safetop
ppostgothic
uitleg2mouthpiece
uitlefstreep

Thursday 5 September 2002

uitlefstreep

This site will be updated on: 12 September 2002 at 17:00

b_home
fb_news
b_people
fb_lifestyle
fb_arts
fb_sport
br_schools
fb_letters
fb_business
fb_property
b_vacancies
b_classifieds
fb_archives
fb_aboutus
fb_advertise
printing
homeads
fb_touristinfo
fb_businessindex
fb_organisations
fb_contact
fb_search
Google

Search WWW
Search Paarlpost
 

Sport


wskop36BESTE MAN. Die Boland Kavaliers se heelagter, Leon van den Heever, kry 'n tikskop weg voordat hy deur 'n Griffon-verdediger platgetrek word. Van den Heever het 'n driekuns drieë gedruk en twee doelskoppe oorgesit. Hy is as speler van die wedstryd aangewys. Die Kavaliers het 44-19 gewen. Foto: Leon Steenkamp


Paarwater gaan rig in Italië af

[ Top ]


DIE afrigter van die Bolandse Kavaliers, Jerome Paarwater, verlaat eersdaags Wellington om oorsee te gaan afrig.

Paarwater sal net tot einde September by Boland betrokke wees, waarna hy na Italië sal vertrek om by die klub Viadana af te rig.

Die Bolandse breier het 'n kontrak vir drie jaar geteken.

"Viadana is die huidige klubkampioene van Italië en hulle speel in die Heineken bekerkompetisie wat soortgelyk is aan ons Super 12.

"Dit is vir my 'n groot geleentheid en as ek goed doen met my span daar, kan dit baie deure vir my oopmaak beide oorsee en miskien in Suid-Afrika," het Paarwater gesê.

Behalwe vir die blootstelling en ondervinding wat sy oorsese ervaring hom sal bied, hoop Paarwater dat dit ook sal wegdoen met 'n wanpersepsie rondom gekleurde afrigters in SA.

"Daar is nog mense in hierdie land wat 'n wanpersepsie het dat afrigters van kleur net in die naam van transformasie hierdie poste beklee.

"Ek hoop dat as ek 'n sukses oorsee maak, en terugkom Suid-Afrika toe, dié mense met verskillende oë na my sal kyk," verduidelik Paarwater.

Ná sy vertrek sal die Kavaliers in nog twee Curriebekerwedstryde speel.

"Denver Pienaar en Errol Tobias, is al 'n geruime tyd betrokke as hulpafrigters en hulle sal die span onder hande neem."

Paarwater se voorganger, Rudy Joubert, sal ook tydelik hand bysit.

Die Boland Rugbyunie was vandeesweek nog besig om onderhoude te voer met gekose kandidate wat die Kavaliers voortaan sal brei.

Maak of breek

"Ek het nooit regtig bedreig gevoel nie. Die Griffons speel altyd vir dood in die eerste 20 minute maar ek het geweet ons sal in die tweede helfte ons punte aanteken," het Paarwater oor die Kavaliers se 44-19 oorwinning oor die Griffons gesê.

Die span van Wellington sal egter Saterdag in Oos-Londen teen die Bulldogs van Grens dié vertoning moet herhaal as hy enigsins nog wil aanspraak maak op plek in die Top Ses.

"Ons benader die wedstryd teen die Bulldogs soos 'n finaal, want dit is maak of breek. As ons volpunte kry dan is ons so te sê deur en hang dit af van wat die Valke en Griekwas doen," sê Paarwater.

Boland en die Valke het altwee tans 10 punte, maar die Valke se situasie lyk effens beter aangesien daar minder punte teen hulle aangeteken is.

"As die WP Vrydagaand 'n groot telling teen die Valke op Nuweland kan aanteken, dan staan ons 'n goeie kans."

