|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
|
|
|
DIE volgende uitvoering in die reeks konserte op La Motte Wynlandgoed, Franschhoek, vind plaas op Saterdag 14 September om 19:00 wanneer die violis Zanta Hofmeyr optree. Hofmeyr, tans mede-professor aan die Musiekdepartement van die Universiteit van Pretoria, vervang Sarah Oates wat weens 'n handbesering haar optrede moes kanselleer. Zanta Hofmeyr het as student al die vernaamste musiekpryse in Suid-Afrika gewen. Sy het aan die beroemde Julliard Musiekskool in New York studeer waar haar onderwyser Dorothy Delay, een van die wêreld se mees vooraanstaande pedagoë was. Haar program op La Motte bestaan uit die Sonate in D Majeur van Leclair, die Sonate vir viool en klavier deur Ravel, Vier Stukke deur Suk en Chausson se Poème. Sy word deur Elna van der Merwe begelei. Kaartjies vir die uitvoering is beskikbaar deur Comari Lategan by 876-3119 te skakel. Ná afloop van die uitvoering kan konsertgangers 'n vingerete en van die landgoed se uitsoekwyne geniet. |
|
|
|
|
DIE bekende groep Eden tree eersdaags in die Paarl en Wellington op. Vrydag 13 September is hulle by Boland-stadion op Wellington en Maandag 16 September in die Polisiekollegesaal in die Paarl. Die program begin om 19:00 en kaartjies is R30 elk. Kaartjies vir Wellington is by Sonja 082-639-0461 en vir die Paarl by Annaline Hopkins (083-591-2124 of 874-1313) of Ralie Malan (864-0351). Eden is Suid-Afrika se antwoord op die boyband-manie wat die musiekwêreld getref het. Daar is wel een verskil: Eden sing ook in Afrikaans! Eden bestaan uit Sean, Jaco, Johan en Paulo. Sean is 'n gevestigde akteur (tans in 7de Laan) en Jaco het uitgebreide ondervinding van musiekteater (Rocky Horror, Josef, ens). Hy was ook saam met Joe Niemand, laasjaar se Crescendo wenner. Beperkte staanplek vir stalletjies is nog beskikbaar vir Boland-stadion (082-639-0461). |
|
|
|
|
DIE kerkkoor van Studentekerk op Stellenbosch onder leiding van Louis van der Watt sing Saterdagaand om 19:30 in Toringkerk. Die uurlange a capella program bestaan uit gewyde koorwerke wat oor drie eeue strek, en sluit werke van Rachmaninoff, Randall Thompson, Bruckner, Schütz, Tchaikovsky en ander in. Hulle sing ook twee motette wat Pieter de Villiers spesiaal vir die koor gekomponeer het op tekste uit Hebreërs 10 en 11. Canticum Novom is die enigste kerkkoor in die land wat permanent verbonde is aan 'n studentegemeente, en is ook een van slegs 'n paar kerkkore wat gereeld op die konsertverhoog uitvoerings lewer. Toegang is R10 (kinders R5) by die deur. |
|
|
|
|
VIER neefs en niggies van die Vallei het onder die top twaalf groepe in die Thyra 2002 Gospelmusiek-kompetisie in Kaapstad geëindig. Lionel Maharajah, sy suster Melony, neef Elton Carolissen en niggie Alicia Thomas het sowat vier maande die groep Zebedee gevorm. Toe skryf hulle in vir Thyra en behaal twee goue toekennings in die uitdunne. "Die beoordelaars het ons gevra om nog iets te speel en toe kry ons sommer nóg goud," vertel 'n opgewonde Lionel. Lionel, 'n graad 11-leerder aan die Hoër Jongenskool Paarl, het ook hoogste lof verdien in die afdeling vir eie komposisies. Hy en Melony is albei by die Frank Pietersen Musieksentrum, waar hy lesse in akoestiese kitaar neem. Hy speel ook elektriese kitaar en sing. Melony is 'n tromspeler. Sy en Alicia, wat die groep se hoofkitaarspeler is, het albei reeds die skoolbanke vaarwel geroep. Neef Elton, in graad tien by Bergrivier Hoër, speel die baskitaar. As deel van hul prys by Thyra, gaan hulle later vandeesmaand saam met die ander wenners 'n CD maak. Die musiekgogga het die vier nou behoorlik gebyt en die Vallei gaan beslis meer van hulle hoor in die toekoms. Vir navrae oor die groep of optredes, skakel hulle by 862-1252 of 082-4103-084. |
|||
|
|||