|
"Ek het twee jaar gelede gesê dat ek Boland Krieket sal lei tot en met die Wêreldbeker en ek gaan hou by die besluit," het Paulse in sy finale toespraak as president gesê.
Die visepresident, Peter Cyster, sal voortaan Paulse se skoene volstaan terwyl Peter Ingwersen, tesourier, Cyster se ou posisie sal vul. Cyster en Ingwersen was die enigste twee nominasies vir dié onderskeie posisies.
"As 'n mens 'n goeie administrateur is, hoef hy geen posisie te vrees nie. Jou werksgebied word net groter en dit word net moeiliker om in kontak te bly met die amptenare onder jou," het Cyster gesê nadat hy as president aangewys is.
"Ek is bly vir die kans om te wys dat ek Boland Krieket 'n ent verder kan neem. Dit is 'n uitdaging wat ek gaan aangryp en dit is vir my belangrik dat ek dit met die ondersteuning van die klubs sal doen.
"Dit is tyd dat ons nie meer op politieke aspirasies fokus nie, maar op die bedryf self, naamlik krieket.
"Krieket self sal nie voortbestaan as ons sit en wag vir aalmoese van die Verenigde Krieketraad nie. Ons sal self moet inklim en kyk wat ons kan doen," het Cyster gesê.
Daar is ook verwys na die moontlike implementering van die krag-teen-kragbeleid waar ses provinsies in 'n topliga en vyf in 'n ondergeskikte afdeling sal deelneem.
Boland se prioriteit sal wees om vir die topliga te kwalifiseer sou die aanbeveling deur SA Krieket aanvaar word.
Wat betref Boland se geldsake het die tesourier, Peter Ingwersen, gesê dat daar met omsigtigheid gehandel moet word.
"Die groot verskil dié seisoen was die Wêreldbeker-toernooi en die korter seisoen. Die geld wat ons vir die Wêreldbeker-wedstryde gekry het, moet ons goed oppas. Ons wil dit graag vir die klubs gee, maar ons sal eers sake goed moet bekyk.
"Die nabye toekoms lyk nie te sleg nie. Ons beleggings lyk goed en as ons nie te veel geld aan spysenierseise moet uitbetaal nie, sal ons dit maak.
"Oor 20 jaar hou ons dalk weer 'n Wêreldbeker en dié geld moet tot dan hou," het Ingwersen gewaarsku.
In antwoord op 'n vraag van Tommy Fortuin, eienaar van Stumps Restaurant, rakende arbitrasiekoste wat hom toekom nadat 'n geskil tussen hom en Boland in sy guns beslis is, het Ingwersen openhartig gereageer.
"Die rekening word eers volgende week getakseer en dan sal ons presies weet wat die regskoste is. Wat dan ook in die finansiële state reflekteer sal word."
'n Verteenwoordiger wou weet of die Raad 'n mandaat gehad het om met die Arbitrasiesaak voort te gaan, pleks van te skik.
"Elke jaar by Boland is daar 'n geding of 'n dispuut, die dinge moet na 'n kant toe kom," is gesê.
In antwoord hierop het Paulse gesê dat "sekere dinge gedoen moet word, wat soms tot regstappe lei" maar dat 'n mandaat wel verkry is en dat die Raad op aanbeveling van hul regsadviseurs gehandel het.
Ingwersen het bygevoeg dat die kwessie van skadevergoeding vir Fortuin nog beslis moet word, maar dat die bedrag van R5 miljoen soos in die pers genoem is, neig na "sensasie".
Op ander punte is daar besluit dat die klubs se affiliasiegelde dieselfde sal bly vir die volgende jaar en het Dowe en Gestremde Krieket assosiatiewe lidmaatskap by Boland gekry.
Pietie Williams, hoof uitvoerende beampte van Boland, het Paulse bedank vir sy 12 jaar diens wat by by die Unie verrig het.
"Onder u presidentskap het Boland heelwat SA-spelers opgelewer, in 2000 die Standard Bank beker gewen en drie Wêreldbekerwedstryde suksesvol aangebied," het Williams aan Paulse gesê.
Die res van die bestuur is (addisionele lede) Gert Fortuin, Uys Moolman, Louis Smal, Len Moses, Ghalied Jacobs, Andrew Apollis, Fatieg Henry (hoërskole), Piet Krynauw (laerskole) en Simon Hugo (skeidsregters).
Volgens Williams, sal 'n tesourier vanaand verkies word. |