Die heelagter, Lean van Dyk, wat die afgelope twee weke met 'n ligte liesbesering gesukkel het, het tydens Dinsdag se oefening dit verder beseer en sal vir die volgende drie tot vier weke op die krukkelys wees.

Die Kavaliers het egter 'n meer as bekwame plaasvervanger in die vorm van Leon van den Heever, wat Saterdag 'n skitterwedstryd vir die Kavaliers gehad het en drie drieë gedruk het asook met twee doelskoppe geslaag het.


Breier tevrede met Boland se goeie krieketvertoning

[ Top ]


HUL belegging in die Indiese kolwer, Vinod Kambli, lyk of dit reeds vroeg vir die Boland krieketspan kan vrugte afwerp.

Kambli het tydens 'n driedaagse vriendskaplike wedstryd tussen Boland en WP op Worcester 'n onoorwonne 51 lopies gemoker.

Hoewel hael en sneeu verhoed het dat die wedstryd Vrydag kon begin, het die spelers wel kans gekry om Saterdag en Sondag litte los te maak.

Boland het die loot gewen en besluit om eerste te kolf. Danksy groot beurte deur openingskolwers Gerhard Strydom (41) en Andrew Cyster (41), Kambli asook Steve Palframan (41) het Boland sy 95 beurte op 245/8 gesluit.

Die onbesliste wedstryd het Sondagmiddag geëindig met die WP op 189/8.

Volgens Deon Muller, afrigter van die Boland, is hy baie tevrede met sy span se vertoning.

"Ons hoofdoel was om die kolwers genoeg tyd op die blad te gee en om te werk aan die opbou van groot vennootskappe. Feitlik elke vennootskap het uit minstens 30 lopies bestaan," het Muller gesê.

Hy het met groot lof van die Indiër se spel gepraat.

"Dit was fantasties om hom te sien kolf en die tipe houe wat hy gespeel het, was inspirerend. Hy het ook entoesiasme by al die ander spelers ontlok."

Muller het bygevoeg dat hoewel Kambli nog maar kort hier is, dit voel of hy al 'n jaar deel van die span is.

"Hy deel sy ervaring en kennis omtrent die spel met die jonger spelers en is al reeds heeltemal op sy gemak in die span."

Muller was ook ingenome met die diens wat sy boulers gelewer het.

"Die boulers het 'n goeie lyn geboul en van die begin af hul ritme gevind. Dit is verblydend om te sien dat die maand en 'n half wat ons al saamwerk al was dit binnenshuis, begin tel. Die manne speel met dissipline en dit voorspel goeie dinge."

Die Boland oefengroep vertrek Woensdag na Vredenburg vir 'n oefenkamp waartydens die A- en B-span ook in 'n wedstryd teen mekaar te staan sal kom.


Grootste pak nog vir Young Peoples

[ Top ]


HOEWEL Saterdag 'n geskiedkundige oomblik vir die eerste span van Young Peoples ingehou het, was dit geensins 'n dag wat die Paarliete kon vier nie.

Peoples het die naweek op Daljosafat sy grootste nederlaag gely in sy 107-jarige bestaan nadat hy 48-15 teen Young Stars verloor het.

Hoewel die Paarliete reeds 20-10 agter was met rustyd, het die Peoples-spelers aan die begin van die tweede helfte nog gelyk of hulle 'n haas of twee uit die hoed kon trek.

Maar kort daarna het Stars die krane oopgedraai en die Tiere se tande maklik-maklik getrek.

Die tuisspan se verdediging was pateties, met net die senter, Sam Titus, wat kon aanspraak maak op 'n dag se goeie lakwerk.

Die vleuels Charles Booysen en Jacques Lategan het vir Peoples gedruk, met Andrew Victor wat met 'n doel- en strafskop geslaag het.

Peoples lê vierde op die Premierliga A punteleer met 46 punte. Hulle sal egter in die oorblywende paar wedstryde steeds maksimumpunte wil insamel om aan die posisie te klou.

