|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
|
|
|
Newtons verslaan Darling DIE eerste rugbyspan van Newtons het Saterdag met 'n grootse poging geslaag deur Darling op Moorreesburg met 'n 23-16 telling te verslaan. Hiermee dring hulle deur na Saterdag se half-eindstryd van die Superliga-B kompetisie teen Stanford op Boland Stadion in Wellington. Die wedstryd teen Darling, wat erg spannend verloop het, is eers in ekstra tyd beslis, toe Newtons se bulslot, Rod Demas, na 'n breekslag van heelagter Alrich Muller, neffens die pale oor is vir 'n vyfpunter. Albei spanne se puik verdediging het uitgestaan in dié titaniese wedstryd en veral Newtons se voorhoede, met veteraan-agsteman Nugan Williams aan die spits, het hul teenstanders telkens in die grond geboor. Renfred Dazel, losskakel, het Newtons se rekening geopen met 'n strafskop waarna Darling se vleuel met twee strafskoppe slaag. Kort voor rustyd klits Dazel nog 'n strafskop oor wat die rustydtelling op 6-6 bring. Met aanvang van die tweede helfte druk albei spanne twee drieë waarvan die doelskoppe onsuksesvol is. Razor Manuel, Newtons senter, teken dié tien punte aan. Met 'n 16-16 gelykoptelling het albei spanne verwoed aangeval om die wenpunte aan te teken, maar kon nie mekaar se verdediging in amptelike speeltyd priem nie. In die ekstra tien minute druk Newtons se Rod Demas met hulp van hul impakspelers en Renfred Dazel verdoel. Newtons wen 23-16. Die senterpaar van Razor Manuel en Jonathan Schalkwyk, o.19 Bolandspeler, heelagter Muller en losvoorspelers Clayton Hendricks en Nugan Williams het uitblinkspel gelewer. Gardens wen ELSIESRIVIER het Saterdag die onderspit gedelf teen die rugbyspan van Young Gardens. Gardens wen 24-22. Reeds in die vyfde minuut van die eerste helfte het die Rooi Rose agter Elsies se doellyn gekuier toe 'n perfekte agterlyn beweging afgerond is deur Anwar Daniels. Gardens het die eerste dertig minute oorheers, maar te veel hanteerfoute het verhoed dat nog drieë aangeteken kon word en die Gardens-span moes tevrede wees met twee strafskoppe om die telling kort voor rustyd 11-0 te maak. Swak verdediging aan Gardens-kant het veroorsaak dat Elsies 'n gelykop rustydtelling kon vermag met elf vinnige punte. Vroeg in die tweede helfte teken Elsies 'n skepdoel aan, maar goeie aanvalswerk deur die Gardens voorhoede met Jeremy September aan die spits verseker 'n tweede drie deur Gardens se Arnold Fortuin. Twee verdere strafskoppe deur Andrew Jacobz verseker die Rooi Rose se oorwinning. September is as speler van die wedstryd aangewys. Die tweede span wen 22-7 en die derdes behaal 'n 12-7 oorwinning. Young Gardens speel Saterdag weer tuis teen Hamlets. Wedstryde begin om 13:25. Standards val teen Blakes vas UITHALER-RUGBY en skitter-breekslae het Saterdag se rugbywedstryd tussen Young Standards en Blakes gekenmerk. Blakes wen 20-15, nadat Standards vir lank die botoon gevoer het. Standards senter Brent Martin het vroeg in die eerste helfte met 'n vinnige breekslag die bal aan Brendon van Schoor uitgegee, wat in die hoekie gaan druk het vir die eerste punte van die wedstryd. Aanvanklik het Standards die spel oorheers met veral die voorhoede wat die oorhand gekry het. Die rustydtelling was 8-3, ná Bevan Francis 'n strafskop oorgeklits het. Met die afskop van die tweede helfte het Blakes verwoed aangeval, maar 'n blaps deur hul agterlyn het Brent Martin in staat gestel om die bal te onderskep en langs die paal te gaan druk. Francis verdoel vir 'n 15-3 telling. Blakes teken 'n drie aan na vernuftige samewerking tussen die voor- en agterspelers en verdoel. Onoordeelkundige skopwerk het Standards se ondergang bewerkstellig in teenstelling met Blakes wat 'n moeilike strafdoel kon oorskop. Met speeltyd reeds verstreke het Blakes vir 'n welverdiende drie oorgeval en die eindtelling op 20-15 laat staan. Die tweede span wen 18-12 en die derdes behaal 'n 22-5 oorwinning. Saterdag speel Standards teen Paarl Violets. Albei spanne beklee 'n tweede plek op die WP Premier-C liga en sal nou so hard moontlik veg om deur te dring na die Premier-B liga. * Young Standards vier op 5 en 6 Oktober hul 110de bestaansjaar met verskeie wedstryde teen Young Peoples. Wedstryde begin om 17:00 op Vrydag 5 Oktober in die afdelings o.12, o.14, sewes en oor 40 en 35 jaar. Die eerste span begin 6 Oktober om 16:00 speel, met die derdes, tweedes en vroue wat vroeër speel. |
|
|
|
|
DIE Tour de Boland fietswedren vind Saterdag plaas. Die deelnemers spring in Worcester weg en trap die pedale oor 'n roete van 228km wat deur die Paarl en omgewing kronkel. Die eerste skof eindig op Wolseley en die tweede skof kom in Klein Drakensteinweg, Paarl, om 11:00 tot 'n einde. Die roete strek dan verder tot Villiersdorp en dan weer na Worcester. 'n Wedren vir o.16 ryers vanaf Paarl deur Villiersdorp na Worcester begin om 11:00 en plaaslike deelnemers Lucian Adonis (Yorkshire fietsryklub), Nolan Hoffman en Verdi Pharao (Rhadsport fietsryklub) sal meeding om top plekke. In die hoofwedren sal Ricardo Heneke, Garth Thomas, Ryno Martin, Byron Kulsen en Ruan Theron die voortou neem. Skakel Howard Heneke by 072-136-0881 vir meer inligting rakende die Tour de Boland se roete deur die area. |
|
|
|
|
DIE Paarl Kushengelklub het Saterdag hul eerste Boland interklubkompetisie afgehandel en onder plesierige weersomstandighede die algehele tweede plek behaal. Al was die weer perfek wou die vis net nie byt nie. Okkie Gerber, Johan la Grange en Morné Esterhuizen het elk bygedra tot die A1-span se poging terwyl Frans Claassen baie goed presteer het in die B3-span. Die volgende kompetisie vind op 13 Oktober in Struisbaai plaas. |
|
|
|
|
DIE eerste rugbyspan van Paarl Novel Ford het Saterdag teen 'n begeesterde Lagunya te staan gekom en 'n 37-5 oorwinning behaal. Paarl druk niks minder nie as vyf drieë en bevestig hiermee dat hul op pad is om die eens magtige naam van Paarl Rugbyklub in ere te herstel. Driedrukkers vir Paarl is Marco Martin (2), Altus Esterhuizen, Riaan Ehlers en Matthys Bothma. Jacques Hendricks het met drie verdoelskoppe en twee strafskoppe geslaag. Die tweede span wen 29-0 en die derdes wen 26-0. * Albions se eerste span het Saterdag verloor teen Belhar met 'n telling van 24-30. Enrico Petersen druk twee drieë en Ju-Wayne Cyster druk 'n enkele vyfpunter. Senter Marius Claasen slaag met 'n skepskop en heelagter William Daniels was in die kol met drie doelskoppe. Albions speel Saterdag tuis teen Primrose. Wedstryde begin 13:25. |
|
||||