|
LANKLAAS was daar twee sulke ongemaklike "gevangenes" - en soveel goedige glimlagte - soos Donderdag by die Paarl polisiestasie.
Eustachia Arendse en Kherisha Segelaar, twee graad sesse van Laer Meisieskool La Rochelle, moes uit egte polisie-handboeie gehelp word.
Hul dilemma het die oggend begin toe 'n klasmaat, Charllite Philander, haar sersant-pa se boeie geleen het (darem met sy wete) vir 'n opvoering by die skool.
Charllite het ongelukkig nie die sleutels vir die boeie saamgeneem nie. En soos meisiekinders maar is, was die boeie skaars om die twee toneelspelers se polse, of hulle druk dit toe.
Angstige oproepe na pa Charles Philander by die huis het niks gehelp nie. In hul nood het die meisies blykbaar die verkeerde nommer geskakel.
Toe is daar geen ander raad nie. Die "gevangenes" moet polisiestasie toe.
La Rochelle se geamuseerde terreinbestuurder, Henry Daniels, het met groot genot die twee geboeides en hul skaam vriendin die klagtekantoor binnegelei.
Daar het polisiemanne net so breed geglimlag oor die trio se verleentheid.
Gou was die verlossing ook nie, want die eerste sleutel het nie gepas nie en 'n ouer model moes opgespoor word.
En toe is die spannetjie weer terug skool toe, met die boeie en al, want dis glo 'n belangrike deel van die opvoering "New York.com Paarl".
Sersant Philander was ook in die gehoor Vrydag, net vir ingeval.
* Two schoolgirls accidentally handcuffed together, had to be freed by the police. |