy vertel van hul eerste baba wat op nege maande doodgebore is. 'n Paar jaar later is Gerald gebore.
"Dr Pohl de Villiers was my dokter en ek onthou nog hoe die suster vir hom gesê het hy kan maar gaan, sy sal die nodige doen vir die baba.
"Sy antwoord was dat hy dit self wil doen, want ek het reeds een teleurstelling gehad."
Gerald was heeltemal normaal by geboorte, maar die probleme het begin met sy eerste 3-in-1 immunisering. "Sy armpie het baie opgeswel en hy het 'n stuipe-aanval gehad.
"Ons was onkundig en het gedink dit was miskien 'n vuil naald wat hom siek gemaak het.
"Met sy tweede inspuiting het dieselfde gebeur en ons het by dr Joffe geland. Hier het ons gehoor van navorsing wat in Engeland gedoen is en waar bevind is dat dié immunisering by sekere kinders nadelige gevolge kon hê.
"Met die geboorte van ons dogter, Louise, is ons aanbeveel om nie die inspuitings te neem nie."
Maar vir Gerald was dit te laat. Hy het foto-epileptiese aanvalle begin kry en hy was meer in die hospitaal as daar buite.
"Sy oë was baie sensitief vir lig en ons kon hom net klein rukkies uit die huis neem en dan ook net met 'n spesiale donkerbril."
Joaline, 'n grade onderwyseres, het haar werk bedank om by haar kind te wees. "'n Mens dink mos net jyself kan na jou kind kyk.
"Ons het toe op Stellenbosch gewoon en in 1985 het ek gehoor van 'n speelgroepie vir gestremde kinders." Al gou het sy hoof geword van die speelgroep wat later ontwikkel het tot die bekende Dorothea skool.
"Toe hulle besluit om skool te bou, het hulle gevoel hulle het 'n man nodig, 'n vrou sal dit nie kan doen nie." Haar man, wat by Spes Bona en later Kylemore hoof was, het die pos aanvaar en die res van sy loopbaan daar deurgebring.
Joaline is gevra om Paarl toe te kom om te help by die Ligstraal skool wat toe nog by die Ascension kerksaal was. "Ek het kom help en toe sommer gebly.
"Ons het skool gebou en ons leerders het van 13 tot 190 aangegroei," glimlag sy.
Dat dit werklik 'n lewensroeping vir haar is, is duidelik uit die toekenning vir lewenslange uitnemendheid wat die Kaapse Onderwysdepartement onlangs aan haar gemaak het.
"Hierdie kinders is reeds afgeskryf deur die hoofstroom-skole, ons moet hulle weer opskrywe," vertel sy. "As die kind gelukkig en gedissiplineerd is, as hy voel hy behoort, dan is hy gelukkig.
"Ons het 'n ander benadering hier. Ons kyk na veelvoudige intelligensie.
"Elkeen het 'n talent, as dit nie akademies is nie, dan moontlik handvaardigheid, of sport.
"Ons soek dié talent en ook die kind se belangstelling, en konsentreer daarop. Dit gaan nie oor die onvermoë nie, maar die vermoë van ons kinders."
Nuwe leerders by Ligstraal word deur die arbeidsterapeut en verpleegkundige geassesseer en dan in 'n leergroep geplaas.
"Ons het ook 'n program vir die ouers. Ons het begin met vergaderings en nou bied ons gereeld inligtingpraatjies vir hulle aan.
"Ons het 'n genetiese kliniek hier begin om hulle te help met vrae rondom hul kinders.
"Verder leer hulle om onderwysers te ondersteun met die kinders se onderrig.
"Ons help ook met emosionele en gesinsprobleme. 'n Gestremde kind bring mense óf nader aan mekaar óf verwyder hulle," sê Joaline en vertel dat hulle selfs ouers weer bymekaar gebring het.
"Ons het ook al selfs troues vir ouers gereël."
Die betrokkenheid van almal by die skool, maar ook van hul bure en die gemeenskap, is vir haar baie belangrik.
Ligstraal het vyftien onderwysers en ook vyftien nie-doserende personeel. "Dit is spesiale mense. Ligstraal is nie 'n werk nie, dit is 'n leefwyse."
Sy vertel dat hulle reeds sesuur soggens begin om leerders aan te ry. "Dan pas die nagwag die kinders op tot die onderwysers halfagt kom."
"Ons het ook 'n baie goeie verhouding met die gemeenskap. Hier is twee dokters wat ons kinders gratis behandel en ons kry gereeld skenkings van organisasies en ook individue.
"Verder help ons bure om die skool op te pas, want ons kan nie heeltyd hier wees nie."
Joaline, 'n nooi Van Wyk van Pniel, is een van sewe kinders, en die enigste meisiekind.
"Van my ses broers is vyf in die onderwys. Ek dink dit is omdat Mammie, al was sy baie sieklik, ons so aangemoedig het om te studeer."
Sy het haar skoolopleiding by Noorder-Paarl Sekondêr voltooi, waarna sy Athlone-kollege toe is. Later het sy aandskool geloop, haar matriek voltooi en by Unisa ingeskryf vir 'n BA-graad.
Hiervandaan is sy Maties toe, waar sy op die oomblik besig is met 'n meestersgraad. Haar tesis handel oor beroepsgerigte opleiding vir die verstandelikgestremde leerder.
Joaline self is betrokke by die US Deapartement Opvoedkundige Psigologie se projek oor intellektuele gestremdheid en kwaliteit lewenslange ontwikkeling.
Sien 'n mens haar tussen die kinders, besef jy gou dat haar onderwysfilosofie nie net praatjies is nie: sy sien nie die kinders se gestremdhede raak nie, maar ervaar elkeen as 'n unieke individu met 'n spesiale begaafdheid. |