|
VAN koejawels, wynmaak en die lewe kan jy hom nie vertel nie: Cornél Grobbelaar, boer by uitnemendheid en deurleefde mens, is 'n bekende naam in Paarlse boerderykringe.
Pas deur die Klein Drakenstein landboustudiegroep vereer vir sy bydrae tot boerdery in die gebied, het Paarl Post 'n draai gaan maak op die plaas Modderkloof om dié man van nader te leer ken.
Teen die mure van sy kantoor hang ritse toekennings van verskillende organisasies, 'n stille getuienis van die diep spore wat hy in die landbou in die Wes-Kaap, maar ook landwyd getrap het.
Dan vang 'n mens se oog die familieportrette, van die vroegste Grobbelaars tot by vandag se kleinkinders, en jy besef dié man het 'n diepgewortelde respek vir die verlede.
Dié indruk word versterk deur sy eerste skooltassie wat verinneweerd aan 'n haak hang, omring deur plaasimplemente van gister en vandag.
Net voordat 'n mens se moed jou begewe in die lig van al hierdie prestasies en tradisies, versag die gesig voor jou in 'n onnutsige glimlag en die humor in die oë spreek boekdele.
"Ja, Ma moet in die hemel wees - ons was vier seuns..." bevestig hy jou vermoede dat daar 'n platjie skuil agter al die waardigheid.
Cornél Grobbelaar is in 1930 gebore en so lank as hy kan onthou, wou hy maar boer.
Die eerste Grobbelaar op Modderkloof, oupa Kerneels, het in 1890 van Riebeek-Kasteel gekom en het in 1893 die plaas gekoop.
Die oorspronklike plaashuis is in 1820 gebou. Met die koms van nuwe geslagte en getroude seuns wat help boer het, is nog 'n woonhuis op die plaas gebou.
Die ou huis is intussen pragtig gerestoureer en Cornél se seun, Willem, woon op die oomblik daar.
"Ek het in die depressiejare grootgeword en geld was maar skaars.
"Maar ons het ryk grootgeword - ons het alles gehad wat ons nodig gehad het. Ma-hulle het ons grênd grootgemaak, tot met tennis en brug," raak hy nostalgies.
Dan met 'n stout glimlaggie: "Ouma het 'getry' vir klavier, want ek het lang vingers, het sy gesê. Maar daar het niks van gekom nie."
Oom Cornél se eerste skool was Laerskool Klein Drakenstein.
"Oom Nico Retief het my soggens, op sy pad Paarl Post toe, daar afgelaai. Smiddae moes ek stap terug huis toe."
Lewenslesse was daar baie en een van dié wat hy nooit sal vergeet nie, was oor die pennie in sy sak.
"Ek was so vyf, ses jaar toe ons die eerste keer Kaap toe is. Ons was baie opgewonde, want op die Parade kon jy enigiets koop, van ses piesangs vir 'n pennie tot twee pond vir 'n fiets.
"Pa het vir ons elkeen drie pennies in die hand gestop met die woorde dat ons een pennie moet bêre vir die nood, want dit kos 'n pennie om toilet toe te gaan.
"Hy het gesê: 'Vanaand as ons by die huis kom, wil ek sien dat julle nog jul pennies het'."
Nodeloos om te sê, het almal nog hul pennies gehad, maar belangriker nog, hulle het besef hoe belangrik dit is om altyd geld in jou sak te hê.
Oom Cornél het in 1948 aan Gimnasium gematrikuleer en het toe vir 'n jaar gaan boer, aangesien sy pa nie gesond was nie.
"Maar my ma het voet by stuk gehou dat ek eers moet leer en ek is haar baie dankbaar daarvoor. Die volgende jaar is ek Elsenburg toe en daar het ek uitgestap só geleerd dat dit kan vrek."
Die waarheid is dat hy in 1951 aangewys is as die beste wynboustudent en hy beken dat die wynbedryf maar altyd sy eerste liefde was.
"Ek het so 'n bietjie gepars en wyn gemaak in die Stellenbosch distrik en het ook 'n paar aanbiedinge gehad, maar ek het besluit my plek is hier op die plaas."
Wyn het altyd dik deur sy are geloop en hy was 30 jaar voorsitter van Paarlvallei wynkelder en 10 jaar van die KWK Plantverbeteringskomitee. Hy het onlangs afgetree as ondervoorsitter van Boland Kelder.
Op Modderkloof het dit egter oor koejawels gegaan.
"En dit het goed gegaan. Ná die depressie het die oorlog gekom en die boere het begin geld maak. Pa het in 1948 meer geld gemaak as in al die jare vandat hy 1921 begin boer het."
Maklik was dit nie vir die twee geslagte om al dag saam te boer nie: "'n Mens kom mos met slim idees en al die ekonome van Elsenburg agter jou."
In 1953 tref 'n ramp die koejawelbedryf. Oornag val die bodem uit die mark en waar boere die vorige jaar nog 22 pond 10 per ton gekry het, wil niemand nou hul vrugte eers hê nie.
"Voortvarend soos jong manne maar is, besluit ek toe dit is die koöperasie se skuld. Ek kry 'n klomp handtekeninge en vra 'n vergadering aan.
"Die aand daar staan die voorsitter, oom Paul Malherbe, op en sê die vergadering is deur 'n klomp ontevrede boere aangevra en hy het niks om te sê nie, ons moet maar praat.
"Maar praat, praat niemand toe nie - almal sit net vir my en kyk. Toe praat ek maar, en hét oom Paul my kop gewas daardie aand..." glimlag hy.
Gelukkig was die afswaai net tydelik en produsente het gou hul klem verskuif van inmaak na versapping. Cornél het hom vinnig verdiep in die sapbedryf - dit is na alles baie nou verbind aan sy geliefde wynmakery.
"Dit was 'n goeie tyd vir die bedryf. Ons het koejawelkoninginne gekies en koejawelrugbyspanne gehad."
Verlede jaar is hy deur die KWV vereer met 'n erepenning en oorkonde vir sy innoverende denke wat bygedra het tot die ontwikkeling van druiwesapkonsentraat en die Bon Vino skroefdopbottel as suksesvolle produkte.
Cornél is voorsitter van die Wes-Kaapse Koejawelprodusentevereniging en dit is met trots dat hy sê: "Ek ken die koejawel". Dit is nie verniet dat hy bekend is as Suid-Afrika se Koejawelkoning nie.
Asof om sy woorde te beklemtoon, lui die telefoon. 'n Bankamptenaar wat wil seker maak van produksiesyfers en tendense in die bedryf, voordat hy 'n lening aan 'n voornemende kliënt goedkeur.
Tussendeur bedien Elize Grobbelaar tee en koekies en die gesprek dwaal terug na die familie.
"Ja, ek het amper oorgestaan vir saad. Maar ek is toe darem in 1962 met Elize Rossouw van Robertson getroud," spot hy.
Die egpaar het twee seuns, Nelis en Willem, en vyf kleinkinders. Nelis is mediese praktisyn by die Paarl Hospitaal en Willem boer op die plaas.
En die pad vorentoe?
"Ek boer nog in 'n raadgewende hoedanigheid. Jy weet, ek gee nie om as die jong boere uit die boek boer nie, hulle moet net op die regte bladsy wees," brom hy.
Voorwaar 'n man aan wie se knie ons baie kan leer: 'n man wat met 'n glimlag kan terugkyk op die voortvarendheid van die jeug, maar ook die wysheid en sukses van later jare.
* Veteran Paarl farmer Cornél Grobbelaar has retired. |