Hoewel dit aanvanklik gelyk het of Albions Saterdag op Daljosafat teen Hamlets gaan vasval, het die Paarliete goed teruggeveg na 'n insinking in die eerste helfte.

Albions se Elrico Petersen (11) het vroeg in die wedstryd gedruk, waarna Hamlets die wind goed tot hul voordeel gebruik het.

Die besoekers teken twee doele en 'n drie aan om sowat 'n kwartier voor rustyd 19-5 voor te loop.

Maar Albions het nie gaan lê nie en nadat Christopher Andrews (2) en Ju-Wayne Cyster (14) druk en John Adriaanse (plaasvervanger-senter) met 'n doelskop slaag, gaan drink die manne water met die telling op 19-17.

In die tweede helfte was dit Albions wat met die wind van agter kon baljaar met veral die skrumskakel, Fadel Moerat, wat aan die voorpunt van die taktiese aanvalle was.

Hamlets gaan kuier weer in die doelgebied maar nog twee drieë deur Gamaine Poggenpoel (12) en die plaasvervanger-heelagter, Lincoln du Preez, was genoeg om Albions 'n oorwinning van 27-26 te besorg.

Poggenpoel is as speler van die wedstryd aangewys, terwyl die lostrio ook die oog gevang het.

* Young Gardens sak al dieper weg in hul stryd om hul plek in die Premierliga A te behou, nadat hul die naweek in 'n wegwedstryd 20-8 teen Strand United verloor het.

Een van die min ligpunte was die vertoning van die loskopstut, Kobie Wellington, wat met sy kragtige lopies, baie posisie vir sy span verseker het.

Gardens se punte is aangeteken deur Charles Johnson wat gedruk het, en Chesley Theo wat met 'n strafskop geslaag het.       


Speler soek rugbyheil oorsee

[ Top ]


'N TALENTVOLLE rugbyspeler van die Paarl, Fadel Moerat, vertrek eersdaags na Engeland om sy rugbyloopbaan daar voort te sit.

Die 19-jarige Moerat, wat die afgelope seisoen 'n staatmaker was vir die Albions Rugbyklub, vertrek Woensdag om vir die Engelse klub, Barking, in Essex te speel.

Dié jong Paarliet het regdeur sy skoolloopbaan in sport uitgeblink.

Terwyl hy by New Orleans Primêr skoolgegaan het, het hy die Boland verteenwoordig in atletiek, swem en basketbal en ook rugby vir die Paarl Unie gespeel. Daarbenewens het hy ook krieket gespeel en was hy ook 'n prefek.

"Ek was altyd bevoorreg om tradisionele raad van my oupa en pa te kry," sê die kookwater-skrumskakel, wie se voorvaders ook altwee die nommer nege trui in hul dae gedra het.

Op hoërskool het hy op die leerlingraad van Klein Nederburg Sekondêr gedien en ook in 1999 en 2000 in die eerste krieket- en rugbyspan gespeel.

Hy is ook in die Boland-Sentraal o.18 rugbyspan opgeneem en het aan die Cravenweek-proewe deelgeneem.

Ná skool het hy vir onderskeidelik die Kaapse Technikon o.19, Tuine Technikon o.21 en A-span uitgedraf en is ook genooi om aan die Stormers o.21 proewe deel te neem en is in die WP o.19 oefengroep opgeneem.

Hoewel hy op skool op skolerugby gefokus het, het hy as junior gereeld vir Vineyards uitgehelp. Hy is egter deur die WP assistent-afrigter, Jarred Watts, wat Albions aan die begin van die jaar afgerig het, oortuig om by dié klub aan te sluit.

"Dit was 'n goeie skuif, aangesien Albions in die Premierliga A speel," sê Moerat.

Sy pa, Maawiyah, bly al vir die afgelope jaar in Engeland. Dit is hy wat met Fadel se CV by al die plaaslike rugbyklubs begin omgaan het, en vir hom die kontrak van een jaar by Barking, 'n voederklub vir Saracens (die klub waar Francois Pienaar gespeel en afgerig het) gekry het.

