|
SATERDAG se hewige reëns het verhoed dat enige plaaslike Boland-ligakrieketwedstryde dié naweek gespeel word.
Dit het die Three Ships Wellington Krieketklub se eerste span van die kans ontneem om teen Coronations te vergoed vir hul naelskraapse nederlaag teen Worcester United die vorige naweek.
Op Worcester het die tuisspan die loot gewen en Wellington ingestuur om eerste te kolf.
Na 'n goeie begin val paaltjies met gereelde tussenposes totdat Sarel Wolmarans (63 nun 5x6, 3x4) 'n kapteinsbeurt speel. Hy is goed bygestaan deur Timmy Cornellissen (39 3x4) en Steyn Basson (32 3x4).
Wellington word uitgeboul vir 208 lopies.
Bardo Fransman (3/51), Garfield Goetham (4/61) en Hilton Peterson (2/26) was verwoestend vir die Worcesteriete.
Worcester United jaag die teiken teen 'n vinnige tempo, maar verloor gereeld paaltjies.
Arne Cuttings (107) is die tuisspan se groot uitblinker, met verbroude vangkanse wat Wellington duur te staan kom.
Henko Borman (4/42) was die beste bouler vir Wellington. Worcester behaal die wenlopies met sewe paaltjies plat.
Wellington II se wedstryd teen Coronation II is ook afgestel.
Dié tweede span het egter verlede naweek hul derde oorwinning behaal deur vir Oostelikes te klop.
Wellington kolf eerste en behaal 227 lopies. Rudi de Bruyn (66 8x4), Fritz Basson (43 8x4), Cedric Williams (33 3x6, 1x6) en Marius Dempers (37 5x4, 1x6) maak goeie bydraes.
Oostelikes jaag die lopies, maar die Wellingtonse boulaanval was net te sterk. Barry Olivier (3/21) en Rudi de Bruyn (3/42) speel 'n groot rol.
Oostelikes word almal uitgeboul vir 195 lopies vir 'n oorwinning van 32 lopies. |