|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
|
|
|
ATLETE van HJS, Paarl Gimnasium, Hoër Meisieskool Paarl en La Rochelle het Dinsdag litte losgemaak vir die komende seisoen tydens 'n interskolebyeenkoms op Daljosafat. Hoewel daar rekening gehou moes word met 'n sterk wind, het dit nie die atlete se prestasies belemmer nie, en is daar heelwat nuwe byeenkomsrekords opgestel. Dit is net die tweede keer dat dié byeenkoms aangebied is, en 'n totaal van 40 rekords is opgestel. Een van die uitblinkers was die o.14 atleet van Paarl Gim, Louw Smit (foto), wat vier nuwe rekords in die 200mH (27,40s), verspring (6,15m), 200m (24,50s) en 90mH (12,6) verbeter het. Hy het ook die rekord in 100m met sy tyd van 12,10s geëwenaar. Smit en Marné van der Burgh van La Rochelle wat die hoogspringrekord na 1,70m verbeter het, was onderskeidelik die top seun en dogter presteerder. Gim het beide die dogters en seunsafdelings gewen. |
|
|
|
|
'N GROOT gedenktoernooi ter nagedagtenis aan die groot jukskeispeler Charl Marais word Saterdag op Worcester gehou. Marais, 'n oud-voorsitter van die Boland Jukskei-Unie, Springbokkaptein en president van Jukskei Suid-Afrika, is in Januarie vanjaar oorlede. Vanweë sy lang en roemryke verbintenis met jukskei, is dié gedenkdag na hom vernoem. Spanne van regoor Suid-Afrika sal die naweek op die Bolandse dorp kom meeding met bekendes soos die vier Marais-broers (Johan, Paul, Piet en Willem) wat vir aanskoulike jukskei sal sorg. Die provinsiale manskampioenspan in Suid-Afrika (SWD) met JT le Roux aan die spits, is ook op pad van George en omgewing. Voeg hierby nog spanne van die Kaapse Metropool en die tafel is gedek vir 'n dag se klipharde kompetisie. Spanne van die Drakenstein slyp egter hul tande vir die besoekers. Oukraal, die oudste klub in die land en wenners van die openingstoernooi twee weke gelede, gaan beslis wys waartoe hulle in staat is. Dié span is op die oomblik net 'n kortkop agter die liga-voorlopers. Die ander plaaslike spanne - Drakenstein Gevangenis, Laborie (KWV) en Fleur-de-lis (Wellington) suig kort-kort aan die agterste speen en sal graag die bordjies wil verhang. Inskrywings kan by Paul-Daniel Marais (023-344-3177) gedoen word. |
|
|
|
|
IN 'n spannende krieketwedstryd tussen die eerste spanne van Worcester United en Young Peoples kon 'n regstreekse uitslag op Daljosafat net-net nie behaal word nie. Die tuisspan teken 203/8 in sy toegelate 60 beurte aan, met Elrich Jansen (54), Bobby Nicholson (35) en Edwin Jacobs (34) wat die lopietotaal help verstewig het. Ondanks goeie boulwerk deur die Paarliete Gercian Gabriels (3/15) en Hubert Ontong (3/39) het die tuisspan verbete bly klou om hul beurt eind-uit te speel. Hulle eindig op 191/9 en dwing 'n onbesliste uitslag af. Peoples se tweede span, wat ook op Daljosafat gespeel het, kon egter meer rigting gee aan hul wedstryd teen Stellenbosch en Distrikte. Peoples se 208, met Danton Darries (48) en Gavin Karelse (34 nun) wat die voorbeeld stel, was te veel vir hul teenstanders. Die besoekers word vir 144 uitgehaal, met Frans-Loots van der Merwe (2/40), Tom-Ross Fortuin (2/42) en David Gabriels (2/28) wat die skade aanrig. Die derde span het op hul beurt 'n weghol-oorwinning behaal oor Atlantis II op Mamre. Audin Carolissen (28), Malcolm Wilson (26) en Mohammed Africa (26nun) het die boulers help kasty om die totaal van 202 almal uit te behaal. Die Paarliete het al die gapings in die veld toegestop en die tuisspan tot 164 beperk. Brett Mitchell (4/43) en Ricardo Kermis (2/49) het die paaltjies laat kantel. Saterdag speel Peoples I weg teen Hermanus, die tweede span tuis teen Vredenburg/Saldanha en die derde span 'n vriendskaplike wedstryd teen Mbekweni op Daljosafat. * In 'n wedstryd teen Vredenburg/Saldanha wat gekenmerk is deur lae tellings, teken Wellington slegs 104 lopies in hul beurt aan. Piet Koen was die Wellingtonners se voorste lopiemaker met 34. Vredenburg/Saldanha behaal die wenlopies met 9 paaltjies plat. Ryan Groeneveldt 4/37 en Joshua Swanepoel 3/30 het goed teruggeveg vir Wellington. Die tweede spanne van Wellington en Brackenfell het Saterdag hul jarelange vete op die krieketveld voortgesit. Die afgelope paar jaar was Brackenfell baas, maar in 'n spannende wedstryd het Wellington uiteindelik die bordjies verhang. Brackenfell kolf eerste en teken slegs 151 lopies aan, nadat Eugene Stapelberg verwoesting gesaai het met sy 5/41. Hy is goed ondersteun deur Patrick Jensen (3/21) en Jaco Conradie (2/28). Wellington begin aanvanklik goed met Richard Bennett (26), Richard Stroebel (29) en Wynand Lamprecht (27). Hierna het Brackenfell egter teruggekom en uiteindelik teken Wellington die wenlopies aan met 7 paaltjies plat. Wellington III kolf eerste teen Klapmuts en teken 291 lopies aan. Nicolaas Basson blink uit met 104 lopies en Andy Ivill met 61. Die boulwerk van Wellington was net te goed vir Klapmuts en hulle word uitgeboender vir slegs 91 lopies. |
|
||||