"Dit was nog altyd my droom om beroepsrugby te speel en nou is dit uiteindelik bewaarheid.

"Ons voorouers het nooit sulke geleenthede gekry nie, en ek voel dat so 'n geleentheid met albei hande gegryp moet word. Ek voel dat ek groot sukses oorsee kan behaal," het 'n opgewonde Moerat gesê.

Hoewel sy kontrak voorlopig net vir 'n jaar is, hoop hy om sy merk oorsee te maak.

"Ek sal nooit my geboorteplek vergeet nie, maar ek het al hard gespeel om in die provinsiale spanne te kom, en voel dit is tyd om na groener weivelde te beweeg."


BHS, Gym take sevens

[ Top ]


THE Stellenbosch University hosted fast-paced sevens action Saturday as school teams competed in the Western Province and Boland leg of the Spur Schools Sevens Series.

Paarl Boys' High convincingly won the u.19 Cup final against a combined Strand/Rusthof Secondary School side by 24-5.

Paarl Gymnasium took the u.16 cup after beating Bellville High 33-7.

The Gymmies' advance to the final saw them convincingly beating the teams of Langeberg (50-0), Bulumko (38-0) and Cloetesville (42-0) in the qualifying games after which they finished off with Bellville THS (24-14) in die quarter finals and Bergrivier (31-5) in die semi-final.

The team, led by the talented, Ashley Johnson, scored 36 tries and conceded only four.

Jean Stemmet of Gym was named most valued u.16 player of the tournament.

In the u.14 Cup competition, Paul Roos ran away with a 24-0 victory over Brackenfell. The most valued player was Paul Roos's Lance Hannie.

The Spur Schools Sevens Series is the first official schools sevens tournament and is endorsed by SARFU. The tournament is held in ten regions countrywide.


Gelykop derby vir Paulus, Noorder-Paarl

[ Top ]


DIE derby-stryd tussen Paulus Joubert Sekondêr en Noorder-Paarl Sekondêr het Donderdag op 'n anti-klimaks ten einde geloop. Albei spanne moes met 'n gelykop uitslag van 3-3 tevrede wees.

Mens kan nie help om te wonder of die wedstryd meer van 'n skouspel sou gewees het, as die spanne minder behep was om die man eerder as die bal te speel nie.

'n Oorvloed strafskoppe is aan beide spanne toegeken, met beide die nommer vyf slotte van elke span wat in die eerste helfte afgestuur is.

Paulus het met sy groter pak voorspelers telkens die skrums op Noorder-Paarl se ingooi geswaai.

Die flank Fabian Carter het met 'n paar sterk stormlopies deurgaans goeie veld vir Noorder-Paarl gewen, terwyl Paulus se senters, Simon Philander en Joseph Dirkse asook die vleuels met bedrieglike jakkalsdraaie hul teenstanders se verdediging getoets het.

Nie een van die spanne kon egter momentum optel nie en teen rustyd was die telling net 3-0, nadat David Adams (13) van NP met 'n strafskop geslaag het.

Met sowat 20 minute van die tweede helfte verstryk, het Philander sake gelyk gemaak met 'n strafskop.

Minute later is 'n strafskop aan Paulus Joubert toegeken op omtrent dieselfde plek waar Philander met sy vorige skop geslaag het, maar ongedissiplineerde spel het die skeidsregter genoodsaak om sy beslissing om te keer en NP kon skop vir posisie.

Kort daarna kry Philander egter weer kans met 'n betreklik maklike strafskop, maar mis.

In die doodsnikke van die wedstryd val Paulus Joubert verbete aan en dryf hulle so byna oor NP se doellyn, maar die verdediging hou en die eindfluitjie blaas.


[ Top ]

Tel: (021) 871-1170 - e-mail: edit@ppost.co.za